Die Krag van Water en Kuns
Ons Loop Met Hoop!
Ons klomp val vir slag weer sewe uur in die pad. Net voor dit kom lewer Karin heerlike wortelmuffins, elkeen pragtig toegedraai, by ons af. So tussen die kuier en groet deur noem sy dat haar man, Attie, sê die hangbrug sal geen probleem wees nie! Ek juig stil-dankbaar vir die bevestiging dat my spannetjie maklik en veilig sal kan oor!
Wanneer ons vir oulaas by die pragtige Nachtwacht muur stop vir foto’s, onthou Cilmi dis ‘n bekende skildery van Rembrandt. Cecilia, Marinda en Karin is vriendinne en al drie se skilderye het die mure van ons gastehuise en ons harte die afgelope dae versier. In werklikheid het die naam weinig met die bekende skildery te make. Dit is ‘n verwysing na die man wat elke nag by die rivier waggestaan het om die die perdekarre te waarsku as die rivier sou afkom.
Vandag is ‘n reguit grondpad wat na 15 km in die De Mond Natuurreservaat doodloop. Op Karin se aandrang, stap Liezel nie hierdie gedeelte saam nie, want sy voel nie lekker nie. Wanneer ons so ‘n kilometer van De Mond is, belowe ons om Llewellyn te bel sodat hy haar kan kom aflaai vir die laaste sewe km. Hymne wat elke dag met ‘n seer enkel stap, sukkel ook vandag meer as gewoonlik en my maag maak ‘n snaakse draai. Wanneer ons so 5 km ver is, soek twee van ons naarstigtelik na ‘n badkamer, maar die grondpad bied geen beskerming nie. Ons besluit om by ‘n nabygeleë plaashuis te gaan aanklop. Hier nooi Marjolyn ons binne.
Die plaashuis en voorstoep staan vol dekor elemente vir NAMPO waaraan Marjolyn werk terwyl sy na sewe beseerde Springbokkies omsien – meesal daar afgelaai deur die bure, want sy was ‘n verpleegster in haar vroeë dae. Ons klomp wil nog kuier, maar die nat pad roep. Gesluit vir openbare verkeer bo by die teerpad se afdraai, stap ons oor nat kleigrond, verby groot waters, verspoelde landerye en stootskrapers terwyl watervoëls hulleself oral gate uit geniet. Ek onthou Karin het genoem hulle kla nooit oor te veel reën nie – as die koringoeste swak is, is hulle ten minste verseker van kos vir die diere. Maar droogte, dit is ‘n verskriklike ding.
Wanneer ‘n wit bakkie verbykom, vra Hymne dat ek hom stop. Ons vra die twee mans of sy agterop by die drie skaaphonde mag opklim en ‘n paar kilometer kan saamry. Louria sluit by haar aan en weg is hulle. Nou is dit ek, Cilmi en Linke, die formidabele Ma-dogter duo, en Anje wat verbete voortbeur. Op ‘n stadium is die pad so nat, ek is nie seker of die kombi sal kan deurkom nie. Ek het dit skaars gedink, toe kom Llewelyn en Lize daar verby – die kombi vol modder en Llewellyn erg in sy element oor die onverwagse nat pad en 4by4-avontuur.
By De Mond aangekom, wag die ander 3 al vir ons. Die hangbrug is ‘n vulletjie en ek wonder hoekom was almal so begaan. As sendeling het ek natuurlik weer in my geestesoog so ‘n dun mankoliekerige bruggie gesien iewers hemelhoog in die Nepali berge met ‘n paar sparretjies wat elke hier en daar weg of stukkend is. In my verbeelding hang die hele kontrêpsie aan ‘n paar lamlendige verinneweerde toue as gevolg van die wind en weer en is die ankerposte losserig en jare laas gediens. Die hangbrug oor die Heuningnesrivier is egter net die teenoorgestelde en met die hulp van Ralph, ‘n vriendelike natuurbewaarder, stap ons gehoorsaam een vir een oor die ruim netjies brug wat met die groot vloede verlede jaar so bietjie seergekry het. Net daarna klim hy in sy kar en vat gou vir Hymne terug na Llewelyn wat by die teerpad se afdraai vir haar wag. Vandag wil haar enkel en maag nie saamspeel nie.
