LENT 2025 – DEEL DRIE

3. Met my in die Paradys

 In hierdie week se Lent-meditasie staan ons stil by Jesus se derde woorde van die kruis.

 Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te së: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in U koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.”

 Jesus is nie die waardigheid van ‘n private dood gegun nie, maar was een van ‘n groep wat daardie dag tereggestel moes word. In hierdie toneel vind ons hom tussen twee mans wat onder andere beskryf word as misdadigers, kwaaddoeners en diewe. In die gedeelte uit Lukas word ons daarvan bewus gemaak dat dit ‘n openbare teregstelling was. Wat mens vergeet is dat openbare teregstellings nog tot redelik onlangs ‘n soort van ‘n openbare skouspel en vermaaklikheidselement gehad het. Terwyl soldate sy persoonlike besittings onder mekaar verdeel het, het ander rondgestaan, gelag en met Jesus die spot gedryf. By so ‘n openbare “feestelikheid” in aanhalingstekens sou mens verwag dat hierdie twee diewe sou meedoen. En terwyl een wel meedoen, berispe die ander een hom. “Vrees jy nie God nie,” wil hy weet, met die begrip dat alle mense aan God verantwoording moet doen en dat hulle self binnekort die oordeel van ’n heilige God in die gesig sou moes staar.

 Hy wend hom dan tot Jesus met hierdie pleidooi: “Jesus, dink aan my wanneer U in U koninkryk kom.” Mens kan nie anders as om jou te verstom oor hierdie dief nie. Te midde die dissipels wat Jesus verlaat het, die bespotting van die godsdienstige leiers, soldate en die publiek, troon hierdie misdadiger aan die kruis se geloof bo almal s’n uit. Johannes Calvyn som dit miskien die beste op wanneer hy skryf: “Ek weet nie of daar ooit, van die grondlegging van die wêreld af, ‘n meer seldsame of onvergeetlike voorbeeld van geloof was nie. Hierdie middadiger toon ‘n diepte van oortuiging wat totaal en al ontbreek by die dissipels met wie Jesus so baie tyd spandeer het. Hy aanbid Christus as Koning terwyl hy aan die kruis hang, hy vier sy koninklike heerskappy midde die verskrikking van sy kruisdood en verklaar Hom die outeur van lewe in sy sterwensmoment.”

 Mens kan nie help om te wonder of hy Jesus ‘n paar uur tevore gehoor het toe Hy gesê het: “Vader, vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Ongeag hoe die Gees van God in hierdie misdadiger se lewe gekom het, dit het sy verharde hart versag en daarom kan hy Jesus sien as ‘n Koning van ‘n komende koninkryk.

 Op hierdie merkwaardige geloofsverklaring antwoord Jesus: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees!” Die dief word nie gedoop nie, hy ontvang nie nagmaal nie, hy kan nie uitgaan en sy lewe omdraai deur ‘n nuwe blaadjie om te slaan en homself te hervorm nie. Hy is letterlik aan ‘n kruis vasgespyker. Hy kan nie sy hande of sy voete beweeg nie. Al wat hy kan doen is om sy gesig na Jesus te draai en dit doen hy. Aan hom gee Jesus hierdie wonderbaarlike versekering – die ewige troos en hoop van die hemel.

 Mag die geloof van die berouvolle dief aan die kruis vir ons herinner om nooit iemand af te skryf nie. God verander harte, en hy doen dit vandag nog!

 

GEBASEER OP ‘N REEKS DEUR GROUNDWORKONLINE.COM

 

copyrighty avivid life | all rights reserved 2025 | proudly managed by YCIK Digital