Ek sluit dan ons kort reeks oor musikante af met ‘n plaaslike kunstenaar, die welbekende Laurika Rauch. Van al haar mooi musiek, wil ek vandag graag gesels oor die snit, Hot Gates. Geskryf deur haar liedjieskrywer-man Christopher Torr, bestaan Hot Gates hoofsaaklik uit plekname van dwarsoor die wêreld, 58 om presies te wees.  En terwyl dit nie ‘n tradisionele aanbiddingslied is nie, is die Christelike elemente oorweldigend, soos jul sal hoor.

UIt die staanspoor is dit belangrik om te besef dat hierdie lied ook ‘n gedig kan wees.  Eerstens het Chris nie sommer net willekeurig ‘n klomp plekname agtermekaar ingeryg nie.  Tweedens bestaan elke reël uit sewe lettergrepe en maak hy gebruik maak van eindrym, alliterasie, en assonansie.  Teen die einde van die lied raak sy klanke eksplosiewer.   Dink maar aan die slagvelde Balaklava en Austerlitz asook die konsentrasiekampe – Belsen, Buchenwald, Auschwitz[1]

Met die eerste luister, het ek die geografiese verband tussen die verskillende plekke verseker gemis, en ek wil nie hê julle moet dieselfde fout maak nie.  Dus gaan ek vlugtig by soveel van die reëls stilstaan as wat die tyd ons toelaat.

Die lied begin met London, Paris, Rome, Berlin…. Ook ek het met die eerste aanhoor gedink daar word gesing oor wêreldstede, bakens van die Westerse beskawing, maar soos wat die lied aangaan, besef mens baie vinnig daar is ‘n ander tema.   Regdeur hoor ons plekname uit die Tweede Wêreldoorlog en slagvelde uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis.  Dis dan wat mens besef dat elke plek wat hier genoem word, ‘n tipe slagveld is wat mense se lewens onherroeplik aangeraak en verander het.

Elke keer wanneer ek die lied hoor, probeer ek onthou wat by elke plek gebeur het, en hoekom hierdie spesifieke name gekies is.  Soos reeds genoem, het heelwat plekname hulle oorsprong in die Tweede Wêreldoorlog, name wat massavernietiging op groot skaal uitbeeld, soos Dunkirk, Dover, Normandy, Austerlitz, Belsen, Buchenwald, Auschwitz, Hiroshima en Nagasaki.

Die reël, Waco, Waco, Bethlehem, is veral gelaai met simboliek.  Waco in ‘n plekkie in Texas VSA waar ‘n sekteleier, David Koresh, homself as die nuwe Messias verklaar het. Hy het van sy mede sektelede swanger gemaak, selfs meisies jonger as veertien jaar.  Wanneer die Amerikaanse regering ingryp, sterf 76 van die kommune se lede.  Deur Waco Waco langs Bethlehem te plaas, die selfaangestelde Messias se woonplek langs die geboorteplek van die ware Messias, hoor ons ‘Waco awake’ o Bethlehem, skryf Jenny Boon.[2]  Nie net was daar onskuldige lewensverlies met die geboorte van Jesus in Bethlehem deur Herodus nie, maar dit waarsku ook elke volgeling van die ware Messias om wakker en op hulle hoede te wees vir vals profete, soos David Koresh.

As Suid-Afrikaanse liedjieskrywer, neem Chris verskeie van die 58 name uit ons eie geskiedenis.  Amajuba was ‘n slagveld in die Anglo-Boere oorlog, by Heilbron was daar ‘n konsentrasiekamp en op St. Helena is boere krygsgevangenes gehou.  Sharpville, Boipatong en Mitchellsplein was almal brandpunte gedurende die Struggle jare en talle onskuldige slagoffers het hier hulle lewens verloor.  My Lai, is die naam van ‘n nedersetting in Suid-Vietnam waar Amerikaanse burgers hulle skuldig gemaak het aan ‘n massamoord van ongeveer 347 brugerlikes op 16 Maart 1968.

Die drie plekname, Frankfurt (in Duitsland), New York (in die VSA) en Lockerbie (in Skotland), in een reël is aangrypend. Op 22 Desember 1988 vertrek ‘n volgepakte vlug Amerikaners van Frankfurt vir Kersfees na New York.  Daar was egter ‘n bom aanboord en wanneer dit in die Skotse lugruim ontplof, stort hulle neer in Lockerbie waar ‘n tweede ontploffing veertig huise verwoes.  Altesaam 270 mense sterf in die terroriste aanval van Libië op Amerika.

Die strofe word afgesluit met die reël, Chappaquiddick en Waterloo.  Dis in Chappaquiddick waar Ted Kennedy, die bekende Amerikaanse senator en sy minnares, Mary Jo, een nag van ‘n brug afry.  Terwyl hy die ongeluk oorleef, verdrink sy.  By Waterloo verloor Napoleon en sy Franse troepe teen die Hertog van Wellington en kort daarna word hy verban.  Maar met die slim plasing van die twee name langs mekaar, insinueer Chris dat Chappaquiddick, Ted Kennedy se politieke Waterloo was.

Dan is daar die voorlaaste pleknaam – Armageddon, die enigste naam wat nie op ’n wêreldkaart verskyn nie. Volgens Openbaring, sal die laaste veldslag tussen goed en kwaad hom hier afspeel – ‘n stryd wat nog voorlê.

Tog is dit die hoop van die slotkoorgedeelte wat verseker die grootste indruk op my maak. Die strydlustige geskiedkundige Jerusalem van die eerste strofe word nou gekontrasteer met die Nuwe Jerusalem in hierdie laaste koorgedeelte.   En soos wat ons met die Jerusalema dansuitdaging begin het, eindig ons vandag met die hemelse Jerusalem en die hoop wat dit bring.

“There’s another song that will be sung
There’s another bell that must be rung
There’s another city I’ve been told
Where the streets are paved with gold”

Na die eindelose pyn, menslike lyding, onheil en geweld wat elke stad en pleknaam by ons oproep, word daar nou ‘n nuwe lied gesing en nuwe klokke hoor lui, want in die nuwe Jerusalem wag die bruilofsfees van die Lam op elke gelowige. ‘n Nuwe era van vrede en vreugde word ingelui.

Luisteraars en met hierdie pragtige klokkespel van hoop in my ore en in my gemoed, groet ek.  Tot ons weer gesels, leef hartlik teenoor mekaar en reik uit na die mense om jou.  Wat ‘n voorreg is dit nie om die liefde en genade van ons Here Jesus met ander te deel nie.  Lekker luister!

 

 

[1] soshanguve.files.wordpress.com ›

[2] soshanguve.files.wordpress.com ›

Share This