Dag 2 is Goudgeel en vol Engele

by Suria Scholtz

Ons Loop Met Hoop!

Dag 2 – Saterdag, 10 Augustus 

Kwart voor sewe is ons klomp gereed, horende doof vir die wind. Llewellyn stap ‘n draai buite en verklaar dit klink erger as wat dit voel. Nietemin raak ons stil en bid eers… Here, maak stil die storm – die een daar buite, maar ook die een wat so maklik binne ons kan woed, in ons hart en ons kop, want deur die eeue is U die God wat storms stilmaakl. Louria, beaam dit met ‘n kragtige kort gebed en Hymne, wat reeds die vorige dag verklaar het dat die wind nie gaan waai waar ons vandag langs die rivier stap nie, sê AMEN! By die hoofhuis kom Adele en Vlooi ons tegemoet. Adele is gestewel en gespoor vir die dag en ons kloek dankbaar om haar.

 In die eerste kanolaveld stop ons vir ‘n foto. Die twee jonges, Linke en Hymne, met Adele se toestemming, val eers hulle val – onder luide gejuig en gelag! Die twee het intussen besluit hulle gaan met die hulp van die tegnologie terugval in die Koringveld en opstaan in die Kanolaveld. Ons lief die nuwe generasie. Terwyl ons almal so rondstaan merk iemand skielik op hoe windstil die dag geword het. Eers kyk ons amper ongelowig na mekaar en dan breek ons uit in ‘n gejuig en gelag! Waarlik, ons het weggetrek in die geloof dat die wind sou stil word, en so ongemerk is dit presies wat die Here gedoen het. Almal sluk eers ‘n sluk – van aanbidding en danksegging, stil belydenisse oor klein geloof EN vaste vertroue inmekaargevleg, want 26 km is lank en in die moordende wind soos ons dit die vorige dag beleef het, sou dit nog langer kon word.

 Adele ken die MTB-fietsrypad goed en navigeer ons meesterlik deur velde, oor drade en verby landerye. Ons kom onder andere af op vier Zebras, spekvet geeët aan Vlooi se koring en hawer. Om die draai wag ‘n eland koei en kalfie ons in, net om hulle vinnig en geruisloos uit die voete te maak voordat ons ‘n mooi foto kan neem. Dit bring ons by die Potbergrivier wat ons na die goeie reëns moet oorsteek. Wat gewoonlik ‘n droë loop is, vloei sterk en ons trek gedwee ons skoene uit en stap gly-gly oor die mosbegroeide rivierklippe. Dit doen ons in die volgende uur of twee ses keer, want ons stap al langs die kronkelende rivier en daar is geen droeë driwwe nie. Ons gesels nog steeds en almal kry ‘n beurt om met Adele te kuier voordat Vlooi haar na 17 km op ‘n afgespreekte plek kom oplaai.

 Vlooi wil heel eerste weet van die wind, want dit was so erg waar hy was, dat hulle nie die landerye kon bespuit nie. Ons getuig net van die teenoorgetelde en Adele se oë blink. Ons bid eers seën af oor ons gashere voordat ons die Potbergrivier vir die sewende en laaste keer oorsteek en die bult deur die kanolavelde aanpak na die lang grondpad wat vir ons voorlê. Wanneer ons bo uitkom, merk iemand op dat ons van kop tot tone vol goudgeel spikkels is danksy die olieryke kanolastuifmeel. Ons is almal oorweldig deur hierdie onverwagse salwing en vir ‘n rukkie stap ons stil eerbiedig voor God.

 Wanneer ons die lang grondpad aandruf, begin ons die 26 km van ons langste dag voel. My hakskene stoom en blaas pynlik met elke tree, Cilmi se skouers trek rooiwarm saam onder haar rugsak en Lize sukkel om by te hou oor die rûens. Die laaste vyf kilometer waai die wind skielik weer. Wanneer ons by Vanderstelskraal se werkershuisie aankom, is ons ‘n klompie moeë maar dankbare pelgrims.

 As ek my skoene uittrek sien ek die blase een grote op elke hak en nog een langs my linkertoon. Louria pluk haar groen medisynetassie uit en begin opereer aan my blase: elkeen word oopgeknip en ontsmet. Ek lê in pyn en wonder hoe ek die volgende dag gaan oorleef. Vergete is die goudgeel salwing van ‘n paar uur gelede, die immergroen hoop en Malgasrooi uitstuur van dag een – ek ‘panic’. Dis wanneer Louria onthou van die genesende krag van heuning – maar waar kry ons heuning?

 Steffie natuurlik! Daar staan ‘n bottel heuning op die rak. Ons smeer dit dik op die rooi bloederige wonde en ek voel hoe dit die pyn uittrek. Dalk… net dalk is ek more reg? Gelukkig stap ons net 13 km op dag drie troos ek myself waar ek op die bed lê en my oë vir ‘n paar oomblikke toemaak. Louria kry iewers ‘n klein houertjie wat sy kan leeg maak en skep lepelsvol heuning daarin vir die volgende paar dae. Ek weet nie regtig hoe om daaroor te voel nie — kleingelowig of hoopvol?

 Rondom ses uur hardloop Steffie soos ‘n warrelwind by ons in met ‘n allemintige aandete. Ons gesels vinnig deur more se padkos en die roete. Op ‘n stadium sien ek sy frons so en dan verduidelik sy ferm maar beslis dat die kort dag NIE dag drie is nie, maar dag vier. Ons stap blykbaar more 23 km na Jack’s Place. Ek sluk my woorde terug en vra dat sy asb die pad vir my moet beduie – dié doen sy buite onder blouswart wolke wat enige oomblik hulle harte gaan uitreën.

 Ek hinke pinke redelik verslae terug na die knus eetkamer waar die dames vinnig tafel gedek en Llewellyn vir ons ‘n allemintige vuur aangesteek het. Ons maak Adele se groente warm wat ons al heeldag saampiekel, skep bakke vol pasta wat verdrink in die lekkerste tamatiesous deurdrenk met vars basil en die mooiste en lekkerste slaai wat ek nog ooit geeët het. Ons bestrooi die hele kosstorie met ‘n blok regte Parmesan. Die hele gastronomiese ervaring sit die hoop terug in my hart, die murg terug in my pype en dit ten spyte van 23 km wat vir ons voorlê in plaas van die 13 km wat ons gedink het. Wanneer ek die skokaankondiging na ete maak, is daar eers ‘n verslae stilte, dan giggel iemand senuweeagtig en dan herinner ons mekaar – ons loop met hoop!

 Dit herhaal ons vir mekaar wanneer ons later lekker knus en warm in ons bedjies lê terwyl die hemele bo ons oopbars met nog water vir die Overberg.