Jannie de Villiers het in Augustus 2021 as die Hoof-uitvoerende bestuurder van Graan SA afgetree. Hy was sy hele loopbaan in die landbousektor. Op kerkvlak was hy in leierskap van die NG Kerk Moreletapark-gemeente van 1989 tot 2006 en voorsitter van die Moreletapark Assosiasie van 2012 tot 2019. Hy was ook vir tien jaar voorsitter van Jerigo Mure Internasionale Gebedsnetwerk.  Hy dien tans as die voorsitter van Revive our Hearts SA se direksie.  Jannie is 37 jaar getroud met Retha en hulle het drie kinders en ‘n kleinkind. Hy is baie lief vir die Here. Vandag gesels hy met ons in die eerste van vier episodes oor die boeke wat ‘n groot impak in sy lewe gemaak het.

BOEKE AS MENTORS I

 Die WOW-oomblik in my lewe het op 38-jarige ouderdom gebeur tydens ‘n besoek aan die VSA waar ek ‘n leierskapskursus bygewoon het.  Een van die leiers het gesê dat as ek my leierskap wil ontwikkel en geestelik daarin wil groei, moet ek drie dinge doen: (1) Lees so veel moontlik oor leierskap; (2) Hou goeie leiers dop en werk so naby as moontlik aan hulle; en (3) Lei mense sodat jy ook deur praktiese ervaring kan leer.  Ek het al drie hierdie wenke baie ernstig opgeneem.

 Ek het voortdurend vir leiers en mentors gevra wat om te lees. Ek het belangrike punte met verskillende kleur penne gemerk: een kleur vir my persoonlike lewe, ‘n ander kleur vir kerkleierskap en ‘n derde kleur vir leierskap oor die algemeen. Baie punte het oorvleuel, maar dit help vandag nog wanneer ek soek na iets wat ek in ‘n boek gelees het, en natuurlik om die inhoud beter te onthou.

 Halftime deur Bob Buford

Ek het baie kopië van hierdie boek vir mans gegee wat in hulle veertigs is. Halftime gaan oor om tyd in die kleedkamer van jou lewe te spandeer, om asem te skep en met jou Afrigter te praat oor die tweede helfte van jou lewe. Om van suksesvol na betekenisvol te beweeg.

 Dit is lewensveranderend. Die sukses vir ‘n tweede helfte van jou lewe is nie noodwendig om van werk te verander nie, maar om jou hart te verander en jou uitkyk op die lewe en die gesindheid teenoor die mense rondom jou te verander.

 Ek was 44 toe ek Halftime gelees het en my lewensvisie het verander van om suksesvol te wees na ‘n persoon wat ander mense help om hulle lewens te verander en te verbeter. Dit het my fokus van geldmaak en status verskuif na ‘n lewe waarin ek vir ander tot seën kan wees.

 Drucker and me deur Bob Buford

Hierdie is ‘n briljante boek oor mentorskap en gaan oor die skrywer se mentorskapsverhouding met Peter Drucker, die vader van moderne bestuurspraktyke.

 Indien jy ooit oor mentorskap getwyfel het, lees hierdie boek. Hierdie mentorskapsverhouding het gelei tot die stigting van ‘n leierskapsnetwerk vir senior pastore van verskeie Amerikaanse kerke waarvan ons vandag nog die vrugte pluk.

 Dit gee ook baie goeie riglyne van hoe om ‘n mentor vir ander te wees. Afrigters het ‘n plan vir ander se lewens, mentors hoor wat is iemand anders se droom en help hom/haar om dit te verwesenlik. Die vrugte van jou handewerk moet aan ander mense se bome groei.

 Drucker and me het my perspektief gegee om vandag, in nederigheid, ‘n mentor vir baie mense te kan wees en in ander mense se lewens te kan inbou soos ander mentors dit vir my gedoen het. Ek het steeds vandag verskeie mentors vir verskillende aspekte in my lewe.

 Master Leaders deur George Barna

Hierdie is ‘n briljante, praktiese boek waarin Barna onderhoude met 15 bewese leiers oor verskillende onderwerpe gevoer het. Ek het dit so geniet en sinvol gevind dat ek die boek as besprekingspunt tydens ‘n drie-dag leierskapswegbreek vir jong leraars gebruik het.

 Master Leaders dek ‘n wye reeks onderwerpe (ontwikkeling van leiers, kritiekhantering, morele waardes, geloof, hantering van druk ensovoorts) waarmee ‘n mens elke dag iewers mee gekonfronteer word. Dit het baie goeie materiaal vir jongmense vir die ontwikkeling van hulle vaardighede.

 Leaders on leadership deur George Barna

Hierdie boek is saamgestel deur Barna, maar is deur verskeie leiers geskryf. Die beste hoofstuk vir my is deur Bob Clinton geskryf oor die lewensiklus van leiers. Dit gee ‘n baie mooi uiteensetting van hoe ‘n mens ontwikkel.

 Leaders on leadership het baie praktiese raad oor hoe om jou lewe goed af te sluit en waarna jy moet oplet om dit te bereik. Daar is baie mense wat uitstekend ontwikkel en presteer maar op die laaste uitsak. Hierdie hoofstuk spesifiek sal jou help om beter te verstaan waar jy is en wat jou te doen staan om voluit te eindig: ‘mooi so goeie en getroue dienskneg.’ 

 Daar is ook raad vir mense wat besin oor opvolging in leierskap wat Pastoor Wallace Erickson geskryf het en ook goeie inligting oor die karakter van ‘n leier en leierskapbeginsels.

*****

 Van die vier boeke wat Jannie hier noem, wil ek graag Halftime uitlig. Dit is ‘n boek wat my lewe en ons familie se lewe op die beste moontlike manier omgekeer het. In ons geval het ons van organisasie verander, van Pretoria na George getrek en ons kinders teruggesit in ‘n plaaslike regeringskool na sewe jaar se tuisonderrig. Die Here se leiding was so perfek presies vir elkeen van ons en vandag kyk ons terug met groot dankbaarheid teenoor God wat so ‘n ingrypende skuif moontlik gemaak het en dit deur die skrywe en getuienis van Bob Buford.