Twee duisend jaar gelede, een middag om drie uur, hang die Seun van die mens aan die kruis; blaas die Seun van God, sy laaste asem uit; skeur die voorhangsel van die tempel middeldeur.  Deur sy bloed baan God vir ons ‘n weg – vrye toegang tot die heiligdom.  Op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei, plaas Hy elkeen wat in hom glo se voete.[1] 

Twee duisend jaar gelede, een middag om drie uur, word ‘n man wat van sy geboorte af lam was, by die tempelpoort neergesit.  Petrus en Johannes daag saam met hom daar op, want dis die tyd van gebed.  Hier by Mooipoort, bedel hy daagliks by die tempelgangers. Op die drumpel van ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei, kan sy lam voete hom nêrens heen dra nie. 

In die hoop dat hy iets van hulle sou kry, bedel hy vir aalmoese, soos elke ander dag.  Geld om sy familie te help wat hom onderhou, geld om kos mee te koop, geld vir die huur.  Geld het Petrus nie, maar wat hy wel het, dit gee hy; “In die naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”

Deur hierdie wonderwerkende krag, word sy enkels sterk en staan hy op.   Vir die eerste keer sedert sy geboorte, stap hy self deur Mooipoort se groot koper dubbel deure, ryklik versier, die tempelhof binne.  Hier, heeltemal buite homself, spring en dans hy van vreugde, loof en prys hy die Here, want dit wat hy ontvang het is so ver verhewe bo wat hy gevra het, so uit proporsie meer as wat hy ooit kon dink of bid. Hy het gedink dat die antwoord op sy probleme geld en goed was, maar Petrus het hom gewys dat die antwoord Jesus was.

Dis was my en jou verhaal, mede gelowige voor ons eie ‘3 uur die middag’ ontmoeting met God.  Dit is vandag nog te veel ander se verhaal. Te besig om rekeninge te betaal, dubbele skofte te werk, besighede te red, kos te koop sit baie mense, net soos die verlamde, elke dag buite Mooipoort en bedel. Lamgelê deur hulle hulpelose liggaamlike toestand, besef hulle nie hulle groot geestelike nood nie. Buite die teenwoordigheid van God, kan hulle nie getuig van óf Sy heerlikheid óf Sy heiligheid nie; is hulle onbewus van Sy verbond, Sy vrede, en Sy veelvuldige beloftes. So naby die ingang en tog so ver, beperk en bepaal die bekommernis van more hulle denke, hulle besluite, hulle hele lewenswandel. 

Vriende net soos die verlamde man, kan ons nie onsself red nie; net soos geld, ‘n goeie opvoeding, die wetenskap of selfs goeie werke, ons nie kan red nie.  Dis 3 uur die middag.  In hierdie uur van genade, reik God uit na jou.  Vandag, as jy sy stem hoor, moet jy nie hardkoppig wees en jou hart verhard nie, herinner die skrywer aan die Hebreërs ons. [2]

Dit aan die een kant.  Aan die ander kant, is daar Petrus en Johannes, twee dissipels van Jesus. Petrus het so pas ‘n fenominale preekgeleentheid gehad tydens die uitstorting van die Heilige Gees.  Drieduisend mense is op daardie enkele dag bekeer.  Tog het dit nie na Petrus se kop gegaan nie.  Hy verstaan dat God ook vir die één omgee.

God nooi ons om by sy werk betrokke te raak.  Dit maak nie saak of dit in ‘n ander land, kultuur of gemeenskap as joune is nie. Dit maak nie saak van watter sosiale klas die mense is en of hulle oud of jonk is nie.  Wat belangrik is, is dat God ons uitnooi om saam met Hom te wandel.[3]  Hudson Taylor het graag getuig dat God vir hom gesê het: “Ek gaan China evangeliseer, en as jy saamstap, sal ek dit deur jou doen.”[4] 

Dis drie uur die middag en God is nog onverpoos aan die werk.  Sy uitnoding is dieselfde: “Ek gaan die skool evangeliseer, ek gaan die werk evangeliseer, ek gaan in die informele nedersetting evangeliseer, ek gaan in die hospital evangeliseer, ek gaan in die tronk evangeliseer, ek gaan in die parlement evangeliseer!  As jy saamstap, sal ek dit deur jou doen!   

 

 

 

[1] Hebreërs 10: 19,20

[2] Hebreërs 3:15

[3] Henry Blackaby – Experiencing God Principle

[4] https://www.preceptaustin.org/acts-3-commentary