Paulus skryf in Galasiërs dat Jesus gebore word in die volheid van die tyd.  Alhoewel hy die woord chronos gebruik, ‘n woord wat verwys na die dae, ure en minute van ons aardse bestaan, gebruik hy dit op ‘n manier wat ‘n tyd belaai met betekenis, beteken.  Hy praat van die pleroma of volheid van chronos.  Die woord pleroma verwys nie na ‘n hoeveelheid nie maar eerder na ‘n kwaliteit, soos in volledigheid of volmaaktheid.[1]  Dus het dit hier dieselfde betekenis as kairos, wat ‘n aangewese tyd beteken, ‘n geleë of gunstige tyd, ‘n geskikte en regte tyd – met ander woorde, wat van pas is. In die 83-vertaling staan daar dan ook so mooi dat Jesus gebore is in die tyd wat God daarvoor bepaal het.

Eienaardig het ek altyd gedink, want Israel was onder Romeinse heerskappy, om die waarheid te sê, die hele wêreld was onder Romeinse heerskappy.  Hoe kon dit die perfekte en volmaakte tyd gewees het vir die uitvoering van God se verlossingsplan? Die Romeinse juk is tog deur die meeste Jode verag en in hulle soeke na ‘n politieke oplossing, sit baie hulle hoop ook op Jesus.  Nadat Hy die 5000 voed, skryf Johannes in sy evangelie, dat ‘toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy alleen verder die berg op gegaan’.[2]  DIt is dus nie vreemd dat selfs Jesus se eie dissiplels by tye gesukkel het om sy missie en goddelike oorsprong te verstaan nie.  

Ons moet onthou Jesus word gebore na 400 jaar van Goddelike stilswye.  Daarom is dit so gepas dat Johannes sy evangelie begin met… die Woord was by God en die Woord was self God.[3]  Ek kan my net die geestelike honger van die volk teen die tyd indink, veral as ons in gedagte hou dat hulle nou, hier met die aanvang van die Nuwe Testament, deel van ‘n uitstrekte Romeinse ryk is.  In ‘n artikel wat ek ‘n paar jaar gelede gelees het, vergelyk die skrywer die tydperk tussen die Ou en die Nuwe Testament met die pouse tussen die eerste en tweede bedryf van ‘n verhoogstuk.  Agter die skerms word die stel verander, meubels word rondgeskuif en wanneer die gordyn weer oopgaan, begroet ‘n totaal nuwe toneel ons.

  • Wanneer die gordyn van die Nuwe Testament oopgaan, is dit die tyd van die Pax Romana, of dan die Romeinse Vrede – ‘n tydperk tussen 27 voor Christus en 180 na Christus. Rome het vir Griekeland vervang as die nuwe supermoondheid en dus heers daar relatiewe rustigheid in die hele Middellandse See en aangrensende lande.   
  • Danksy die Romeinse reg was daar wet en orde in elke provinsie en dus het die Pax Romana stabiliteit na die hele streek gebring. As Romeinse burger het Paulus homself byvoorbeeld gereeld beroep op sy regte – die rede hoekom hy as gevangene na Rome geneem word. 
  • Handel en ekonomie het floreer danksy die netwerke van goeie en velige paaie en seeroetes.
  • Hierdie vrye beweging van mense en vermenging van kulture het nie net die ekonomie laat voordeel trek nie, maar ook verdraagsaamheid teenoor alle mense bevorder.
  • Die Romeinse alfabet het die basis vir die Westerse alfabet geword,
  • akwadukte het water uit die berge na Romeinse stede gebring en
  • danksy die heerskappy van Alexander die Grote ‘n paar jaar tevore, was Grieks nou die wêreldtaal.

Met ander woorde, die perfekte en volmaakte tyd vir die verspreiding van die evangelie van Jesus Christus oor die hele wêreld.    Sien, die Pax Christi, die vrede van God op aarde, soos aangekondig deur die engele aan die skaapwagters in Bethlehem se velde die nag van Jesus se geboorte, is nie ‘n geheim wat ons moet hou nie, maar ‘n boodskap wat ons moet uitdra oral waar ons gaan.

