Ek Trek Vandag 'n Ander Grou se Skoene Aan
Vandag luister ons na Sophia, al vir 13 jaar getroud met Charl Steenberg. Hulle het twee seuns, Hendré in Graad 4 en Regardt in Graad 2. Sophia het regte studeer en praktiseer tans as ‘n Boedel Meester en Finansiële Adviseur in George in die mooie Suid-Kaap. Behalwe dat die vrou nie haar lippe aan pampoen sit nie, is sy lief vir lees en skryf natuurlik. Sy is onomwonne – haar battery word gelaai deur ander mense en ander se stories is haar kos. Vandag dra sy ‘n ander vrou se skoene!
EK TREK VANDAG ‘N ANDER VROU SE SKOENE AAN
Ek trek vandag ‘n ander vrou se paar skoene aan. Dit gaan my nie helemal pas nie. Dit gaan heel moontlik nie eers gemaklik wees nie, al is dit redelik uitgetrap. Maar ek wil net vir ‘n entjie in haar skoene loop. Dalk gee dit my hoop… Moed. Insig. Wysheid.
Ma van Moses, hoe het jy geweet… dat hy die Israeliete uit Egipte sou lei? Hoe het jy dit oor jou hart gekry… om hom in ‘n rietmandjie te plaas en stroom op te stuur? Het jy geweet… Moses jou seun, was een van die braafste manne waarvan daar in die Bybel geskryf is?
Ma van Moses, het jy geweet… hy het ‘n spraakprobleem gehad? Soveel so, dat hy dit as ‘n rede voorgedoen het waarom dit nie hy kan wees wat die Israeliete kan bevry nie.
Het jy geweet… daar sal ‘n hedendaagse Moses wees, een wat berge gaan en moet versit omdat dit diep binne hom geplaas is. Omdat hy geroep is. Omdat hy, net soos Moses ‘n spraak-hekkie moet oorkom en dat hy ook maar wegskram vir verantwoordelikheid as gevolg daarvan.
So, Ma van Moses, ek het jou skoene aan. Ek moet in hul loop. My skoene is nog te nuut en blink as die son daarop val. Ek het ervaring nodig. Ek het skoene nodig wat uitgetrap is. Wat die pad ken. Want somtyds val my moed en my hart tot heel onder in my skoene. Hoe dan gemaak?
Ma van Moses. Ek is Sophia. Ma van Regardt!
Here, maak dit in my mamma-hart vas dat alhoewel my knieë wankel en my gees inmekaar krimp as ek dink aan Regardt se uitdagings met sy spraak – dat U hom reeds beplan het nog voor die vaslegging van die aarde. Dat hy ‘n baanbreker is. ‘n Man wat ‘n pad maak waar daar nie een is nie. Wat veg vir reg en geregtigheid. Wat nog plek maak vir mense in sy klein hartjie. Wat stories vertel. Wat met vreemdelinge praat. Wat een vraag op die ander vra. Wat geselsies maak met enige iemand wat wil luister…
Help my Here dat ek die wonderwerke en potensiaal raaksien terwyl ek in iemand anders se skoene loop…
Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.” Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.” Eksodus 4:10-12







