As jong student het Gary Chapman, skrywer van onder andere The Five Love Languages, ‘n waardevolle les geleer – ene wat ook ‘n lewenslange indruk op my gemaak het.[1]

Gedurende sy somervakansie van drie maande het hy saam met die Navigators– ‘n Christen organisasie, gaan werk. Sy taak – om ‘n Baum Folder te bedryf, ‘n masjien waarin jy ‘n vel papier sit en dan vou die rolle dit in ‘n pamflet. Eenvoudig – reg? 

Terwyl hy na die baie basiese aanwysings van die instrukteur luister, het hy besef dat die taak op hande regtig baie eenvoudig was. Buitendien was hy ‘n selfversekerde universiteitstudent wat stilweg by homself gedink het dat die operateur se werk nie juis die verbeelding aangegryp het nie.  Hoe moeilik kon dit wees?  Hy het geen probleme voorsien nie. 

Nadat die operateur seker was Gary verstaan die instruksies, het hy hom alleen gelos.  Ongelukkig, toe hy ‘n paar uur later daar verby kom, het ‘n duidelik ontstigte Gary niks gehad om hom te wys nie. Die man het die proses weer ‘n keer met hom deur gegaan en die masjien het 100% saamgespeel. Weer het hy Gary alleen gelos.  Hy het die instruksies tot op die letter uitgevoer, maar helaas, toe die instrukteur net voor toemaaktyd daar verby kom, het hy nog steeds geen gevoude pamflette gehad nie. 

Dag twee was ‘n herhaling van dag een, en so ook dag drie.  Gary het elke dag probeer en misluk, weer probeer en weer misluk en so het dit die hele eerste week gegaan.  Elke dag het die masjien operateur gekom, selfs drie tot vier keer op een dag, die proses met hom stap vir stap deurgegaan, maar tevergeefs.  Week twee was ‘n herhaling van week een. Na twee volle weke het Gary nog steeds geen gevoude pamflette gehad nie. 

Daardie tweede Sondagoggend het hy besluit om in plaas van kerk toe te gaan, op sy eie stiltetyd te hou.  Hy was desperaat om by die Here uit te kom, want iets was nie pluis nie. Hy het sy Bybel oopgemaak by Johannes 15. Toe hy vers 5 lees, het Jesus se woorde lewendig geword en van die bladsy afgespring – “Sonder My kan jy niks doen nie.”

Gary, het onmiddellik besef dat dit waar was, en geweet dat die Here besig was om hom ‘n belangrike waarheid te leer.  Dit het oor baie meer gegaan as die vou van A4 papiere, dit was ‘n lewensles wat die Here geweet het Gary sou nodig kry op sy lewenspad.  Hy het besluit om die Baum Folder masjien daarvoor te gebruik.  Vir die volgende dertig minute het Gary sondebelydenis gedoen en nederig en skaam voor God erken dat hy niks sonder Hom kan doen nie.  Geen werk, hetsy geestelik, meganies of enigiets anders nie.  Niks nie!  

Met sy terugkeer die Maandagoggend het hy dieselfde eenvoudige instruksies gevolg, net soos elke ander dag en die masjien het perfek gewerk. 

Nie lank hierna nie, trou Gary met sy universiteitsliefde, Karolyn. Soos die meeste jong paartjies, het hulle in die vroeë dae van hul huwelik baie gesukkel. Een oggend het hy intensioneel gaan stil word om deur dit alles met die Here te praat.  Dis toe wat God hom aan die les van die Baum Folder herinner:  “Sonder My kan jy niks doen nie!”  Gary en Karolyn is vandag ‘n gelukkig getroude Oupa en Ouma met ‘n besondere getuienis en Christen nalatenskap – ene waarby elkeen van ons al gebaat het. 

Ek weet nie waarmee jy sukkel nie, ek weet nie wat jou moedeloos maak nie.  Wat ek wel weet, is dat ons, vol van self, vol wêreldse slimmighede, tot niks in staat is nie. As kleipotte wat maklik breek, moet ons ten alle tye onthou dat die skat wat ons het, die krag binne ons, van God alleen afkomstig is.  Kom ons eer Hom vandag as die Here, oorwinnaar in elke stryd![2] 

 

[1]Taken from Amazing Faith, stories of Christians in Defining Moments by Thomas A. Shaw and Dwight A. Clough, pg 45 – 48 

[2]Psalm 24:8.

Share This