Loop Met Hoop
Ons Loop Met Hoop!
Jy begin elke dag met Geloof, jy loop jou pad met Hoop en arriveer by jou bestemming met Vreugde en Danksegging. Met hierdie eenvoudige strategie stuur die Here my op my eerste Pelgrimstog van Malgas na Agulhas, n roete van 122,6 km wat ons beplan om in ses dae te doen. Saam met my stap Hymne – my dogter van 23, Lize – ‘n pragtige jong vrou wat my vanjaar bietjie uithelp, ‘n nuwe vriendin – Cilmi en haar dogter, Lienke van 16 jaar, ‘n jarelange vriendin, Louria – ‘n gesoute stapper en avonturier en Anje van die Paarl, ‘n Mamma van 3 dogters. Ons bestuurder is Llewelyn, ‘n jong man wat ons bagasie goedgunstelik rondry want hy kan van enige plek af sy werk doen. Ons is hom so dankbaar, want as ons al ons bagasie moes saamdra, was ons almal in die moeilikheid.
‘n Nostalgiese Aankoms in Malgas: Donderdag, 8 Augustus 2024
Ons ses Georgiete vertrek met groot opgewondenheid Donderdag, 8 Augustus so 1 uur se kant na Malgas. Die meeste van ons was nog nie daar nie en ek is veral opgewonde want die pont is weer in gebruik na die groot reëns van die vorige week. Die moderne kontrêpsie lyk identies soos die ene wat ons al die jare gebruik het om die Zambezi tussen Botswana en Zambië oor te steek, dis net heelwat kleiner. Ek sluk verbete aan die heimweë na ‘n vorige seisoen wat my wil oorweldig en neem ‘n paar onnodige foto’s terwyl ons die Breërivier heeltemal te vinnig na my sin oorsteek.
Malgas is ‘n uitgestrekte gemeenskap van 500plus huise al langs die rivier af tot by Infanta. Ons slaap in Die Tolhuis – ‘n heerlike ruim en goedtoegeruste vakansiehuis op die oewer van die rivier. Ons kry vinnig ons kamers, gooi ons tasse neer en begin dadelik die wêreld verken. Ek soek eerste die kerkie waarvandaan ons die volgende oggend uitgestuur gaan word, want sewe uur is vroeg en ek wil nie al op dag een verdwaal nie.
Ons kry aanwysings by Trevor wat ons in die pad raakloop asook ‘n stuk geskiedenis van die unieke dorpie. ‘n Groep Swellendamse boere en enterpreneurs het in die 1800’s die uitdagings van swak paaie en die bykans onbegaanbare Hottentots Holland berge oorkom deur ‘n ferry sisteem op die Breede rivier tot stand te bring om die ekonomiese vooruitgang van die gebied en lewensnoodsaaklike handel te verseker. Die dorpie wat aanvanklik as Malagas bekend gestaan het is vernoem na ‘n plaaslike hoofman. Aangesien internasionale pos geneig was om in Malaga, Spanje te beland, pleks van in Malagas in die Suid-Kaap, is die naam na Malgas verander.
Terwyl ek my nog aan die stukkie interessantheid verlustig, hoor ek die kerkklok uitbundig lui. Die pragtige klipkerkie is in 1856 gebou en dis die jongklomp wat so lekker met die kerkklok speel terwyl Hymne met haar geleende kamera oefen om videos en foto’s te neem.
Op pad terug na ons verblyf, bloei die aalwyne uitbundig rooi – ‘n vroeë belofte van die groot genade waarmee die Here ons elkeen oor die volgende paar dae sou ontmoet.
Na aandete kom ons klompie vir ‘n wyle bymekaar. Ek deel rooi fluitjies en linte uit, want soos Ragab in die Bybel is ons rooi linte tekenend van ons geloof en hoop in die bekende God, terwyl ons die volgende ses dae op onbekende paaie gaan stap. Elkeen kry ook ‘n eenvoudige selfgemaakte boekie om ons avonture en unieke belewenisse te kan neerskryf.
‘n Immergroen Eerste Dag: Vrydag, 9 Augustus 2024
Dit reën heerlik in die nag en wanneer ons die skemeroggend so kwart voor 7 in die pad val na die NG kerkie waar Gertie en Mariaan wag om ons uit te stuur, verg dit vernuf om die veelvuldige poele mis te stap. Wanneer ‘n wit bakkie met die bult afkom, weet ek Anje is betyds – hulle het vroegoggend in die Paarl weggespring. Ek klim summier agter in by die drie slaaplyfies knus toegewikkel in hulle kombersies en ry lekker die laaste ent na die klipkerkie gesels-gesels saam, want ek het Anje nog nie ontmoet nie – sy is ‘n vriendin van ‘n vriendin.
Die klipkerk se deur staan oop en ons word gulhartig binnegenooi. Die pragtige houtplafon, banke en preekstoel saam met leë wit mure spreek van eenvoud en nederigheid. Die merk hoog bo aan die binnekant van die deur dui aan tot waar die water met die groot vloed van 1906 gestyg het en herinner ons dat herstel en hoop na vernietigende vloedwaters altyd moontlik is.
Elkeen van ons ontvang ook ‘n gatvelletjie – so ‘n plat rooi kussingtjie wat netjies opvou en wat ons kan gebruik om op te sit wanneer ons langs die pad stop. Dan is daar die rooi sonhoed, ‘n sleutelhouer en ons Pelgrimspaspoort. Ons kraai van die lag en opgewondenheid oor ons geskenke EN die offisiële stempel wat ons elkeen ontvang. Ek moet dadelik byvoeg dat ds. Gerrie van Devender en sy span se organisering van die staptog en uitkyk vir ons oor al ses dae onverbeterlik was!
