Geseënd As Ons God Vrees

by Suria Scholtz

#Geseënd As Ons God Vrees

PSALM 128

‘n PELGRIMSLIED

 Geseënd is hulle

wat die HERE dien,

wat wandel op sy weë.

Jy sal die vrug

van jou arbeid geniet

en gelukkig

en voorspoedig wees.

In jou woning

sal jou vrou wees

soos ‘n vrugbare wingerdstok.

Jou seuns sal wees

soos jong olyfbome

rondom jou tafel.

So seën die HERE

die mens wat Hom dien.

Mag die HERE jou seën uit Sion

sodat jy so lank as wat jy lewe

die voorspoed van Jerusalem

sal sien,

en ook jou kleinkinders sal beleef.

mag daar vir Israel vrede wees.

 Psalm 128 is een van die 15 pelgrimsliedere wat tradisioneel deur reisigers op pad na die drie feeste (Paasfees, Pinkster en Tabernakels), gesing is. Die Fees van Tabernakels, ook bekend as die Loofhuttefees, is ‘n herinnering aan die 40 jaar wat Israel in die woestyn deurgebring het sowel as ‘n viering van die fisiese oes wat jaarliks ingebring is ‘n vooruitskouing na die samekoms van die nasies om die Lewende God te aanbid met die wederkoms van Christus. Tydens Israel se onlangse Loofhuttefees het Christene van 53 verskillende nasies deelgeneem aan die kleurvolle Roll Call Of The Nations. Toe ek 32 jaar gelede die Fees bygewoon het, was ons 119 lande wat bymekaargekom het – almal geklee in hulle nasionale drag en met wapperende landsvlae – wat aan die byeenkoms ‘n besondere feestelikheid verleen het.

 Maar terug na Psalm 128, wat net soos Psalm 127 fokus op God se werk in en deur die gesin. Terwyl Psalm 127 ons waarsku dat die lewe, ons gesin en werk tevergeefs is sonder God, herinner Psalm 128 dat die lewe, ons gesin en werk geseënd is wanneer ons vir God lewe.

 Diegene wat vertroud is met verlede jaar se Wysheidsuitdaging op my blog, avividlife, sal onthou hoe DIE VREES VIR DIE HERE ‘n herhalende tema was. Trouens, alle wysheidsliteratuur in die Bybel het veelvuldige verwysings na die Vrees van die Here: Job, Psalms, Spreuke en Prediker. So verklaar God se Woord onomwonne ​​dat die vrees van God die kern van ‘n geseënde lewe is. Psalm 34 herinner ons dat diegene wie vir God ontsag het geen gebrek ly nie! Alle skrifverwysings rondom hierdie tema is eenparig in hulle verklaring dat vrees vir die Here gepaardgaan met seën. Spreuke 10:22 sê, die seën van die Here maak ryk, en Hy gee nie hartseer daarmee saam nie. In baie opsigte is Psalm 128 ‘n beeld van hierdie geseënde lewe aangesien die woord seën vier keer daarin voorkom in Engels en drie keer in Afrikaans.

 Vers 1 sê vir ons die geseënde lewe is nie afhanklik van ras, klas, opvoeding of selfs intelligensie nie, maar is beskikbaar vir almal wat God eer en respekteer deur ‘n lewe van gehoorsaamheid te lei. “Wandel in sy weë” is ‘n Joodse manier om te sê “gehoorsaam sy reëls.” Dit is Spurgeon wat ons herinner dat as die hart aan God verbonde is, sal die voete hom amper vanselfsprekend en toegewyd volg.

 Die psalmdigter brei uit oor hierdie seën in verse 2 en 3 deur ‘n hardwerkende man te beskryf wat die vrug van sy werk geniet en sy seëninge met sy vrou en kinders deel terwyl hulle om die tafel in ‘n warm samesyn verkeer. Met ander woorde, God seën nie luiheid nie, maar Hy seën werk. Net so seën die Here gesinne wat Hom vrees en gehoorsaam. Hierdie seën van die Here sluit ‘n gesin se diere en plantgewasse in – dat hulle vrugbaar sal wees en goeie oeste sal inbring. 