Hoe besonders toe ek besef dat die geboorte, lewe en sterwe van Jesus Christus in elke opsig ‘n reisverhaal is. Nie net verlaat ons Redder God Sy hemelse tuiste om by ons te kom woon nie, maar danksy die relatiewe vrede van die Pax Romana,

  • reis Josef en Maria, sy aardse ouers, die week voor sy geboorte 144 kilometer met ‘n donkie van Nasaret na Bethlehem.
  • Reis die ster gehoorsaam aan sy skepper, doelgerig deur die hemelliggame.
  • Reis die wyse manne uit die Ooste, want hulle volg hierdie ster noukeurig. Wanneer die ster bokant Bethlehem tot stilstand kom, vind hulle Hom – die Koning van die Jode.  Hule kniel in aanbidding en eer Hom dan met geskenke uit hulle reissakke – goud, wierook en mire. 
  • Knap hierna reis Josef en Maria na die veiligheid van Egipte en na die dood van Herodes, reis hulle terug na Nasaret.
  • Gedurende Jesus se drie jaar van openbare bediening, reis Hy onverpoos deur die land en deurkruis hy Israel van dorp na stad. Wanneer ‘n skrifgeleerde hom wil volg, antwoord hy hom met die bekende – ‘Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie.’
  • Na Sy kruisdood, keer Jesus terug na sy hemelse tuiste aan die regterhand van God, Sy Vader, want Hy het die dood oorwin.  
  • Na Sy verskyning aan sy dissipels, reis hulle in gehoorsaamheid aan die groot opdrag, na die uithoeke van die aarde om die Pax Christi, die vrede van Christus, aan alle volke, mense en nasies te verkondig.
  • Maar dis steeds nie einde van die reis waartoe Jesus hom verbind het nie. Eendag sal Hy terugkeer as die Koning van die konings en die Here van die here. 

Vanjaar was ons ‘gaan’ beperk – beide nasionaal en internasionaal moes ons almal vir maande met Jan Tuisbly se karretjie oor die weg sukkel.  In plaas van kerk toe gaan, het ons na ons rekenaars gegaan vir ons preke en ons aanbiddingsliedere.  In plaas van gaan vakansie hou, het ons virtuele reise onderneem – na Europese museums en eksotiese bestemmings.  In plaas van gaan parkrun, het ons paadjies om ons huise uitgedraf.  In plaas van werk toe ry, het ons gereed gemaak vir ZOOM ontmoetings.  Waarlik, ook in ons leeftyd het ‘n gordyn gesak op wat was. Enersyds hoop ek dat wanneer die inperkings gestaak word, ons sal kan terugkeer na die wêreld soos ons dit onthou, andersyds vermoed ek dat sekere dinge dalk nooit weer dieselfde mag wees nie. 

Dit is dus moeilik om te weet hoeveel van ons hierdie Kersfees, soos oudergewoonte na vriende en familie gereis het.  Ongeag is dit my gebed dat ons juis vanjaar, in hierdie vreemde omstandighede, daardie eerste reis van Josef en Maria sal onthou – ‘n vredesreis in die volheid van die tyd.  Al het sekerlik niks daarvan vir Josef en ‘n hoogswanger Maria gevoel soos die belangrikste reis van alle eeue nie. Hulle het sekerlik gedink ALLES omtrent die tyd en die omstandighede van die geboorte en die ongemaklike reis was verkeerd. 
Tog prys ‘n menigte engele daardie nag vir God –  

“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”[4]

Dalk is daar van julle wat ook voel asof alles omtrent 2020 en dit sluit hierdie Kersfees in, verkeerd is.  Kom ons vertrou God, dat net soos wat Hy in die detail van Josef en Maria se reis was, net so is Hy in die detail van ons reis vanjaar.  Kom ons prys dan ook vandag vir God, want ook vir ons is ‘n kind gebore – Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors! [5]

 

[1] https://melkite.org/faith/in-the-fullness-of-time

[2] Johannes 6:15

[3] Johannes 1:1

[4] Lukas 2:14

[5] Jesaja 9:5b

Share This