Aan die oorkant van die Heuningnesrivier stap ons die koppie uit na die piekniekplek met sy aemrowende 360grade uitsig oor sekerlik een van die mooiste dele van ons land. Behalwe vir Lize, is dit ons pelgrims se eerste blik op die see. Die wind begin weer opsteek en ons klomp talm nie te lank op die hoogtetjie nie. Daar is nog so 7 kilometer oor na Klipfontein Keep en ons klomp is almal lus vir ‘n vroeë dag.
Ons stap fluks met Linke, ons huppekind heel voor. Ek en sy hou ons horlosies dop, en mik-mik om so 1 uur by ons bestemming te arriveer. Wanneer ons ‘n pyltjie kry na links, see se kant toe, lê die pad seker nog so 2 na 3 km voor ons. Niemand stop om die Komoot App te raadpleeg nie, almal stap net vinniger – tot ons by twee elande kom. Dis vreemd, sê ek en Linke dat ons nog nie tuis is nie terwyl die wild oor die horizon verdwyn. Cilmi kyk gou vinnig vir ons en daar is dit – ons moes nooit afgedraai het nie, ons is al amper 3 km uit op môre se pad. Ons klomp draai verslae om, terwyl ons probeer uitfigure hoe ons die pad gemis het. Uiteindelik is ons dit eens – hulle moet ‘n bord op die damwal sit, dis te verwarrend. Om te dink ons was ‘n skrale 500 meter van ons bestemming. Niemand kla regtig nie – wat klaar gestap is, is klaar gestap
By die pragtige Klipfontein Keep se reuse grasdakopstal word ons klomp moeë pelgrims deur ‘n kleurvolle Frieda Khalo skildery op die stoep en ‘n warm melktert op die eetkamertafel begroet. Dis ‘n besondere huis, prakties uitgelê met keurige dekor en kleurvolle kunswerke op die mure. Na al die stof en modder, wind en water van dag 5, is hierdie tuiskoms van ons laaste aand by Jenny Uys meer as wat ons kon dink of droom.
Teen hierdie tyd is almal al gekonfyt in hulle take. Llewelyn pak gewoonlik vir ons af. Terwyl party kamers en beddens uitsorteer, maak ander koffie en almal eet beskuit. Daarna doen elkeen sy eie ding. Party verken hul nuwe omgewing en neem fotos, terwyl ander hulle rugsakke uitsorteer vir die volgende dag of joernaal skryf by die tafel en mekaar herinner aan alles wat die dag gebeur het. Tussendeur word daar beurte gemaak om te stort. Vroegaande maak Llewelyn gewoonlik vir ons vuur terwyl ons begin opruim, die volgende dag se padkos uitsorteer en natuurlik tafel dek – soos Adele ons geleer het.
Hier op ons laaste aand kuier ons ekstra lank om die tafel. Die Here voorsien olyfolie, asyn en sout, danksy Jenny se goedtoegeruste huis. Louria het nog heuning by haar en so kyk ons terug oor ons week. Wat was bitter? (asyn) Vir wie was ons sout gewees en wie was op hulle beurt sout in ons lewens gewees? (sout) Wat het die Heilige Gees vir ons gesê of gewys? (olie) En wat was die hoogtepunte? (heuning) Dit ontaard in ‘n heerlike en eerlike kuier. Almal se harte loop oor voor die Here, diep bewus van Sy goedheid en guns midde wat by tye onmoontlik gevoel het – beide op pad en in ons eie lewens. Vriendskappe is gesmee, karakter is gebou, genade is uitgedeel en dankbaarheid is vermenigvuldig.







