Danksegging
Jeanne is getroud met Christopher Agenbag, en saam met hul ses kosbare kinders, het hulle diep spore in Afrika getrap die afgelope 40 jaar. Jeanne is reeds Ouma van 8 kleinkinders. Dis altyd vir my ‘n groot voorreg om aan Jeanne se voete te sit. Vandag gesels sy met ons oor een van die belangrikste Koninkryksbeginsels vir Christene…
Danksegging
My pa het baie graag Sondag middae gaan kuier. Ons kon nie ry, voor ál die kinders en die bossie blomme, pakkie bekuit, of watter geskenkie ook al, ingelaai is nie. Die patroon was so deel van ons gesintradisies, dat ek dit as blote bedagsaamheid aanvaar het.
Die verwagting, dat enige goedgemanierde kind ook altyd vir alles moes dankie sê, was net nog n toepassing van dié beginsel. Ek het egter eers baie later ‘n ander verband en groter prentjie begin raaksien.
Pappa was wel heeltemal reg.
Dankbaarheid maak deure oop en nooi jou binne om gasvryheid en guns te geniet.
Die Woord wemel van opdragte om dankbaar te wees. God beloof dat mense wat met lof en dank naderkom, Sy tempel en Teenwoordiheid mag betree.
‘ n Opregte, dankbare mens kan ook nie terselfde tyd vol bekommernisse wees nie. Die Here onderneem om ons lofsange Sy troon te maak. Sy teenwoordigheid sal beslis angstigheid help afweer!
Die woordjie ‘dankie’ kan so maklik gesê word, maar ontsluit dus eintlik ‘ n baie groot krag. Die gesag en goedheid van die gewer, word nou deel van my mondering en vaardigheid.
Dankbare mense is nie oneerlike dromers nie, maar wel afhanklikes wat die Vader se beloftes glo. As kind het ek my pa se gebruik van n geskenkie vertrou en my eie gemaak.
Ek wil bly groei in gehoorsaamheid aan my hemelse Vader se opdrag om n dankbare hart te hê.
******
Liewe vriendinne, ek wil graag hier inspring en Jeanne se gedeelte beklemtoon. Vanjaar is die 10-jaar herdenking van Ann Voskamp se 1000 Gifts. Tien jaar gelede het iemand dit in my hand gestop en letterlik my lewe gered toe alles om my wou intuimel van spanning, eindelose uitdagings en totale moegheid van liggaam, siel en gees. My lewe het ‘n dramatiese wending geneem met die lees en herlees van hierdie boek. My kinders is grootgemaak op hierdie beginsel en moes daagliks ‘n lysie neerskryf van waarvoor hulle dankbaar is. Op tye was dit vir hulle amper te veel, maar ek is so dankbaar ek het deurgedruk. Vandag, 10 jaar later, wanneer dinge swaar gaan, onthou hulle Ann se waarheid, ingeskerp deur die daaglikse lysie wat eknverwag het.
In haar boek deel Ann ‘n besondere getuienis van genade en sy doen dit met eerlikheid en kreatiwiteit en laat ons toe om saam met haar die volheid van I Korintiërs 11:23,24 te ontdek — Dit is wat die Here self gesê het en wat ek destyds aan julle oorgedra het net soos ek dit ontvang het. In die nag waarin Jesus verraai is, het Hy brood geneem en nadat Hy God gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam, dis is vir júlle. Gebruik dit ter heinnering aan My.”
NADAT HY GEDANK HET, het hy die brood gebreek – dit is my liggaam, dis vir júlle! Die verstommende waarheid verskuil in die simbool sentraal tot die hele evangelie – die breek van die brood en die neem van die nagmaalwyn het Jesus ingestel nadat hy die Vader gedank het — ten volle bewus van wat vir Hom voorgelê het!
In die oorspronklike Grieks staan daar Eucharisteo en dit beteken ‘he gave thanks.’ Verskuil in die woord vind ons twee ander woorde: charis wat genade beteken en chara wat vreugde beteken. Sy skryf… “Is the height of my chara joy dependent on the depths of my eucharisteo thanks?”
Ann maak haar hart oop aan haar redaktrise en die daag haar uit om ‘n lys te maak van 1000 dinge waarvoor sy dankbaar is. Ann hou van die uitdaging en spring met oorgawe in. Sy kom vinnig af op Paulus se brief geskryf gedurende sy huisarres in Rome aan die Filippense. Hy skryf in hoofstuk 4:11,12 Ek sê dit nie omdat ek iets kortkom nie. Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort.
Sy snap dit dadelik – ons moet geleer word om ‘n lewe van danksegging te leef!
Dit is waarlik my gebed die week dat elkeen van ons die volheid van hierdie waarheid sal ontdek en dit met oorgawe sal uitleef binne ons gesinne – net soos Jeanne se Pappa dit uigeleef en gemodelleer het aan sy kinders.







