Dag Drie is Pers-Bruin en vol Halleluja Bulte

by Suria Scholtz

Ons Loop Met Hoop!

Dag 3 – Sondag, 11 Augustus

Lize het na die vorige nag se skokaankondiging dat ons 23 km en nie 13 km stap nie, besluit sy sit hierdie ene uit. Gewoonlik pak ons ons eie tasse agter in die kombi, maar vandag weier Lize. Wat gaan sy dan doen? Na De Hoop natuurreservaat toe gaan, beduie Llewelyn wat dit reeds gister bespied het. Haar oë blink opgewonde oor die vooruitsig van ‘n dag van stilte. Almal is bekommerd oor my, maar tussen Louria, die heuning, gebed, pleisters en nuwe skoene (ek het twee pare saamgebring) is my voete verstommend gereed vir die dag.

 Dis die eerste dag wat ons agt uur wegtrek en ek is dankbaar, want dis koud in die oggende en na die baie reën van die vorige dag skyn die sonnetjie maar yl die tyd van die oggend. Ons stap vanuit die staanspoor ompaaie in ‘n poging om die waterplasse, deurdrenkte weivelde en oorstroomde plaaspaaie te vermy. Hymne is ons gids met die uitstekende Komoot App wat Niel ons laat aflaai het ‘n week voor ons vertrek. Sy voorspel dat dag drie heel waarskynlik ons moeilikste dag gaan wees met die hoogste klim van al die dae.

 Ons is net oor die kruin van die pragtige Aalwynkop en dan sien ons dit – ‘n ellelange klipmuur wat letterlik kilometers voor ons uitstrek. Ons stap wat soos ‘n ewigheid voel langs die muur voordat ons ‘n gaping vind. Na aanleiding van God se opdrag aan Esegiël 22:30 kry elkeen van ons ‘n beurt om in die gaping te gaan sit – Ek het gesoek na iemand wat die muur wat die land beskerm, kon herbou, na iemand wat voor My in die gaping in die muur kon staan sodat Ek nie die land hoef te vernietig nie, maar Ek het niemand gekry nie. 

 Dis Sondag en ek verlang al heel oggend na my studentekind op Stellenbosch, op haar eie pelgrimstog met haar studies. Welbekend met terugslae, ompaaie, bulte en die wind van voor, stap sy moedig voort, want ook sy loop met Hoop! Wanneer ek en Hymne opstaan van die muur, stap ek soek-soek verder. Tussen die klein blommetjies wat oral ons pad versier, want die Duineveld is bitter mooi na die baie reën, bid ek om sewejaartjies te sien – Chara se geliefkoosde veldblom.

 Ons het nou weggedraai van die muur en stap parallel agter die Aalwynkop deur dik sand wat ons pas belemmer. Met die grond reeds deurdrenk van die baie winterreëns is groot dele van die tweespoorpaadjie vol water na die nag se baie reën en ons sukkel om deur groot stukke te kom sonder om ons skoene uit te trek. Op een spesifieke gedeelte word hierdie selfde nat sandpaaitjie aan weerskante begrens met bosse pers heide so ver as wat die oog strek. Dit voel inderdaad of ons deur die koninklike troonkamer van die Here stap. Net na die pers skouspel, kom ons af op plate en plate bruin riet. Hoe gepas, dink ek, dat die pers skouspel omring word met die bruin – want ons mensekinders moet gereeld herinner word om opreg en nederig in die teenwoordigheid van die Here te leef.

 Wanneer ons na ongeveer 12 km die kruin van die tweede hoogste koppie vir die dag bereik, stop ons eers vir ons middagete broodjie. Dis hier waar die Here my verras en ek op die enigste bossie sewejaartjies van al ses dae, afkom. Waarlik, God hoor en verhoor die eenvoudigste gebede en hartsbegeertes van sy kinders. Wanneer ons weer begin, lê die Soutpansvlakte in die bekende groen en geel Overbergse winterbaadjie uitgestrek voor ons. Ons is nou terug tussen die plase en stap op modderige paaie, deur plaasopstalle, verby bloudeurstore, oor boer-maak-‘n-plan-bruggies, langs bloekomlanings en by wit ganse, rooi beeste en skoongeskeerde skape verby.

