'Honderddag'
‘HONDERDDAG’
Dis iewers in Desember wat ek laatmiddag in die apteek inhardloop om ‘n voorskrif af te haal. Dit was ‘n laaannnggg dag teen die einde van ‘n laaannnggg jaar. Ek is nie lus vir gesels nie, maar tussen wag dat hulle ons adres op die rekenaar opspoor, raadpleeg ek my lysie, want ek kan nie bekostig om ‘n enkele iets te vergeet in een van die uitdagendste weke van die jaar nie. In die proses gee ek ‘n laaannnggg sug – harder as wat ek bedoel het en glad nie gemik teen die dienslewering nie. Die dame agter die toonbank kyk op en ek besef dit kan misverstaan word.
“Skuus,” glimlag ek verleë, “dit was ‘n laaannnggg dag en ‘n laaannnggg week!”
“Maar dis dan nou eers Dinsdag,” antwoord sy met ‘n ligte frons en een opgetrekte wenkbrou!”
Ek snak na my asem! “DINSDAG! blaker ek dit harder uit as wat ek bedoel het, want ek kan dit amper nie glo nie. Kan dit wees, dink ek verward, maar besef dis NET Dinsdag en dan mompel ek hardop, “Wel, dit voel soos HONDERDDAG!”
Sy kan die lag nie keer nie en die ander mense wat rondom my staan en wag vir hulle medisyne, kry dit ook nie reg om hulle geamuseerdheid weg te steek nie.
Verlede week en Donderdag, 9 Januarie, het ek weer so ‘n ‘HONDERDDAG’ beleef. Ek besef dis heel normaal en ons almal het ‘n storie of twee van dae wat hulle walle oorstroom. Tog is dit amper presies ‘n maand sedert my vorige ‘HONDERDDAG’ dink ek die nag waar ek rondrol. Dis spitstyd in my kop en my gedagtes sit vas in ‘n verkeersknoop wat teen slakkepas vorentoe kruip.
Ethnos het net die vorige dag, Woensdag, 8 Januarie amptelik begin. So skop ek my jaar af met twee langerige vergaderings op Carmel, die pragtige kampeerterrein op pad na Victoria baai wat ons gebruik as sendingopleiding en kantore. Op pad na my kar, rondom middagete, keer ‘n wildvreemde gas my voor.
Met ‘n swaar Engels/Duitse aksent sê sy, “I have been watching you today and the Lord told me to tell you that REST IS YOUR WEAPON!” Ek is goed vertroud met hierdie aanhaling van Elizabeth Elliot, “Rest is a weapon given to us by God,” maar om dit so direk van ‘n vreemdeling te ontvang op die eerste dag van werk, het my onverhoeds betrap. Sy moes die verrassing op my gesig gesien het en met ‘n breë engelglimlag en sagte blou oë groet sy my dan met “Shabbat Shalom.” Ons gesels vlugtig ‘n paar woorde voor ons in teenoorgestelde rigtings uitmekar spat.
Die Here kon my nie meer duidelik of direk gewaarsku het nie, besef ek laat die nag op my eerste HONDERDDAG en tweede werksdag van die jaar. Luister gaan ek moet LUISTER en gehoorsaam wees gaan ek GEHOORSAAM MOET WEES, want HONDERDDAG is gelyk aan ONDERSTEBOLDER DAG is gelyk aan seer kry, foute maak en sonde doen!
Ek weet nie wat is jou wapen nie, dalk is dit aanbiddingsliedere luister, sing of speel. Dalk is gebed. Dalk is dit stil wees of stil bly. Dalk is dit eenvoud. Maak nie saak wat die Here vir jou saggies fluister of helder oordag hardop sê nie, kom ons wees verantwoordbaar teenoor mekaar en gee ernstig gehoor aan die Woord en Waarskuwings van die Here.







