LENT 2025 - DEEL SES
VADER IN U HANDE
Elke evangelie kyk uit ‘n ander hoek na die lewe en bediening van Jesus. In hierdie voorlaaste episode in ons kort reeks lees ons uit die evangelie van Lukas. Dit is baie interessant dat al die evangelies sê dat Jesus aan die einde, net toe hy gesterf het, hard uitgeroep het, maar hulle verskil van presies wat Hy gesê het en daarom neem Bybelkommentators aan dat Hy al drie gesê het. Dit is ook die rede hoekom ons nie seker is in watter volgorde hulle gesê is nie. In Johannes se evangelie is die woord: Dit is volbring; en in Matteus en Markus is die woord die uitroep van verlating: My God, my God, waarom het U My verlaat? Maar hier in Lukas 23:44 is dit hierdie verklaring van geloof en vertroue:
Dit was al omtrent twaalfuur, toe ko maar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in U hande gee Ek my gees oor.” Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.
Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.” Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ‘n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.
Na die 3 ure van duisternis en Jesus se harde kreet wat getuig van sy diep geloof, is daar niks oor van die feestelikheid onder die skare of die karnaval atmosfeer nie. Die omstanders keer terug huis toe in ‘n somber bui, onkant gevang deur alles wat hulle gesien, gehoor en beleef het. Hulle het op hulle bors geslaan, asof hulle besef het dat hulle ooggetuies was van een of ander verskriklike ongeregtigheid. Net so het die Romeinse hoofman oor honderd tot die slotsom gekom dat Jesus onskuldig was.
Die Griekse woorde vir die laaste asem van Jesus is phone megale, wat “stem hard” beteken. Die woord megafoon word van hierdie twee woorde afgelei en dit suggereer ‘n versterkte stem. Met ander woorde, Jesus het met soveel goddelike outoriteit uitgeroep dat dit die omstanders met vrees vervul het.
In hierdie laaste gebed van Jesus spreek Hy weer Sy Vader aan, en haal Hy weer uit ‘n Psalm aan. Psalm 31:6 lees: In U hand gee ek my gees oor; U het my bevry, HERE, troue God… Ek wil juig en vreugde vind in U troue liefde – dat U my ellende raakgsien het, bewus van die benouenis van my lewe. Jesus is so deurdrenk van die Woord, veral die psalms, dat dit ten spyte van sy verskriklike omdtandighede, as’t ware uit Hom vloei.
Deur hierdie aanhalings sê Hy dat Hy die Skrif vervul het en dat sy dood deel is van God se plan reeds van voor die grondlegging van die wêreld. Die feit dat dit gelyk het of Jesus so gewillig gesterf het, so asof Hy in beheer was, en die feit dat Hy met soveel vertroue Sy Gees aan Sy Vader toevertrou het, het ‘n geweldige diep indruk op die omstanders gemaak en is deels hoekom die soldaat gesê het: Hierdie man was werklik onskuldig.
Deur die eeue het baie Christene wat aan die einde van hulle lewens kom, troos in die Skrif gevind; óf omdat hulle gedeeltes gememoriseer het óf omdat hulle geliefdes dit vir hulle voorgelees het. In Sy sesde woord van die kruis, modelleer Jesus presies dit vir ons. Vir Hom was die dood nie ‘n sprong na die onbekende nie; dit was nie net ‘n reis na nêrens en niks nie, ten spyte van sy vroeëre uitroep: My God, my God, waarom het U my verlaat? Hierdie laaste gebed van Jesus herinner ons aan die amper onlosmaaklike band tussen Hom en Sy Vader, en neem ons terug na sy gerusstellende woorde aan die dief langs Hom – Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.
Mag God dit vir ons moontlik maak om met dieselfde nabyheid en innige verbondenheid aan die Vader te leef, sodat ons ook hierdie gebed kan bid, hetsy in die oggend wanneer ons opstaan of in die aand wanneer ons gaan slaap: Vader, in U hande gee ek my gees oor.
GEBASEER OP ‘N REEKS DEUR GROUNDWORKONLINE.COM
copyrighty avivid life | all rights reserved 2025 | proudly managed by YCIK Digital