 Dan sien ons hom – die lang bult wat Hymne ons vanoggend van vertel het. Skielik is die ander bulte kalfies in vergelyking met hierdie ene, maar ons loop met hoop en herdoop hom vinnig ons Halleluja-bult! Heel bo staan vyf swart perde soos standbeelde en betrag ons klompie vuil, moeë, modderbespatte vroue terwyl ons oor die bult steier. En dan breek die bult onverwags los in ‘n harde, ratelende, nasale “krraaaaarrrk” wanneer amper ‘n honderd bloukransvoëls skouspelagtig voor ons oë opstyg — net om grasieus op die oorkantste weiveld te gaan land.

 Ons is nou minder as ‘n kilometer van ons bestemming. Hymne het vandag baie swaar gekry en Linke huppel alleen vooruit – al met die bult af. Ons hinke-pinke agterna – kort op haar hakke. En dan sien ons dit – die laagwaterbrug oor die Karsrivier. Ons staan eers vir ‘n wyle en betrag die rivier wat sterk afkom en wat ons te voet moet oorsteek as ons vanaand by ons huis wil slaap. Ons eerste strategie is om saam op ons rooi fluitjies te blaas in die hoop dat iemand ons te hulp sal snel, maar al wat opkyk is die mak Zebra aan die oorkant. Dis Louria, die kortste van ons klomp, wat eerste skoene uittrek en deurstap. Sy is nat tot by haar bobene. Ons klomp volg agterna en kom skoene in die hand voor ‘n toe voordeur aan. Maar ons het skaars gesit, toe kom die bure, Robert en Marinda Blom daar verby. Hulle kom van ons gashere Cecilia en Boeta af. Die is blykbaar op pad met die sleutels.

 Cecilia se eerste woorde wanneer sy ons sien is, “Gee asseblief vir my julle wasgoed.”

Ons oë peul amper uit van skok. “Nee,” skree ons lot vrouens uit een mond – “NEVER!!” Natuurlik ry sy uiteindelik daar weg met twee reuse bondels wasgoed. Engele – elkeen van hierdie gasvrouens sê ek nou vir julle – nederige, dienende, gasvrye engele! 

 Llewellyn en Lize kom net na Cecelia daar aan met blink oë en stories van walvisse en stilte in die De Hoop natuurreservaat. Terwyl ons tasse indra, buitekrane en skropborsels soek om ons modderskoene te probeer skoon kry, wys Cecelia vir hom die buitebraai, rooster en braaivleis. Llewellyn is in sy element en beskou hierdie as ‘n verhoging. Hy het nie verniet elke aand vuur gemaak nie – nou word hy die braai koning!   

 Jack’s place is ‘n ruim plaashuis met baie kamers en badkamers. Oral hang pragtige skilderye en ons vind vinnig uit dat Cecelia en die meeste van haar vriendinne almal skilder. Op die eetkamertafel pryk ‘n enorme bos varsgeplukte varkore. Dis om die tafel waar ons later die aand weglê aan nog ‘n heerlike ete waarvan die lynsaadbrood, eintlik padkos vir die volgende dag, ons harte steel.  Gerrie bel midde ons kuier en ek skeur my los van die lekker lag en lekker eet! Hoe mooi kyk almal nie na ons nie, dink ek later die aand, terwyl ek lê en luister hoe die die jongklomp kaartspeletjies om die tafel speel.

 Die wysheid waarmee ek vanoggend by Steffie se plek weggetrek het nadat Louria my voete so mooi versorg het uit haar bodemlose Mary Poppins medisyne tas is:  Simplicity is overrated! En vannaand, net voor ek my oë toemaak, voeg ek by: and Silence is still Golden!