Geseënd deur Eenheid
#GESEËND IN ONS EENHEID
Psalm 133
‘N PELGRIMSLIED. Van Dawid.
Kyk hoe goed, hoe mooi is dit
As broers eensgesind saam woon!
Dit is soos reukolie
Wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aaron,
af tot by die soom van sy klere.
Dit is soos die dou van
Hermonberg
wat op die berge by Sion val.
Waar broers so saam woon, skenk
Die HERE sy seën;
‘n lang, lang lewe.
Verlede maand het ons by Psalm 132 stilgestaan. ‘n Psalm wat buitengewoon lank is vir ‘n Pelgrimspsalm, maar hierdie maand is ons terug by ‘n korter psalm. Psalm 132 vier God se teenwoordigheid by sy kinders en het as tema die verbondsark wat terugkeer na Sion onder Dawid se leierskap asook sy initiatief om ‘n permanente woning vir God in Jerusalem te bou. Psalm 133, die 4 de deur Dawid gepen, vier die liefde en harmonie waarmee mense saamwoon en bespreek die goddelike seën wat daarmee saamgaan. Die insluiting van hierdie psalm by die ander pelgrimsliedere herinner ons dat pelgrims afkomstig van al twaalf stamme versprei oor die ganse Koninkryk van Israel gereis het om die drie feeste in Jerusalem by te woon. Dit is heel gepas dat hy sal skryf oor samehorigheid en eenheid aangesien dit onder sy leierskap was wat die twaalf stamme die eerste keer verenig is.
Die gebruik van die woord “Kyk” nooi die leser of luisteraar om die betekenis van wat volg te oorweeg en beklemtoon die belangrikheid van die boodskap wat kom. Binne die konteks van die pelgrims op pad na Jerusalem, was nasionale eenheid uiteraard belangrik, maar die psalm beklemtoon ook eenheid binne individuele gesinne, asook tussen vriende en bure, jonk en oud, mans en vrouens wat almal met mekaar oor die weg moes kom. Onthou, na ‘n lang reis het almal meegeding om dieselfde verblyf, kos en water.
Terwyl Israeliete letterlik ‘broers’ was, is ons as Christene ook broers en susters, aangeneem en nou deel van God se familie. Vandaar die Ons Vader gebed! Eugene Peterson sê dit so mooi: “Geen Christen is ‘n enigste kind nie.” Tweedens is dit baie betekenisvol dat broederlike eenheid beide goed EN mooi is. Die woord wat met “mooi” vertaal word, beteken ook “soet of lieflik”. In Hebreërs 12:11 lees ons dat dissipline goed, maar nie lekker is nie. Ander dinge is lekker, maar nie goed vir ‘n mens nie, soos te veel heuning. Tog is dit goed EN mooi om saam in eenheid saam te leef. Ek dink die volgende gediggie, lekker tong in die kies, som dit goed op: “Om daarbo saam met heiliges wat ons liefhet te leef, o, dit gaan so ‘n heerlikheid wees. Om hieronder saam met heiliges te leef, wel, dis ‘n totaal ander storie!”
Maar kom ons loer bietjie na die twee beelde wat Dawid gebruik om hierdie harmonie te beskryf. Hy vergelyk eenheid eerstens met die salwing van Aron, die Hoëpriester, waar die olie oor sy kop uitgegiet word. In sy tweede beeld vergelyk hy dit met dou wat op die berg Hermon val en afloop na die Sionsberg. In beide voorbeelde word die seën van bo so mildelik uitgestort dat dit vanself afvloei na onder. Dit herinner ons sterk aan Jakobus 1:17: “Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte.” God is inderdaad die bron van goddelike gawes, en daarom is dit ook ‘n genadegawe om in eenheid saam te leef.
Die beeldspraak van olie in die Bybel is dikwels ‘n simbool van seën, toewyding en die teenwoordigheid van die Heilige Gees. In Bybelse tye was dit algemeen om iemand se kop met olie te salf, soos Jesus in Lukas 7:46 bevestig. En lank voor Jesus is Israel se Hoëpriester in ‘n spesiale en heilige tradisie met olie gesalf. Die spesifieke formule vir die olie wat vir die salwing van Aäron, die eerste hoëpriester, gebruik is, kry ons in Eksodus 30. Dit was ‘n mengsel van olyfolie, mirre, kaneel, kassia en riet. Met sy salwing het die mengsl oor sy kop, baard en skouers gevloei, teen sy borswapen met die stene wat die 12 stamme verteenwoordig het, tot op sy kleed se soom. Dit is belangrik om by te voeg dat die Hoëpriester se klere keurig en spesifiek ontwerp is en groot betekenis gedra het. Onder andere het dit die heiligheid, diens en skoonheid van God se teenwoordigheid gesimboliseer.
As Christene verstaan ons dat die salwing van Aäron vorentoe wys na Jesus, ons Hoëpriester en beloofde Messias. As wedergebore gelowiges verstaan ons dat soos God Sy Heilige Gees op Jesus, die Hoof, uitgestort het, net so het Jesus die Heilige Gees op sy liggaam, die kerk, uitgestort. Wat hierdie beeld verder besonders maak is dat Petrus na gelowiges verwys as ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige nasie wat in eenheid saamwoon.
Boice, ‘n Bybelkommentator, vestig ons aandag op die drievoudige herhaling van ‘af’, ‘afloop’ en ‘af’. Die Hebreeus gebruik elke keer dieselfde werkwoord en beklemtoon dat die seën van Aäron se salwing van bo gekom het, met ander woorde, van God self. Dis is ware eenheid, soos alle goeie gawes, ‘n geskenk van God en nie deur mense uitgedink nie; ‘n seën veel meer as ‘n prestasie.
In die tweede beeld gebruik die psalmdigter die berg Hermon in die verre noorde van Israel. Met n hoogte van 2814 meter is die berg bekend vir sy koel nagte en swaar dou. Terwyl dit in die winter met sneeu bedek is, is dit groen en nat in die somer. Daarteenoor is Sion in die suide van Israel ‘n skrale 765 meter hoog. Dit ontvang ook min dou en weinig reën in die somermaande. Hoe wonderlike sou dit nie gewees het as die dou van Hermon op die Sionsberg geval het nie! Net soos die olie is die dou ‘n simbool vir die Heilige Gees, waarsonder eenheid in Christus nie moontlik is nie. So staan daar in Efesiërs 4 dat ons elke poging moet aanwend om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van vrede.
Die val van die dou, net soos die afloop van die olie, illustreer dat eenheid ‘n geskenk van God is. Daarsonder is ons lewens so droog en dor soos die Sionsberg. Eenheid onder God se mense maak ons floreer en hou ons gesond midde alles.
Die laaste reël, waar broers so saam woon, skenk die HERE sy seën en ‘n lang, lang lewe – beklemtoon hoe belangrik dit is dat Christene mekaar lief het, om verskoning vra, mekaar vergewe en kan versoen. Wanneer ons dit doen, sal ons Christelike eenheid ervaar en God sal sy seën stuur. Hoe meer ons op hom fokus, hoe groter sal ons eenheid wees, want aanbidding, eenheid en seën is alles saamgebind. Sulke eenheid gee vir ons ‘n voorsmaak van die volmaakte gemeenskap wat in die hemel op ons wag.







