Ons derde sanger in hierdie kort reeks oor musikante wat deur die Here gebruik is om Sy Naam te verheerlik, is Kris Kristofferson.  Gebore op 22 Junie 1936 is hierdie Amerikaanse sanger, liedjieskrywer en akteur bekend vir talle treffers, soos “Me and Bobby McGee”, “Sunday Mornin ‘Comin’ Down” en “Help Me Make It Through the Night”. Die meeste van hierdie sekulêre liedere is natuurlik bekend gemaak deur ander kunstenaars, want aanvanklik het Kris eerder geskryf as wat hy self gesing het.   

Dit was vir my interessant toe ek besef dat sy sukses as liedjieskrywer iets te make het met sy twee grade. Hy verwerf sy BA graad in die letterkunde cum laude en daarna vertrek hy na Oxford met ‘n Rhodes beurs waar hy in 1960 ook ‘n graad in Engelse literatuur kry.    

Kris se familie was in die militêre diens en onder druk van hulle sluit hy na sy studies by die Amerikaanse weermag aan.  Hy het vining gevorder tot die rang van kaptein, waarna hy homself as helikoptervlieënier onderskei. Uiteindelik kry hy ‘n aanbod om Engelse letterkunde aan ‘West Point’ te onderrig.  Hy wys egter die aanbod van die hand en verlaat die weermag.  Hy was nou gereed om sy droom te volg en voltyds musiek te skryf.  Wikipedia berig dat sy besluit om die Amerikaanse weermag te verlaat, groot ongelukkigheid in sy familie veroorsaak het en dat dit onduidelik is of hulle versoen het.   

Kris verhuis nou na Nashville, waar hy alles in sy vermoë gedoen het om gehoor en gesien te word deur die regte mense in die musiekbedryf.  Sy eerste werk was om die vloere in ‘Columbia Recording Studio’ te vee. Hy het egter vinnig besef dat hy nie gaan oorleef nie en het begin om as ‘n kommersiële helikoptervlieënier te werk.  Dit het hy vir drie jaar gedoen voor hy bekend genoeg was om met konsertoptredes te begin.  In 1970 het hy twee erkennings in Nashville van twee verskillende organisasies ontvang vir twee van sy liedjies wat hy geskryf het – beide is onderskeidelik as lied van die jaar aangewys en Kris Kristofferson is bekroon as liedjieskrywer van die jaar.  Hy het ook in verskeie rolprente gespeel, maar is veral bekend vir ‘Alice doesn’t Live Here anymore’ (1974) en ‘A Star is Born’ (1976).  Vir laasgenoemde het hy ‘n Golden Globe-toekenning as beste akteur ontvang. 

In 1985 begin Kris saam met musieklegendes soos Johnny Cash en Willie Nelson – dis nou die man met die mooi vlegsels, die supergroep, ‘The Highwaymen’. Hierdie groep het verskeie treffers gehad, maar elke lid het ook voortgegaan met hulle solo optredes.[1]  

Tog wil ek vandag graag fokus op Kris se Christenskap.  In 1971 kom hy tot bekering by Pastoor Jimmie Rogers Snow se kerk. Ek wens ek kan die onderhoud waar hy sy getuienis gee, vir julle speel, maar julle gaan tevrede moet wees om na my vertelling daarvan te luister.  As julle na my blogsite, www.avividlife.co.za gaan, sal julle die link daar kry.  

Wat ook besonders omtrent hierdie getuienis is, is dat hy daar optree saam met die enigste oorblywende lid van hulle groep van The Highwaymen, Willie Nelson.  Absoluut kosbare beeldmateriaal.[2]

Kristofferson vertel in die insetsel, dat hy deur ‘n vriendin na ‘n kerkdiens genooi is.  Hier het ‘n lied, ‘Help Me (Lord)’ hom diep aangeraak.  Hy self het nie besef dat hy hulp nodig gehad het nie, alhoewel hy noem dat hy op ‘n absolute laagtepunt was.  Hier wil ek net myself onderbreek.  Ek het nie geweet dat hy in ‘n verhouding met die legendaries Janis Joplin was ten tyde van haar heroin oordosis in 1970, net ‘n jaar voor sy bekering, nie. 

Daardie oggend laat die predikant sy gemeente op hulle knieë gaan en vra hy dat hulle hulle oë toemaak.  As daar iemand is wat verlore voel, het hy voortgegaan, moet hulle asseblief hul hand opsteek.  Nou Kris, in sy eie woorde, erken dat hy weinig in die kerk gekom het en dat die idee om jou hand op te steek, heeltemal buite die kwessie was.  Terwyl hy nog daar sit en wonder wie so iets sou doen, toe voel hy hoe sy eie hand in die lug opgaan.  Hy het net gehoop niemand het dit gesien nie, maar toe roep die predikant elkeen vorentoe wat hulle lewens vir die Here wil gee. Hy self kon dit nie glo toe hy besef hy stap in die kerkpaadjie af voor al die honderde mense in die kerk nie.  

Hy kan ook nie onthou wat presies die predikant gesê het nie, miskien iets soos, “Is U gereed om Jesus Christus in U lewe aan te neem?”  en sy eerlike antwoord, ‘Ek weet nie,’want hy het eerlik waar nie geweet wat hy daar voor doen nie. Gelukkig het die predikant hom nie laat afsit nie.  Hy het hom ‘n tweede keer laat kniel en vir hom gebid.  Dis so kosbaar om Kris in sy woorde te hoor sê, ‘dit was asof iets vrygekom het binne my!’  Hy het gevoel hoe totale vergifnis oor hom spoel, ‘n vergifnis wat hy self nie geweet het hy nodig gehad het nie. 

Dis dan wanneer hy ‘Why Me, Lord,’ skryf.  Om die waarheid te sê, hy het dit in die kar gesit en skryf, op pad van die kerk na sy huis toe – so vol was sy gees na die diens.  Uiteindelik het dit die grootste treffer van sy loopbaan geword en al sy sekulêre musiek oorskadu.  Bill Malone, ‘n musiek historikus skryf die volgende oor ‘Why Me, Lord’…  “die perfekte lied vir Kris, want hier klink hy soos ‘n man wat baie geleef het, maar homself nou voor God verneder!”

Wat ‘n voorreg om vandag saam met julle te luister na ‘Why Me, Lord!’

 

 

[1] en.wikipedia.org › wiki › Kris_Kristofferson

[2] Story Behind the Song: ‘Why Me Lord’ by Kris Kristofferson | https://kxrb.com/story-behind-the-song-why-me-lord-by-kris-kristofferson/?utm_source=tsmclip&utm_medium=referral

 

Share This