Geseënd deur God se Beskerming

by Suria Scholtz

#Geseënd deur God se Beskerming

Psalm 121

‘n Pelgrimslied

Ek kyk op na die berge:

waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

My hulp kom van die Here

wat hemel en aarde gemaak het.

 Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;

Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.

Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie

en Hy slaap nie.

 Die Here beskerm jou,

die Here bewaar jou van alle gevare.

Bedags sal die son jou nie steek nie

en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.

 Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar,

jou lewe sal Hy beskerm.

Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,

nou en vir altyd.

 My twee jong volwasse dogters het my gehelp om hierdie tweede pelgrimslied te lees, aangesien dit heel waarskynlik ‘n antifonale psalm was. Dit beteken die leier van die geselskap, in hierdie geval, ekself, sou met verse 1 en 2 open, en dan sou verskillende mense in die geselskap, in hierdie geval, my dogters, met verse 3 en 4 antwoord, totdat die psalm ten volle deurgesing is. Dis alsof ek die pelgrims sien opkyk na die verafgeleë berge rondom Jerusalem, terwyl hulle die lied loop en sing. Kan jy ook in jou geestesoog sien hoe die pelgrims die lied sing terwyl hulle nou en dan opkyk na die verafgeleë berge rondom Jerusalem?

 Die tema van Psalm 121 is God se beskerming oor sy volk. Die woord shamar (vertaal as waak in die Nuwe Lewende Vertaling en beskerm in die meeste ander vertalings) word ses keer in hierdie relatief kort psalm gebruik, wat ons herinner aan God se getroue leiding en aktiewe teenwoordigheid, ook op ons lewenspad.

 Aangesien dit die lied van ‘n reisiger of pelgrim is, word areas van kommer uitgelig:

  • Pelgrims kon verkeerd trap of oor ‘n los klip struikel en hulself seermaak.
  • Hulle kon sonsteek opdoen, want ‘n groot deel van die land is dor en droog.
  • Hulle kon met die maan gepla word, soos die ou mense na geestessiektes verwys het. Angs en moegheid kon egter nie net ‘n emosionele tol eis nie, maar agv die uitkamp in die koue, kon hulle fisiese moë liggame maklik ‘n erge verkoue opdoen.
  • Ten slotte was daar altyd die moontlikheid dat rowers hierdie klein groepies reisigers iewers langs die pad voorlê.

 Net soos die Joodse pelgrims die lang pad na die hoofstad, Jerusalem, drie maal per jaar aangepak het, is ons as Christene ook op reis, ons bestemming — die hemelse Jerusalem. Daarom weerklink die bekende openingsreëls van die psalm, ek slaan my oë op na die berge – waarvandaan sal daar vir my hulp kom, ook in ons harte.  Op soortgelyke wyse, wanneer uitputting intree, en ons fisies of emosioneel oorweldig word deur ‘n bepaalde gedeelte van ons lewenspad, kan allerhande werklike of denkbeeldige gevare ons oorweldig. Te midde van sulke beproewinge weet gelowiges instinktief dat hulle hulp nie van die skepping kom nie, maar die Skepper en daarom verklaar ook ons: My hulp kom van die HERE, wat hemel en aarde gemaak het.

 Vir Peterson gee hierdie psalm erkenning aan God as die een wat heers oor tyd, want Hy bewaak beide ons begin en einde. As Skepper van die son, maan en rotse is Hy ook die Here wat heers oor die natuurlike en bonatuurlike. Dit is ook belangrik om te besef dat hierdie psalm nie ‘n verklaring is dat ons nooit ons tone sal stamp nie, maar eerder dat geen besering, siekte of ongeluk oor ons sal heers nie. Die onderliggende belofte is dat niks ons kan skei van God se doelwitte vir ons lewens nie. Dus, terwyl ons nie ‘n probleemvrye lewe belowe word nie, word ons ‘n wel-beskermde lewe belowe!

 Opvallend is die talle verwysings na God in die kort psalm. Sy naam Yahweh of Here kom drie keer voor en daar is ongeveer agt verwysings na hom as Beskermer, ‘n rol wat Hy vervul beide vir die nasie Israel sowel as die individu. Die les is voor die hand liggend: as pelgrims moet ons getuienisse nie fokus op die beproewings op ons lewenspad nie, maar eerder op die karakter van die God wat met ons wandel, ons bewaar en oor ons heers!

 Stel jou voor, Hy slaap of sluimer nooit nie. Soos ’n ma wat geleer het om lig te slaap, sodat sy kan hoor as haar kind in die nag huil, is God ewig waaksaam en bedag op ons hulpkrete. Tog mag ons nooit vergeet dat Hy God is nie en dat daar wel tye is waar Hy vereis dat ons wag – veral wanneer dit vir ons beswil is en oor Sy eer gaan.

 In die laaste twee verse, 7 en 8, word die frase, die Here sal jou lewe beskerm drie keer herhaal. Dit is Spurgeon wat hierdie drievoudige belofte aan die Drie-eenheid koppel, asof God as Vader, Seun en Heilige Gees sy totale toewyding aan sy dissipels doelbewus met hierdie herhaling wou verseël.

 GENADE UITDAGING VIR HIERDIE MAAND

As dissipels en pelgrims op hierdie opwaartse reis na die nuwe Jerusalem, is daar een belofte wat regdeur hierdie psalm na vore kom, naamlik dat ons nie alleen reis nie. God het nie net medepelgrims voorsien om ons te ondersteun en te troos nie, Hy is self met ons elke tree van die pad. Of ons nou oorwinnings vier, oor verliese rou, vrees, angs en bekommernis ervaar of drome sien waar word, Christen-pelgrims het hierdie besondere versekering — dat God se beskerming nie net 24/7 met ons is nie, maar ons gees, siel en liggaam omsluit. Dus is dit hierdie maand my gebed maar ook my uitdaging aan jou – dat God jou oë sal oopmaak sodat jy hierdie medepelgrims sal raaksien, en nie net diegene wat jou kan help nie maar ook diegene wat jou hulp, ondersteuning, gebede en bemoediging nodig het op hulle reis.

 WAARHEDE:

God is just as present in the journey as in the destination. (Guzik)

Our exits and our entrances are under one protection. (Spurgeon)

The delays of God are not denials. (Wiersbe)

We need to wait in silence before the Lord. (Wiersbe)