Die Wysheid van Bome
Ons Loop Met Hoop!
Dag 4 – Maandag, 12 Augustus
Net soos afgespreek, hou Cecilia en Boeta kort na agt uur by ons stil: Cecilia met die netjies opgevoude wasgoed en Boeta om ons deur die rivier te vat wat in die nag verder opgestoot het. Onder die geamuseerde oog van Nonna en Ounooi, die twee mak elande, ry Boeta ons in twee vragte deur die rivier. Louria ‘pose’ eers vir ‘n foto langs die twee watermerke waarvan vanoggend s’n haar by die skouers vat. Intussen het die gasvrou van Nactwacht laat weet ons moet tog nie voor twee uur arriveer nie, sy maak eers huis skoon na haar oorslaapgaste van die vorige nag.
Met net 13 km om te gaan, stop ons klomp eers by Marinda Blom op Rhenosterfontein, die buurplaas. Dis skaars een kilometer anderkant Jack’s Place en oral is daar bome: kaal winterbome, lang Bloekkombome, ‘n reuse Boomaalwyn styf teen die opstal sowel as ‘n laning koejawelbome versier die werf. Van al hierdie bome is dit egter die kolosale Witmelkhoutboom wat ons voor hulle deur bring. Die word reeds sedert 1786 deur sewe gelagte Bloms versorg en bewaar en is in 1993 tot ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Marinda bedien aan ons nagmaal onder hierdie boom se eindelose takke en lees voor uit Filippense 1: 9 en 10. Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.
Onder die reuse takke van die eeue-oue boom lees Marinda ook ‘n gedeelte voor soos geskryf deur Elisabeth Eybers, Ek sou graag na al die jare weer na bome luister om van hulle te leer wanneer die wind sy woede teen hulle uitstoot wens ek, ek kon soos hulle stormwys word. Daar is geen soepel weerstand so volkome soos die geduld en buigaamheid van bome.
Diep onder die indruk van ons Afrikaanse digters en inheemse bome, drink ons eers ‘n koffie en eet dadellekkernye by Marinda op die stoep en verkyk ons aan die troufoto’s van haar dogter onder die einste Witmelkhoutboom voor ons die pad vat na Nachtwacht – ons voorlaaste bestemming.
Ons loop al langs die Karsrivier, en kom op ons eerste skilpad van die stap af. Dis ‘n maklike, sonnige en windstil dag. Langs die tweespoor paadjie is daar oral byekorwe en ‘n hele paar merk op hoe die soet ruik van heuning oral in die lug hang. Ons drentel-stap verby ‘n ou murasie of twee, en wanneer ons naby ‘n oopte kom, sien ons hoe ‘n trop bobbejane, besig om uintjies uit te grawe, holderstebolder op vlug slaan. Ons is nie juis honger nie maar besluit om piekniek te hou op ‘n lappie groenigheid tussen twee geel kanolavelde om die heerlike droëwors en die res van ons lynsaadbroodjie te geniet. Hymne klim die windpomp sodat ek ‘n foto kan neem en ek maak ‘n padda skrik – per ongeluk, wil ek byvoeg as ek ‘n foto van naderby probeer kry.
Wanneer ons weer in die pad val, stap ons bietjie vinniger. Ons lot is al almal fikser as toe ons begin het, maar ter selfdertyd ervaar ons dat hersteltyd al hoe belangriker word. Hoe nader ons aan Nachtwacht kom, hoe meer modderig word die plaaspaaie. Wanneer ons net na 2 uur voor Nachtwacht se pragtige Kaaps-Hollandse opstal met sy afgewitte buitegeboue en strooidak-solderkamers aankom, lyk ons skoene en my broek net so erg soos die vorige dag.
Terwyl Llewellyn die bussie afspuit, skrop die dames hulle skoene. Laatmiddag doen ons ons eerste bybelstudie uit Lukas 24, oor die Emmausgangers — pelgrims, net soos ons. Ons doen dit op die “Discovery” Bybelstudie manier en almal kry ‘n beurt om drie vrae te beantwoord: Wat leer ons oor God? Wat leer ons oor die mens? Wat het vir jou uitgestaan? Dis raak ‘n informele en kosbare kuier net voor aandete. Llewellyn het ‘n aanlyn-vergadering en Louria besluit sy braai vanaand.
Wanneer ons later die aand weglê aan haar perfek gebraaide hoender, dank ons net weer die Here vir haar vele talente, want hierdie vegetarier kan waarlik ALLES doen!
Ek sluit my oë dankbaar vir hierdie genadedag, net om twee ure later wakker te skrik – môre stap ons oor die hangbrug – die ene wat toegemaak is vir die publiek en wat ons herhaaldelike male oor gewaarsku is. Ons moet dit onder toesig en een vir een oorsteek is daar oor en oor benadruk! EK stuur 11:30 in die nag vir Karin ‘n vinnige boodskap – is daar ‘n alternatiewe roete as iemand ongemaklik sou voel? Dan slaap ek ongestoord verder tot die volgende oggend.







