Christopher en Jeanne Agenbag woeker reeds vir baie jare in God se wingerd en het veral diep spore in Afrika getrap. Die Here het ses kosbare kinders en agt kleinkinders aan hulle toevertrou op ‘n lewensreis wat hulle onder andere deur Europa, Mosambiek en Zambië geneem het. Vandag gesels Jeanne met ons oor

DIE WAARDE VAN DIE GEHEEL

 Almal van ons het ‘n hele versameling unieke herinneringe. Een van my kosbaarstes, sluit ‘n prentjie in van ons gesin rondom die kombuistafel – elkeen op sy vaste plekkie.

 Aandetes is altyd afgesluit met Boekevat – waartydens ons saam gesing, gelees en gebid het. Die ouderdom van die kinders het bepaal of die verhale uit die geliefde Kinderbybel, met sy bekende prentjies, uit dagboeke of uit die Bybel sou wees. Die standvastige element was egter altyd pappa se mooi diep stem en opregte gebed.

 Ons ouers was afstammelinge uit families met ‘n ryke geskiedenis van toegewyde gelowiges. Die dissipline van ons Woord studie was dus ‘n uitvloeisel van hul persoonlike verhoudings met die Vader. Die begeerte was dat Sy Lig die pad sou aandui en Sy Woord die dag se brood sou wees.

 Terugskouend sien ek hierdie erfenis soos ‘n goue draad van verbondsgenade oor geslagte. Ek moes en wou egter my eie ontdekking en vennootskap maak en het vasberade begin Bybel lees. My leesstukkies was uiters kort en my aandagspan so beperk, dat ek my gebede neergeskryf het om nie te veel te dwaal nie. My standvastigheid het ook effe saamgehang met die boeiendheid van die spesifieke Bybelboek. Nodeloos om te sê – maar sekere dele was net mooit ingesluit in my program nie. 

 Te midde van die opwinding van my verhouding met Christopher, wou ons albei ‘n gesonde fondasie lê. Gretig het ons saam Bybelstudie gehou en alhoewel dit kosbaar was, het dit nie ‘n goeie patroon gewaarborg nie. Na ons troue het ons steeds bly soek na iets bevredigend en standhoudend.

 Sommige mense geniet vars afwisseling en veranderings, terwyl ander veilig voel binne vaster strukture. Die organisasie waarby ons betrokke was, het toegang verleen tot n baie groot boeke afdeling. Ons rakke het begin kreun onder die ryke versameling en ons lewens is uitgedaag deur die getuienisse en leringe. ‘n Kosbate familie tradidse van voorlesing, kon nou maklik voortgesit en uitgebrei word. 

 Ons het reekse boeke begin insluit en die tuisskool program daarby aangepas. Die gesin se Bybelstudie kon aangevul word met sending verhale en biografië. Die kinders het ‘n gewilde liedjie gesing, met hierdie eenvoudige tema:-

 “Die heel beste boek … Is die Bybel …”

 Ons wou dus steeds n liefde vir en toewyding aan God se Woord kweek. Een van die skatte in ons versameling, was die EEN JAAR BYBEL. Ons het aanklank bly vind by die planmatige vordering maar veral waardering gehad vir die afwisseling binne elke dag se gedeeltes.

 Die heerlike balans en bevestiging van temas wat mens so deurlopend ontdek, was opwindend. God se karakter, Sy verbondstrou oor geslagte en eeue, bemoedig elke leser. Die Skrif sluit egter ook skokkend verslae van sonde en afvalligheid in. Die eerlike getuienis van die geskiedenis, is opvallend en terselfde tyd gee dit hoop.

 Daar is egter ook die heerlike skattte wat byna weggesteek is. Lang lyste name sluit soms onverwagte detail in. Onder Nehemia se leiding word Jerusalem se mure herbou. Noukeurig word elke man se naam en werksplek aangeteken, maar dan verskyn die name van ‘n vader en sy dogters wat ook help bou het. Verskeie ander geslagsregisters of voorskrifte sluit ook persoonlike feite in. God stel beslis belang in individue en gee noukeurig aandag aan fyn besonderhede.

 Ons eie waardering vir die leesprogram, het daartoe gelei dat elkeen van ons kinders (en heelwat vriende ook) hul eie EEN JAAR BYBEL as verjaardag geskenk ontvang het. Dikwels sou ons ‘n nuwe ontdekking of kosbare insig met mekaar deel. 

 Ons span was jare gelede in ‘n uitdagende konflik situasie. ‘n Gewaardeerde vriend het kom help en optree as tussenganger. Ons vra later wat hom help om in sensitiewe omstandighede gebalanseerde en neutrale raad te gee. Sy antwoord was effe onverwags, maar motivetend:

 “My oordeel en insig moet uit die vrees van die Here vloei. Ek beskou dit dus noodsaaklik om die hele Woord van God sistematies te bestudeer. Sy waarhede is standvastig en Sy beloftes en waarskuwing word my riglyn”.

 As ek dan, ouder gewoonte, my Bybel by die dag se datum oopmaak, is daar n stukkie opwinding en afwagting. Elke deel van Sy Skrif is kragtig en lewegewend. Sy brief verklaar Sy liefde aan Sy bruid … en ek mag deel wees van hierdie genade.