As kind en selfs nou nog, probeer ek die ellelange lyste van voorsate in die Bybel vermy.  Meestal laat ek my oë net so vlugtig daaroor gaan, totdat ek weer die draad van die verhaal kan optel.  Maar dis juis hierdie lyste wat God se seën wat vir generasies op ‘n gesin rus, kommunikeer.  Jesus se eie geslagsregister is ‘n getuienis van genade en getrouheid oorgedra van geslag tot geslag. Daar is baie ander bybelfigure wat soortgelyke geslagsregisters het, soos Ezra, byvoorbeeld!  Ezra 7, vat ons 16 geslagte terug – al die pad tot by Aaron, die broer van Moses!

En vandag?  Ek kom af op ‘n ‘moderne’ geslagregister ‘n week gelede.  Dis nagevors in 1925 deur Benjamin B. Warfield, verbonde aan Princeton universiteit.[1]  Hy het die nageslag van Jonathan Edwards, die bekende Amerikaanse teoloog, en sy vrou, Sarah, se 11 kinders gevolg.  In 1925 het hulle 1, 394 afstammelinge gehad wat hy kon opspoor.  Onder hulle was daar 13 kollege-presidente, 65 kollege-professore, 30 regters, 100 advokate, 60 dokters, 75 leër- en vlootoffisiere, 100 predikante, 60 skrywers, 3 Amerikaanse senatore, 80 staatsamptenare in verskeie ander hoedanighede wat onder andere goewerneurs, ministers, en 1 vise-president van die Verenigde State ingesluit het. Hoe kosbaar is dit nie – genade en seën wat die Here vars uitgiet oor elke nuwe geslag!

Hoe spreek en leef ek God se seën uit na die mense rondom my?  Hierdie maand bid ons doelbewus saam op sosiale media vir ons gesinne en is ons intensioneel om seën oor ons kinders en kleinkinders uit te spreek.  Tog behoort ons dit eintlik daagliks te doen – God se woorde oor hulle uit te bid, hulle as’t ware te marineer daarin, want God se woord kom nooit leeg terug nie! Dit gee lewe, bekragtig en gee visie en rigting aan hulle vir wie ons lief is! Die uitdaging is om dit nie net in ons binnekamers te prewel nie, maar dit te leef teenoor hulle.  Dus, maak oogkontak met jou gesin, sit jou arms om hulle en spreek seën en beskerming, gesondheid en wysheid oor hulle uit terwyl hulle by jou is.   Doen dit gereëld, doen dit met ‘n liefdevolle stem en maak so seker dat die atmosfeer in julle huis gesond is, vol vrede en liefde en geduld – ‘n plek waar die Gees van God maklik kan vrug dra en waar interaksie tussen mekaar glad kan verloop, danksy die olie van die Heilige Gees!  Onthou, seën oorwin vloeke! 

Selfs wanneer ons ons kinders vermaan en uitdaag, is dit vir hulle beswil, mits ons wys is.  Doen dit met sagte woorde wat met hulle harte praat, asof afkomstig vanuit die hart van God die Vader. Onthou, wanneer ons ons familie seën, maak ons dit makliker vir hulle om God se liefde te ervaar, om hulle waarde te besef en hulle identiteit in Christus te verstaan. 

Ek is maar altyd bewus van die stryd wat woed rondom ons gesinne.  Waarlik, die vyand sal alles in sy vermoë doen om die tradisionele gesin te vernietig en ons kinders se drome te verpletter.  Gebed is dus ononderhandelbaar as ons begerig is om ons kinders en hulle kinders en hulle kinders se kinders te vestig in God se weë. 

Was dit nie God self wat vir Moses geleer het om die volk te seën nie?  “Sê vir Aaron en sy seuns:  So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën; 

Die Here sal julle seën en julle beskerm;

Die Here sal tot julle redding verskyn

En julle genadig wees;

Die Here sal julle gebede verhoor en

Aan julle vrede gee!”  [2]

Amen!  Kom ons gaan dan en doen dieselfde hierdie maand en elke maand! 

 

 

[1] The Mommy Manual, planting roots that give your children wings by Barbara Curtis, pg. 206

[2] Numeri 6: 23 – 26