Jannie de Villiers is 37 jaar getroud met Retha en hulle het drie kinders en ‘n kleinkind. Hy het in Augustus 2021 afgetree as die CEO van Graan SA. Op kerkvlak het hy oor baie jare verskeie leierskapsposisies beklee in NG Kerk Moreletapark en was hy ook vir tien jaar die voorsitter van Jerigo Mure Internasionale Gebedsnetwerk.  Hy dien tans as die voorsitter van Revive our Hearts SA se direksie. Jannie gesels vandag verder met ons oor sy liefde vir boeke.

BOEKE AS MENTORS II

 Ek was 34 jaar oud toe ek vir die eerste keer ernstig begin boeke lees het. Hierdie is dus 28 jaar se ondervinding van leer en praktiseer.  Geen boek kan egter die Bybel vervang nie.  Die boeke wat ek die meeste geniet, is dié wat op Bybelse beginsels gebasseer is. Hier is ‘n lys boeke (in geen spesifieke volgorde nie) wat ek almal gelees het en graag aanbeveel:

 Leierskap in die woestyn

Ek het twee keer deur ernstige woestynperiodes in my leierskapstyd gegaan, beide in die kerk. Ek het glad nie verstaan waarheen God my lei nie, maar deur te lees en met my mentors te praat het ek baie vinnig die groot waarde van woestynperiodes besef.

 Ek het so baie daardeur geleer dat ek later daarin gespesialiseer het, en ek het lesings oor leierskap in die woestyn vir leraars aangebied. Ek het dit ook in die besigheidswêreld toegepas wanneer ek woestynsimptome in mense se lewens opgemerk het, veral op baie hoë vlakke soos vir hoof-uitvoerende beamptes van groot besighede en direkteur-generaals in die staatsdiens.  Ek het selfs ‘n hoofstuk daaroor in Ds Dirkie van der Spuy se boek Kragtige Kerkgroei geskryf.

 Die volgende boeke, deur Jannie aanbeveel, behandel elkeen ‘n ander aspek van woestyntydperke en lê veral klem op leierskap te midde van sulke woestynervarings.

  • Gene Edwards het drie skitterende boeke geskryf waarvan ek sommige al sewe keer gelees het: (1) The Tale of Three Kings oor die Bybelse konings Saul, Dawid en Absolom. Dienskneg-leierskap op sy beste. Vertrou God; (2) The Prisoner in the Third Cell oor Johannes die Doper. Sal jy steeds vir God vertrou en volg, al maak niks in jou lewe sin nie?; en (3) Exquisite Agony oor wanneer jy onregverdig as christen deur ander christene gekruisig word. Dit leer jou dat dit God is wat jou woestyn toe neem, nie ander mense nie. Ek het al so baie van hierdie boekies vir mense gekoop wat seergekry het in die lewe omdat dit my so ‘n goeie perspektief daaroor gegee het.
  • Strengthening the Soul of your Leadership – Seeking God in the Crucible of Ministry deur Ruth Barton. Persoonlike advies in moeilike tye. Hoe om op die Here te wag en alleenheid te hanteer. Daar is ook ‘n baie goeie hoofstuk oor hoe om die stem van die Here kollektief te hoor as gemeente of organisasie. Dit werk!
  • Finishing Strong – Going the Distance for Your Family deur Steve Farrar. As God jou woestyn toe roep (Hosea 2:13), word jy ingeskryf vir ‘n Meestersgraad in karakterbou. Dit beskryf die ‘vakke’ (eensaamheid, hoe om te geduldig te wag, onbekend/onbemind ensovoorts) wat jy moet deurloop om geestelik te groei en moeilike tye te oorkom. Diep geestelike groei.
  • Leadership Pain – The Classroom for Growth deur Sam Chand. Ek het die boek in die Karoo gelees tydens die groot droogte in 2015/16. Die Here het gesê ek moet ten minste drie dae van my Desember-vakansie in die Karoo tyd met Hom gaan spandeer. As jy jou leierskap meer effektief wil maak en die reikwydte en invloed daarvan wil uitbrei, moet jy jou innerlike pyndrempels opskuif. Eina! As jou put droog word, moet jy dieper grawe om water te kry vir jou en die mense wat jy lei. Pyn-deurmaak kom voor bevordering en groei in jou lewe.
  • Crushing deur TD Jakes. Die fermentasieproses wat in mense plaasvind wat afgepluk (seerkry) en gepars (stukkend) word voordat hulle deur die donker fermentasieproses van onsekerheid gaan om deur die Wynmaker in die beste wyn gemaak te word!

Ek is natuurlik opgewonde oor elke boek wat Jannie hier aanbeveel en hom so dankbaar vir hierdie spesifieke en baie tydige aanbevelings, want wie van ons was nie al deur ‘n woestyntydperk nie. Van al die boeke wat Jannie noem was ek veral opgewonde om Ruth Haley Barton se naam aan te tref.  Ek self het verlede jaar haar Silence and Solitude twee of drie maal gelees. Dit het my veral bewus gemaak van die gebrek aan stilte in ons samelewings, en die amper universele onvermoë om hierdie klassieke dissiplines met vrug in ons eie lewens te beoefen. Dit is ‘n wonderlike praktiese boek wat ek met groot vrymoedigheid graag aanbeveel.

 Die ander skrywer wat vir my uitstaan is natuurlik Gene Edwards. Sy kreatiewe manier om bekende Bybelse karakters en komplekse menslike intriges met omvangryke deernis en fyn waarnemingsvermoë te beskryf, heg onmeetlike waarde toe aan bekende Bybelse verhale. Sit daarby sy besondere vermoë om die leser onverwags te konfronteer met wat in sy eie hart wegkruip wanneer die lewe nie sin maak nie en jy het ‘n wenresep.