Koning Dawid
Suna Potgieter woon in Heidelberg, Wes-Kaap saam met haar man, Werner. Haar passie in die lewe is om ‘n omgewing vir haar medemense te skep waar hulle veilig en gemaklik voel om hulself te wees. Sy hou daarvan om te verstaan hoe mense en dinge werk, om te sien wanneer legkaartstukkies van menselewens in mekaar pas en hoe dit deel vorm van God se groter plan. Van 8-5 is sy ’n mediesefonds-adviseur, maar buite daardie ure ’n obsessiewe leser, amateurskrywer en wannabe-fotograaf.
Op haar blog, Enroute-stories, pak sy storiestapels soos merkers langs haar lewenspad met die Here, as tekens van Sy goedheid, ingrypings, antwoorde en daarwees.
DAWID, ’N MENS SO NA MY HART
Koning Dawid is een van die bekendste persone in die Bybel en sy oorwinnings en foute is bekend aan alle gelowiges.
Die Dawid wat my die meeste inspireer is die man vóór sy koningskap.
Een van my gunsteling verse in die Bybel kom voor in Samuel aan die begin van Dawid se storie: “Die HERE neem nie besluite soos mense nie! Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die HERE kyk na die binnekant.” (1 Sam 16:7)’n Troos vir almal van ons wat nie van buite lyk of doen soos wat die wêreld voorskryf nie!
Daarna begin die lang wag vir die belofte van koningskap om waar te word en eerder as murmureer en ongeduldig word, lyk dit asof Dawid net rustig voortleef en doen wat hy op daardie tydstip mee besig is: skape oppas, reuse verslaan, musiekmaak vir’n koning met ’n onvoorspelbare humeur, wegkruip wanneer dieselfde koning hom wil vermoor en selfs die koning se lewe spaar wanneer dié homself onwetend blootstel.
Hy bestee tyd om vriendskappe te bou (nogal met die einste moeilike koning se seun), die natuur te bewonder, en liedjies en gedigte te skryf. Die Psalms wat hy soveel jare gelede geskryf het bied tot vandag nog woorde vir gelowiges wat sukkel om hul vreugdes, frustrasies en vrese uit te druk.
Wanneer hy uiteindelik koning word, is hy nie sonder foute nie en probeer hy soos enige van ons planne maak om die foute te probeer toesmeer (dink aan sy plan met Uria). Wanneer hy daarmee gekonfronteer word, WEET hy dat sy enigste veilige hawe erkenning aan God is en dat sy vergifnis volkome is.
Wanneer sy droom om ’n tempel vir Sy God te bou deur God self vertraag word, gooi hy weereens nie sy speelgoed uit die kot nie, maar aanvaar gelate dat dit iemand anders se “claim to fame” gaan wees.
Hy was nie skaam om soms on-koninklik spontaan op te tree nie – daar was verseker geen “stiff upper lip” in daardie koningshuis gewees nie.
Ek dink wat my na Dawid as persoon aantrek, is die feit dat hy nie net as ’n grote koning uitgebeeld word nie, maar ook as ’n mens met vreugdes EN swakhede, alledaagse passies waarmee ek kan assosieer (soos musiek en die natuur), maar ook geduld en aanvaarding (waarmee ek minder goed is en dus by hom kan leer). Sy verhouding met God was persoonlik en “real”: ‘n Man na God se hart.







