Eendrag Maak Mag
Ons Loop Met Hoop!
Die laaste dag breek aan. Jenny daag kort voor agt op met ons padkos. Sy weet nou reeds dat ons nie die volle 21,5 km gaan stap nie. Ons hoef net 12 km te stap, dan het ons ‘n volle 120 km in ses dae gestap en ons het besluit dit is goed genoeg. Dis vir ons belangriker dat almal saam stap en saam klaar maak en 12 km bly 12 km! Omdat Hymne die vorige dag dele gemis het, beteken dit sy sal 110 km in 6 dae gestap het en Lize gee nie regtig so baie om nie. Waarheid is, sy het meer gestap as wat sy ooit kon dink of droom en daarop is sy en ons super trots. Waarskuwings van stormwinde vir die dag is ‘n ander rede hoekom ons die stap bietjie kort wil knip. Boonop lê George ver en Anje se kinders doen sport en die Paarl is ook nie om die draai nie.
Hymne is weer ons gids, het ‘n plek gekry van waar ons moet begin stap en Llewelyn maak seker hy kry ons daar. Vroegoggend langs die see is windstil. Ons klomp babbelbekkies is nog stiller terwyl ons op die sagte sand in Struisbaai se rigting loop. Dit voel half snaaks om te dink ons avontuur is amper verby.
Wanneer ons by ‘n roomysstalletjie verbystap, koop Cilmi vir ons almal roomys. Ons lag uitbundig oor die soet lawwigeid so vroeg in die oggend. Hierdie laaste 10 km van die roete stap ons al langs die teerpad na en deur Agulhas tot by die Lighuis waar ds. Franziska Andrag Meyer ons inwag met ons sertifikate. Die wind waai nou stormsterk en ons soek skuilte aan die agterkant, waar ons ‘n wyle met haar kuier en deel oor ons ervaring. Met haar pragtige alt stem sing sy die Here se seën oor ons sewe pelgrims uit. Ons neem vir oulaas ‘n foto en dan is alles verby.
Ons sewe sal nooit weer dieselfde wees nie en al weet nie almal hoekom hulle gestap het of wat presies die Here kom wys of doen het in hulle lewens nie, is almal dit eens – ons wil dit weer doen. Mens moet dit gereeld doen. Wanneer doen ons dit weer??
Danksegging teenoor Ds Gerrie, Kobus en Ria, Niel en Sharon, elke gasvrou-engel op ons pad, Llewelyn wat ons so mooi versorg en ons bagasie agter ons aangery het, ons mans wat ons laat gaan het, ons kinders wat sonder ons moes klaarkom – waar begin mens dankie sê, wonder ek vir ‘n oomblik? By die Here, die Skepper van die Hemele en die Aarde – kom ons begin by Hom, want aan Hom kom toe – al die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid vir sy troue liefde elke tree van ons pad. Mag ons hierdie selfde afhanklikheid openbaar by ons huise, terug in ons roetines en die sloer van elke dag. Bowenal, mag ons hoop uitstraal na vriend, vyand en vreemdeling en dit midde storms, gure weer en vloede. Mag ons die krag van skeppende kuns, gasvryheid en die natuur herontdek en so veilige hawens word vir ‘n verloregaande massa wat ankerloos ronddobber. Dankie ook aan elkeen wat in die Gees saamgetap het. Ons maak volgende jaar weer so!







