Dag-vir-Dag
Liewe luisteraars, ons skop die splinternuwe jaar af vandag met ‘n skrywe en terugblik van Suna Potgieter oor 2023, volgeprop met lesse vir 2024.
Suna woon in Heidelberg, Wes-Kaap saam met haar man, Werner.
Haar passie in die lewe is om ‘n omgewing vir haar medemense te skep waar hulle veilig en gemaklik voel om hulself te wees. Sy hou daarvan om te verstaan hoe mense en dinge werk, om te sien wanneer legkaartstukkies van menselewens in mekaar pas en hoe dit deel vorm van God se groter plan. Van 8-5 is sy ’n mediesefonds-adviseur, maar buite daardie ure ’n obsessiewe leser, amateurskrywer en wannabe-fotograaf.
Op haar blog, Enroute-stories, pak sy storiestapels soos merkers langs haar lewenspad met die Here, as tekens van sy goedheid, ingrypings, antwoorde en daarwees. Vandag gesels sy met ons oor hoe om dinge dag-vir-dag te vat.
DAG-VIR-DAG
Ek is ‘n lysiemens en hou nie van verrassings en onbeplande gebeure nie.
Ek is daardie persoon wat nie op en af spring van opgewondenheid wanneer die naweekplanne skielik verander nie – selfs al verander dit van vervelig na opwindend. Ek het tyd nodig om aan nuwe idees en planne gewoond te raak.
Voor ‘n vakansie hou ek daarvan om te weet wanneer ons gaan ry en terugkom (datum EN tyd), waar ons gaan oorbly en wanneer ons by wie gaan kuier.
Ek kan potensieel uitdagende situasies weke vooruit bedink, planne maak, opsies oorweeg en insette vra sodat ek voorbereid kan wees.
En omdat ek weet dat sake selde uitwerk soos ek beplan het, kan ek vir aande aaneen rondrol, myself bekommer en my gedagtes toelaat om te kraaines totdat die knop op my maag en die rots op my skouers ondraaglik raak.
Aan die einde van 2022 begin die Here met my praat oor oorgee en dinge dag-vir-dag vat: iets wat NIE natuurlik vir my kom nie.
Die eerste uitdaging vir 2023 is Kleinsus se voorgenome studies. Daar was genoeg om oor bekommerd te wees en te probeer uitsorteer: studiegeld, bekostigbare blyplek, lewenskoste … Hoe hard ek ook al probeer, die somme wou nie klop nie en die planne nie uitwerk nie. Totdat ek eendag vir haar sê: nou ontspan ons en vat weer die probleme in Januarie aan wanneer ons daarby kom! Ons vertrou nou die Here vir wat nodig is, want ons weet mos haar lewe is in Sy hande.
In dié tyd lees ek ook iets wat Corrie ten Boom gesê het: “Worry is carrying tomorrow’s load with today’s strength – carrying two days at once.”
Voor ons nog in Januarie kan BEGIN planne maak, voorsien die Here bekostigbare blyplek en ‘n deeltydse werk waarmee Sus haarself in die studiejaar kan onderhou!
So begin my “dag-vir-dag”-paadjie met die Here: Ek vra myself af hoe erg KAN dit dan nou wees as ek nie ‘n plan vir alles het nie – veral vir die dinge wat ek nie eers met sekerheid weet of dit gaan gebeur nie. Ek begin myself paai wanneer ‘n dag nie verloop soos ek voorsien het nie – en kom agter dit is glad nie so erg nie.
Ek plaas minder druk op myself (en hopelik ook op my nabymense) om vir alles vooruit ‘n plan te hê. Wanneer planne nie uitwerk nie, maan ek myself om rustig te raak en te kyk waarheen gebeure nou gaan lei. Wel, ek kry dit dalk net twee uit vyf keer reg, maar dit is reeds twee keer meer as verlede jaar.
Met my pa se hospitalisasie en amputasie word ek weer getoets: die hospitaal kan nie met sekerheid sê watter dag die operasie gaan wees nie, wanneer my pa oorgeplaas of ontslaan gaan word nie – alles is op ‘n wag-en-sien-basis. Tussendeur moet ek verblyf kry, werkreëlings tref (en op kort kennisgewing verander), ritte tussen Heidelberg en George beplan en ander mense se skedules in ag neem. Dit voel asof ek ‘n spinnerak moet weef met die wete dat enige van die drade enige tyd kan loskom en dan moet alles weer oorgedoen word.
Ek val terug in my ou manier van doen: rondrol, scenarios uitspeel, planne van A tot Z uitpluis, totdat ek van pure uitputting en nie-meer-weet-nie oorgee en opgee: ek sal maar weer dag tot dag probeer.
Al val alles toe nou nie sommer net so in plek nie, en al is daar steeds nie antwoord op baie van my vrae nie, is ek rustiger, en cope ek beter. Moet ek soms onnodige ritte doen en reëlings op kort kennisgewing verander? Vir seker!
Maar het my lewe uitmekaar geval as gevolg van die onsekerheid? Nee! Hier en daar ‘n bietjie ongerief, dalk ‘n onnodige onkoste of twee, maar ek het heelhuids anderkant uitgekom, met minder slapelose nagte, minder spanningspierspasmas en meer lewensvreugde.
Deesdae het my sukses-“rate” opgeskuif na DRIE uit vyf vir rustig bly en dit dag-vir-dag vat wanneer iets nie uitwerk nie. Ek probeer myself gereeld herinner dat die Here mos reeds weet hoe môre en die dae daarna lyk en dat ek Hom kan vertrou om my die nodige krag, insig en geduld te gee wanneer ek dit sou nodig kry en wanneer planne nie uitwerk nie.
Ek sien verskeie plekke raak waar die Here ons maan om dinge nie vooruit te loop nie:
Matteus 6:27: “Wie van julle kan sy lewe selfs met een uur verleng deur daaroor bekommerd te wees?” (Inteendeel, navorsing bewys dat bekommernis eerder ons lewens verkort!) en vers 34: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie.”
Spreuke 19:21: “¢n Mens kan hoeveel planne maak, maar op die ou einde gebeur wat die Here besluit het.”
Filippense 4:6-7: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou.”
Spreuke 3:5-7: “Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys. Moenie jou eie wysheid oorskat nie.”
Ek onthou hoe die Here in die woestyn vir die Israeliete net genoeg manna vir die dag gegee het. Dit bly een van die groot uitdagings in my lewe, om nie dinge vooruit te loop en myself te bekommer oor die dag van more nie. Stadigaan leer ek dat ek dalk met my fokus op beplanning en my eie onbuigbaarheid die Here se verrassings vir môre heeltemal mag misleef as ek nie oppas nie!
******
Suna, wat ‘n voorreg om hier op die drumpel van wat bekend maar ook nuut en vars is, herinner te word aan God se getroue nabyheid in 2023. Ek glo ons het elkeen ‘n soortgelyke getuienis van Sy besondere bemoeienis in ons lewens in die jaar wat was. Mag dit ons anker en selfs opgewonde maak oor 2024, ongeag die onbekendheid van wat voor ons elkeen lê. Die belangrikste is dat God in beheer is en dat Sy belofte van Kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd, ons opnuut vandag versterk!