 Die beelde van druiwe en wyn sowel as olie van die olyfbome wat in die volgende reëls voorkom, was nie noodsaaklikhede vir oorlewing, soos koring of mielies nie, maar dit het die lewe soveel beter gemaak. Hulle simboliseer wel ‘n ryke seën, net soos om ‘n goeie vrou en kinders ‘n ‘n man se lewe verryk en seën.

 Maar terug na vers 4 waar die belofte van seën herhaal word vir diegene wat die Here vrees, en wie se gesprekke, optrede en besluite dit weerspieël. Dis Matthew Henry wat ons herinner dat diegene wat werklik heilig is, werklik gelukkig is.

 God se seën beweeg nou verder as die man wat suksesvol is in sy werk en geseënd is met warm gesinsverhoudings by die huis. Net soos so ‘n persoon se private belange floreer, net so sal hy die bykomende bevrediging hê om God se seëninge in die samelewing te sien. Die pelgrims wat hierdie lied gesing het, het nie in Jerusalem gewoon nie, maar daarheen gereis om God te aanbid en hom te ontmoet. As die godsdienstige en politieke hoofstad van die Jode, was die geestelike en sosiale vooruitgang van hierdie stad beslis ‘n belangrike prioriteit vir die godvresende man. Ons word herinner hoe Jeremia die ballinge in Babilon opdrag gegee het om die welsyn van die stad waarnatoe hulle weggevoer is, te soek. Met ander woorde, as God se volk die vooruitgang van Babilon ‘n prioriteit moes maak, hoeveel te meer moes hulle nie die belange en voorspoed van Jerusalem ‘n prioriteit maak nie.

 Vir ons as Christene, is Jerusalem vandag ‘n prentjie van die kerk sowel as ‘n prentjie van die hemel.  Met ander woorde, die Here verwag van ons om doebewus en aktief onsself daarop in te stel om Sy kerk en liggaam te prioritiseer deur goed te doen aan medegelowiges, naby en ver van ons en hulle welsyn te bevorder – net soos ons ons moet bewyer vir die welsyn van ons eie families.

 In vers 6 bereik die seën van die man wat die Here vrees sy kleinkinders. Dit herinner ons aan Spreuke 17:6 — Kleinkinders is vir grootouers soos ‘n koning se kroon. Pa’s is vir hulle seuns ‘n trots. Hoe belangrik om te verstaan ​​dat die godvresende man leef om ‘n vrugbare nalatenskap te hê, nie ‘n spoggerige leefstyl nie. Dis interessant dat hier aan die einde van vers 6, persoonlike en familie seën gekoppel word aan die welsyn van die samelewing: Mag daar vir Israel vrede wees! Met ander woorde, ons moet ons nie net beywer vir die voorspoed van die stad waarin ons woon nie, maar ons moet ons beywer vir die seën van die nasie waarin ons woon. As Christene verstaan ​​ons dat ‘n gesonde volk by ‘n gesonde kerk begin.

 Is dit nie ‘n pragtige psalm om ons jaar mee af te sluit nie? Soos wat hierdie psalm by ons geslag begin, beweeg dit na ons kinders se geslag en eindig dit by ons kleinkinders se geslag. So spoor die Here ons aan om verby hierdie lewe te kyk na die lewe wat kom.

*****

 Aangesien dit ons laaste Genade-uitdaging vir die jaar is, mag ons hierdie volgende twee maande neem om ons doen en late, ons besluite, finansiële besteding asook ons tydsbesteding, verhoudinge en drome in die vrees van die Here te oordink. Elkeen van hierdie is mos deel van die geseënde lewe wat so mooi beskryf word in psalm 128. Ontsagwekkende verwondering en opregte toewyding aan God, of dan – DIE VREES VAN DIE HERE vorm die kern van ons gemoedsrus, en is die hoofrede hoekom ons gesinne, woonbuurte, kerke, dorpe en land, tans vrede beleef. Mag ons Desembervieringe van die geboorte van Christus, ons Vredevors, Hom inderdaad eer en heerlikheid bring – en dit waarlik tot in alle ewigheid.