Die Lang Arm van die Geloof
My vriendin Elize Burgers is getroud met Fouche en saam het hulle drie pragtige seuns en twee lieflike skoondogters. Vandag gesels sy met ons oor sekerlik die heel belangrikste bestanddeel van ons verhouding met God – geloof! Lekker luister na haar …
DIE LANG ARM VAN DIE GELOOF
Op ‘n sielsdonkernag, lank lank gelede, het die Gees sy Woord in my oor kom fluister en ek maak my binnedeur wawyd-oop vir geloof.
Mosterdsaadjie-geloof stoot sy wortels diep in my hart.
Uit die saadjie groei ‘n lang, dun arm met slanke vingers wat stewig gryp en klou.
‘n Lange, slanke arm van geloof wat ek oefen elke keer wanneer ek bo-oor ‘n berg reik wat hemelhoog voor my troon.
Die berg van realisme.
Die berg van die hier en die nou.
My geloofs-arm rek en strek ek bo-oor vandag se raas en blaas tot waar waarhede en beloftes ongesiens agter die berg lê, alles waarop my naam geskrywe staan.
Kleintyd staan ek in die koue skadu van ‘n logge berg wat bewys dat meeste huwelike geweef is uit hartseer-trane.
‘Trou-en-vir-ewig-gelukkig-leef’ pas in storieboeke, in mý wêreld leef ‘trou-en-vir-altyd-verdrietig-wees’.
Vreesagtig stoot ek ‘n hand uit en vir jare reik ek bo-oor puntige rots.
Tog breek die raak-vat-dag aan en sluit my vingers om Sy belofte dat ‘happily-ever-after’ my deel sal wees.
In die woorde van Shakespeare: “Love is a smoke raised with the fume of sighs.” En in vyf-en-dertig jaar het daardie gesug al gependulum van dolgelukkig tot moordgedagtes.
Om ma te wees gaan dikwels gepaard met onbeweegbare berge, daar verklaar deur dokters of spesialiste of slim opvoedkundiges.
Diagnoses uitgekap in klip.
Woordeloos keer ek in myself, hou my doof vir goedbedoelde woorde wat sogenaamde troos moet bring.
\In stilte reik ek hoër en hoër, kyk soms met afgryse na die bebloede skraapmerke aan my bleek arm, strek tot waar ‘n onrealistiese waarheid lê.
‘n Goddelike belofte waarop my kind se naam staan.
Soos ‘n spartelende duif, sluit my vingers, bring God se realiteit tot op my kind se tafel.
Die God-beskikte lewe anderkant bevindings, deur Hom beplan en voorberei.
Dieselfde hartstilte neem van my besit toe ‘n spesialis verklaar dat my rugbesering my lewenslank sal kniehalter.
Met pyn, lyding en rehabilitasie gaan haal ek die buite-sig-genesing en gryp sommer ‘n paar avonture as gepaste meevallertjie saam.
Dikwels gaan haal ek ‘n belofte met ‘n hart vol verwagting, net om met afgryse te staar na dit wat in my handpalm lê.
In plaas van genesing, lyding met ‘n baie lang ‘y’.
Die verwagte versoening, ‘n onoorbrugbare skeiding, ongeag die uitruil van olyftakkies.
In die plek van ‘n eindvlaggie, ‘n wag-tyd in die dal van niks.
‘n Niks wat soos ‘n bloedige warm somersdag stil in die lug bly hang.
Met ‘n balhorige vashou-geloof glo ek dat die onverstaanbare, ongemaklike, ongevraagde vir my ten goede sal meewerk.
Soms, meer as wat ek wil erken, oorweldig die geskreeu van klippe my: Jy is te oud, te siek, te arm, te verslete, dis te laat, omstandighede sal nooit verander nie, dis neusie verby, klaarpraat en gedaan… en kopskuddend draai ek weg van my berg en gaan sit die ketel aan, tooi my tafeltjie met koek en tee en nooi iedere-een na my jammer-kry-partytjie.
In nugter, dapper tye staar ek die waarheid in die oë: My arm is te kort om dit wat regmatig aan my behoort, te bekom.
Dis daai lang arm van geloof wat God se hart tevrede en gelukkig maak.
Wanneer my geloof toiing en rafel, klouter ek op Sy skoot.
Hy maak my sterk sodat ek die moed het om te gaan haal wat weggesteek in Sy wêreld lê.
Die onsienbare, onverganklike en ewigdurende dinge.
******
“So we look not at the things which are seen, but at the things that are unseen, for the things which are visible are temporal (just brief and fleeting), but the things that are invisible are everlasting and imperishable.”
2Cor. 4:18







