Dit was op die sesde skeppingsdag dat die engel na God toe gekom het.  “Wat sukkel U dan só om ‘n ma-mens gemaak te kry?” vra hy.

“Jy sal nie nog vra as jy die spesifikasies vir dié model gelees het nie,” sê God.  “Kyk net hier:  Sy moet volkome wasbaar wees maar nie plastiek nie; sy moet 180 beweegbare onderdele hê en van swart koffie en ‘n gesin se oorskietkos kan lewe; sy moet ‘n skoot hê wat verdwyn as sy opstaan; ‘n manier van soen wat haar man kan mal maak en ook enigiets van ‘n nerfaf knie tot die seerkry van ‘n afsêbrief kan regdokter.  En ses paar hande.”

Die engel het sy kop geskud: “Ses paar hande? No ways.” 

“Dis nie oor die twaalf hande wat Ek bekommerd is nie,” sê God, “dis die drie paar oë wat ma’s nodig het!  Een paar om deur toe deure te kyk as sy vra:  ‘Waarmee is julle daar binne besig?’ (al weet sy al).  Dan het sy agter haar kop nog ‘n paar oë nodig, sodat sy kan sien wat sy nie moet sien nie, om te kan weet wat sy moet weet.  En dan natuurlike die gewone paar voor in haar kop.  Sodat sy na haar geliefdes kan kyk en die boodskap oordra: ‘Ek is verskriklik lief vir julle en ek verstaan hoe julle voel’ – sonder om ‘n woord te sê.”

“Here,” sê die engel, “kom rus nou eers ‘n bietjie.  Môre is mos nog ‘n dag…”

“Dankie, maar ek kan regtig nie nou nie,” antwoord God. 

“Ek is op die punt om iets te skep wat nader aan Myself is as enigiets anders wat Ek die afgelope paar dae gemaak het.  Die ma wat Ek aan die maak is, het al klaar die vermoë om haarself gesond te maak as sy siek word terwyl haar gesin haar nodig het; sy kan ‘n gesin van sewe op minder as ‘n kilo maalvleis voed; en ‘n negejarige knapie sover kry om onder ‘n stort te gaan staan.” 

Die engel steek sy hand uit om die skepping in wording aan te raak.  “Sy is te sag… vir alles wat van haar verwag gaan word.”

“Maar vreeslik taai,” sê God.  “Jy kan jou nie voorstel wat dié model alles sal kan doen en verdra nie.”

“Kan sy dink?” vra die engel.  “Nie net dink nie, maar redeneer en kompromieë aangaan ook,” lag die Skepper.

Na ‘n rukkie buk die engel vooroor en raak met sy vinger aan die ma-mens se wang: “Jammer om te sê, maar hier is ‘n lekplek.  Ek het mos gesê U probeer te veel dinge in die een model inbou.”

“Dis nie ‘n lekplek nie,” sê die Skepper met ‘n glimlag.  “Dis ‘n traan.”

“Waarvoor is dit?”

“Dis vir vreugde en hartseer, vir teleurstelling en pyn, vir eensaamheid en trots.  En vir liefde wat so groot is dat ‘n mensekind se hart daarvan wil bars.”

“U is geniaal!” sê die engel.

“En sy is my meesterstuk,” sê God.  

 

 

 

[1] Stories vir die Lewe Omnibus, ‘n Boek oor Lewenswaardes, pg. 378