Mariaan lees vir ons Psalm 23 voor en dan bid sy vir ons, alles in die unieke aksent van die Overberg – en wanneer Gertie ons groet met LEKKER LOOP, klim hierdie boervroue diep in ons harte. Hoe sou ons kon weet, dit gaan weer en weer met ons gebeur. Ons neem vir oulaas foto’s voor die kerkie en lui sommer WEER die klok – net vir die lekkerte. Daar lê ‘n lang styl bult vir ons voor en dan 9 km grondpad voor ons gaan wegdraai. Die vrouens vra of ons ‘n lift wil hê, maar niemand byt aan die aas nie – ons is nou offisiële pelgrims! Teen dag ses het ons minder verweer teen sulke versoekings gehad.
Ek het ‘n hele paar jaar laas gestap en is nie seker wat die regte pas is nie, maar ons almal kry vinnig ons ritme. Die wêreld is nat, die koring is groen, die kanola goudgeel, en die grondpad het lang opdraendes en afdraendes. Die deel van die wêreld staan nie verniet bekend as die Rûens nie! Die rooiborsvinkies weier om stil te sit vir ‘n foto, maar die beeste, skape, bloukransvoëls en volstruise is meer geduldig met ons. Die wind waai nogal sleg, maar ons is vars en beur voort. By die 9 km merk is daar ‘n paar hooibale op die boer se plaas. Ons soek skuiling teen die wind, eet ons broodjies met dankbaarheid terwyl Hymne foto’s neem van die ganse en klein vrieskalfie wat op ‘n bondeltjie teen die draad lê. Wanneer Niel Neethling verbykom knoop ons eers ‘n geselsie aan. Opgewonde vertel hy van die Potbergaasvoêl-bewaringsprojek en dat hulle net ‘n paar uur tevore kos vir hulle uitgesit het by hulle spesiale “restaurant.” Danksy hierdie projek is die aasvoëlpopulasie van ampere uitwissing gered en kon dit tot 300 groei die afgelope paar jaar.
Terwyl ons ons weg deur die landerye vind, raak die wind al hoe sterker. In die verte sien ons hoe 4 blesbokke deur die hawer vlug as hulle ons hoor aankom. Bo ons koppe sweef die aasvoëls op die wieke van die wind – moeiteloos sweef hulle sonder om ooit hulle vlerke te klap. Die belofte uit Jesaja 40 kom by my op en ek stap vir ‘n wyle skaam-skaam voor die Here, want op my ouderdom moet ek hierdie eeue-getroue waarheid beter kan toepas in my besige lewe: maar die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.
Noudat ons van die hoofpad is, sukkel ons met ons pas. Nie net omdat ons teen ‘n wind van 41 knope beur nie, maar amper alles word nou beskou as ‘n foto geleentheid. Die snaakste is sekerlik as Lienke en Hymne platval in die koringland – terwyl ons ander kraai van die lag. Ons lag veral as hulle probeer om die koring weer op te tel, sodat Niel dit nie mag agterkom nie.
Die twee jonges hardloop die bult uit wanneer ons uiteindelik by Vlooi en Adele-hulle se Ouplaas opdaag. Adele hoor die honde blaf en kom verwelkom ons agterosse gul. Ons maak reëlings vir aandete, belowe om die tafel te dek en vra of sy nie die volgende dag saam met ons wil kom stap nie. Haar oë blink en sy sê sy sal Vlooi vra!
Ons huisie vir die aand is spectacular! Hangplek, pakplek, ‘n knus sit-eetkamer en lieflike kaggel, die mooiste fynbos beddegoed en 2 badkamers maak ons harte warm en laat ons vergeet van ons seer voete. As hulle nou al so voel na net 22 km, wonder ek hoe hulle gaan voel na dag twee se 26 km. Na stort en uitpak, maak ons koffie en smul hongerig aan Adele se tuisgebakte beskuit, want die 12-uur middagete broodjie lê skielik vêr! Ons neem so tussendeur die etery bestek van ons dag.
Hy het dalk rooi van hoop begin in Malgas, en ons het dalk geel kanola velde gesien maar Anjé verklaar dit ‘n immergroen dag – veral na Lienke en Hymne se epiese vallery in die graanland! Dit herinner my aan Romeine 15:13 in The Message: May the God of green hope fill you up with joy, fill you up with peace, so that your believing lives, filled with the life-giving energy of the Holy Spirit, will brim over with hope. HOOP leer ek vinnig kan enige kleur wees.
Verder lag en gesels ons klompie die hele pad. Toe ek as jong student vir die eerste keer met my rugsak deur Europa getoer het, het ek deeglik oor elke item besin en herbesin — jy dra dit immers op jou rug. Mettertyd het ek besef dat daar ander, belangriker items is, wat alhoewel dit niks weeg of kos nie – dit ononderhandelbaar is, soos ‘n vreugdevolle hart! Wat ‘n voorreg om te kon getuig dat elkeen van ons groep, sonder dat ek enige iets genoem het, vol lag en terg, gesonde humor en blydskap loop. Dit beteken nie dat dit altyd maklik was of dat daar nie van ons was wat iets moes begrawe of deurwerk of verwerk nie – die teendeel is eerder waar.
Aandete is ‘n grênd besigheid vir eenvoudige pelgrims: ons dek tafel soos ons opdrag gegee is, maak die leë beskuitglasbottel vol aronskelke wat Louria iewers buite opgespoor het en val weg aan bobotie, geelrys, droë perskes soos my ma dit nog gemaak het en ‘n geweldige bak groente. Wanneer ons later opruim, skep ons die orige groente skaamteloos in vir die volgende dag – dit was net TE lekker.







