Tweeduisend jaar gelede, een oggend om 3 uur, bevind die dissipels hulle etlike kilometers van die kus, in die middel van die See van Galilea.  Deur die golwe geteister en met die wind van voor, roei hulle al heel nag, maar hulle gespook is tevergeefs!  Met die elemente teen hulle en die golwe aangehits deur die sterk wind, is hulle vordering minimaal.  Jesus, wat alleen agter gebly het om te bid, merk hoe swaar hulle roei.  Dis dagbreek, die vierde nagwaak, wanneer Hy op die see na hulle toe aangestap kom. Wanneer Hy saam met hulle in die skuit klim, gaan lê die wind.[1]

Vierduisend jaar gelede, een oggend rondom 3 uur, bevind die Israeliete hulle etlike kilometers van die oewer, in die middel van die Rooi See.  Met al Farao se perde en uitgesoekte strydwaens, sy ruiters en sy beste vegsmanne, kort op hulle hakke, is die volk kwesbaar.  Met die water aan weerskante van hulle soos ‘n muur, vlug die Israelite op droë grond, maar skynbaar tevergeefs, na veiligheid.  In die vroeë môre veg die Here vir die Israeliete teen Egipte.  Dis dagbreek wanneer die see, op bevel van Moses, terugstroom en die hele Egiptiese leërmag verdrink![2]

Drie tot ses uur die oggend, in die tyd van die Romeine ook bekend as die vierdie nagwaak, word oral beskou as die uur van bevryding.  Dis wanneer God die deurbraak bewerkstellig -soos ons reeds hierbo gesien het.  Dink byvoorbeeld aan Jakob wat tot dagbreek stoei om God se seën te verkry. Dis ‘n keerpunt in Sy lewe. Hy kry ‘n nuwe naam en ervaar die vervulling van God se roeping op sy lewe. 

Ek weet nie waarmee jy stoei nie.  Ek weet nie watter duiwels jy beveg en watter uitdagings jou in die gesig staar nie. Ek weet ook nie hoe lank jy al so spook en spartel nie.  Ek weet nie van jou seer en verwerping nie.  Ek weet nie van jou armoede en gebrek nie.  Ek weet nie op watter belofte van God jy wag en hoekom die deurbraak wegbly nie.  Ek weet nie hoekom God jou nie dadelik antwoord nie.

Daar kan so baie redes wees, want God se wandel met elkeen is so uniek.  Maar een rede is sekerlik dat ons kan besef dat ons tot niks in staat is nie en niks in eie krag kan doen nie. Ongelukkig glo ons dit nie altyd regtig nie.  Dalk juis die rede hoekom God sekere situasies toelaat om te ontwikkel en oënskynlik niks daaromtrent doen nie.  Dink maar aan bogenoemde twee voorbeelde.  Eers wanneer God se kinders heel nag lank self beur en nêrens kom nie; heel nag lank vlug, maar nie vinnig genoeg nie – eers dan het God ons onverdeelde aandag.  Nou eers is ons gereed om die deurbraak te sien vir wat dit is – ‘n genadegawe van ‘n liefdevolle hemelse Vader, ‘n oorwinning behaal deur die Here van die leërskare, ‘n wonderwerk in plaas van ‘n eie werk.

Geen wonder dat die dissipels in die skuit voor Jesus kniel en getuig nie – Waarlik, U is die Seun van God!  Geen wonder dat die Israeliete die oorwinnaarslied tot eer van God sing nie – Miriam en die vroue met tamboeryne dans van blydskap nie!

Vriende, dis in hierdie vierde en laaste nagwaak waar Petrus op die water loop, waar die waaksame slaaf se lamp brand wanneer sy eienaar eers teen hanekraai tuis kom.[3] Mag God ook ons geloof onwankelbaar vind, ons getroue gebede soos wierook beleef want ook by ons is dit drie uur in die oggend. 

 

 

 

[1]Matteus14:25-27 en Markus 6: 48 – 50

[2] Exodus 14

[3] Lukas 12:38