LENT 2025 - DEEL SEWE
DIT IS VOLBRING
Jesus se uitsprake en interaksies aan die kruis laat mens asemloos van verwondering en vir die afgelope 6 weke kon ons so ‘n bietjie by elkeen van hulle vertoef. Hy het hulle vergewe wat Hom vervolg en gemartel het, Hy omgesien dat Maria versorg word, Hy het die dief aan die kruis gered, Hy het beide die ondenkbare skeiding van God bely en met groot kalmte homself aan die Vader se sorg toevertrou. Al hierdie woorde het ‘n diepe en blywende betekenis vir ons, maar niks meer as Sy laaste woorde nie. “Dit is volbring,” wat eintlik beteken, “Ek het dit voltooi.” Hierdie sewende woord van die kruis is nie ‘n uitroep van verligting nie; dit is ‘n kreet van oorwinning.
Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” Daar het ‘n kruik vol suur wyn geataan. Hulle sit toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n marjoleintak en bring dit na sy mond. Toe Jesus die suur wyn geneem het sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee.
Die laaste woord van Jesus word slegs deur Johannes opgeteken en is baie kort. Trouens, in Grieks is dit ‘n enkele woord: tetelestai, of dit is klaar – voltooi, gefinaliseer. Dit beteken nie dat sy dood ‘n verlossing was van die verskriklike lyding wat hy moes deurmaak nie, soos wat dit partykeer die geval is met mense nie – glad nie. In die Evangelie van Johannes wanneer Jesus in die tuin gearresteer word en Petrus die oor van Malgus afkap, sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in jou skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?” Dit is die bitter beker van oordeel wat Jesus tot op die laaste drek gedrink het toe Hy die sonde van die wêreld op homself geneem het deur in ons plek aan die kruis te sterf. Deur hierdie kragtige liefdesdaad verseker Jesus dat ons nie hierdie beker hoef te drink nie – Hy het dit vir ons gedoen.
In ‘n ander voorval, toe Jakobus en Johannes Jesus gepols het vir posisies aan Sy linker- en regterkant, het Jesus vir hulle gesê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?” Met ander woorde, dit is wat Jesus kom doen het – Hy het gekom om te sterf sodat Hy kon sê: “Dit is volbring.”
Jesus se laaste woord is een van oorwinning en triomf. In Matteus 27 lees ons dat op daardie presiese oomblik van Sy dood, die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur het. Met ander woorde, God het dit geskeur want Jesus het Sy taak op aarde voltooi. Met sy dood het Hy vir die eerste keer sedert die Tuin van Eden, bewerkstellig dat daar geen skeiding meer tussen God en die mensdom sal wees nie. Die woning van God is by ons, die mens en daarom is daar geen behoefte aan ‘n tempel meer nie, want Jesus is die lewende Tempel.
In Christus het God die wêreld met Homself versoen, sonder om ons sondes of oortredings teen ons te hou. Die dood van Jesus het vir ons die weg gebaan om God ons tuiste te maak. Die kruis is die oorwinning van God oor die magte van dood en boosheid, sonde en hel. En terwyl die werk wat Jesus namens ons gedoen het, klaar is, is ons werk nie klaar nie. Daar is wel iets wat ons moet doen, en dit is om in geloof te reageer op die voltooide werk van Christus.
Mag God hierdie week ‘n nuwe en dieper dankbaarheid in elkeen van ons losmaak terwyl ons Sy lyding, Sy dood maar ook sy triomfantelike opstanding op PaasSondagonthou. Dit is die Goeie Nuus wat die Kerk al tweeduisend jaar lank verkondig. Kom ons hou dit nie vir onsself nie.
GEBASEER OP ‘N REEKS DEUR GROUNDWORKONLINE.COM
copyrighty avivid life | all rights reserved 2025 | proudly managed by YCIK Digital










