LENT 2025 - DEEL VIER
WAAROM HET U MY VERLAAT?
Tydens hierdie week se Lent-meditasie, oordink ons sekerlik die bekendste maar ook die verskriklikste van al Jesus se laaste woorde. ‘n Kreet wat spreek van totale verlatenheid en alleenheid; ‘n wanhopige uitroep van volslae verwoesting: My God, my God, waarom het U my verlaat?
Fisies neem Jesus se angs toe en in hierdie tyd van verlatenheid wend Hy hom na Psalm 22, ‘n klaagpsalm wat begin met: My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? Die feit dat die vierde woorde van Jesus uit die Skrif kom, is tekenend van ‘n man wat die Skrif lewenslank bestudeer en daaroor mediteer het, soveel so dat Hy dit hier in sy uur van nood kan aanhaal.
Hierdie woorde van Jesus is opgeteken in beide Matteus en Markus, maar ons lees vandag uit Markus 15. Hier word ons bewus gemaak dat die hele land tussen 12 uur en 3 uur in totale duisternis gehul was. Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloi, Eloi, lamá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.” Een van hulle het toe gehardloop, ‘n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op ‘n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.” Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur. Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem so sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
Die Hebreeuse woorde wat Jesus hier gebruik, Eloi, Eloi, lama sabachthani word verkeerd verstaan deur die mense wat daar rondstaan. Eloi beteken ‘my God’, maar hulle het gedink hy roep Elia. Hulle het gedink hy het begin hallusineer en daarom gee hulle hom ‘n bietjie asyn, wat as n tipe narkose in daardie dae gebruik is.
Ons moet verstaan dat Jesus nou vir ten minste drie uur aan die kruis gehang het, en dit midde daardie verskriklike donkerte. Sy lyding moes ondraaglik gewees het: sy lippe gebars en uitgedroog en sy keel moes soos skuurpapier gevoel het. Hy moes verskriklik dors gewees het en dus moes dit fisies baie moeilik vir Hom gewees het om hierdie woorde te spreek.
As Christene verstaan ons dat God drie-enig is. Ons glo dat Vader, Seun en Heilige Gees vir alle ewigheid in volkome eenheid en volmaakte gemeenskap met mekaar is. Die gemeenskap van die Heiliges is nog nooit verbreek nie – tot hierdie gebeurtenis. As deel van die betaling vir ons sonde, blyk dit dat verseker die Vader, maar waarskynlik ook die Heilige Gees, hulle van Jesus onttrek het. Hulle het hulle rug op hom gedraai op ‘n manier wat van alle ewigheid af nog nooit binne die drie-enige God wat ons aanbid, gebeur het nie. Die teoloog Johannes Calvyn skryf dat dit hel moes gewees het en miskien is dit hoekom die duisternis neergedaal het om op een of ander fisiese manier, as ‘n tipe gelykenis, aan te dui wat Jesus aan die kruis ervaar het; nie weens sy sonde nie, maar as gevolg van ons sonde.
Hierdie vierde woord van Jesus bring ons by die hart van die evangelie: hoe Christus ons plaasvervanger en offer geword het, die een wat nie net die dood gesmaak het nie, maar die hel en skeiding van God namens ons sodat ons nie self daardeur hoef te gaan nie.
Mag ons hierdie goeie nuus nie vir onsself hou nie, maar dit wyd en syd deel, in woord en daad, met groot blydskap en danksegging aan alle mense oral.
GEBASEER OP ‘N REEKS DEUR GROUNDWORKONLINE.COM
copyrighty avivid life | all rights reserved 2025 | proudly managed by YCIK Digital










