#Geseënd in Werk en Rus

PSALM 127

‘n PELGRIMSLIED

As die HERE die huis nie bou nie,

swoeg die bouers tevergeefs daaraan.

As die HERE oor die stad nie wag hou nie,

bly die wagte tevergeefs wakker.

Tevergeefs dat julle vroeg opstaan,

eers laat tot rus kom,

kos eet wat moeisaam verkry is.

Netsowel gee Hy dit

aan sy geliefdes in die slaap.

Kyk, seuns is ‘n erfdeel

wat van die HERE kom;

die vrug van die moederskoot

is ‘n belonging.

Soos pyle in die hand

van ‘n krygsheld,

so is die seuns van jou jeug.

Gelukkig is die man

wat sy pylkoker

met hulle gevul het.

Hulle sal nie beskaamd staan

wanneer hulle met vyande

in die stadspoort woorde wissel nie.

Die meeste bybelkenners beweer psalm127 is deur Koning Salomo en nie Koning Dawid vir sy seun Salomo geskryf nie en ek ontleed dit dan ook so. Salomo was vertroud met huis bou sowel as die bewaking van ‘n stad. Tog het hy in sy wysheid verstaan ​​dat alhoewel God menslike inspanning verwelkom en dit van Sy kinders verwag het, Sy werk en Sy seën belangriker was.

Die bekende Latynse leuse, Nisi Dominus Frusta, is die eerste woorde van hierdie psalm en beteken: ‘Sonder die Here, Frustrasie.’ Interessant genoeg is dit die leuse van die stad Edinburgh in Skotland en kan dit tereg gebruik word vir die baie mense, onder andere Christene, wat probeer om hul lewens sonder die Almagtige te leef.

Salomo het baie te sê oor die luiaard in die Boek van Spreuke en tog praat hy in hierdie psalm met hulle wat te veel werk en dit tot nadeel van belangriker sake, soos die familie, die tema van verse 3 – 5. Psalm 127 handel oor ‘n gesonde werkswyse.  Dit verheerlik nie werk nie, maar dit veroordeel dit ook nie.

Die belangrikste gedagte in hierdie psalm is om te verstaan ​​dat dit God is wat die werk doen God bou en God bewaar. Dit vat ons terug na Genesis hoofstuk 1, “In die begin het God geskep” – nie “het Hy majestueus in die hemel gesit of “was Hy gevul met skoonheid en liefde nie”. Hy het geskep. Hy het iets gedoen. Hy het iets gemaak. Om hierdie rede verwys Eugene Peterson na Genesis 1 as ‘n joernaal van werk.

As Christene en dissipels van Jesus moet ons verstaan ​​dat ons werk ‘n natuurlike uitvloeisel van God se werk is. Dit plaas ons in die middel van wat God reeds doen, en bevry ons van die kompulsiwiteit van werk. Hilary van Poitiers waarsku dat elke Christen voortdurend waaksaam moet wees teen wat hy noem, “’n godslasterlike angs om God se werk vir Hom te doen.” Met ander woorde, die vloek is nie sodanig werk nie, maar sinnelose werk, ydele werk, futiele werk, werk wat onafhanklik van God plaasvind, verduidelik Eugene Peterson. Dit gebeur wanneer ons werk deur die verkeerde prioriteite, motiewe en metodes gedryf word. As Christene is dit vir God belangrik dat ons sal weet wat ons doen, hoekom ons dit doen en hoe ons dit doen.

Vers 1 bring ons by ‘n tweede waarskuwing, naamlik dat ‘n wag nie die veiligheid van ‘n stad kan verseker nie. Deur die eeue was sekuriteit nog altyd ‘n prioriteit vir die mens. In antieke tye is groot mure rondom stede gebou. Op verskeie punte langs so ‘n muur was torings waar wagte dag en nag gestasioneer was om inwoners te waarsku teen gevaar. Vandag het ons vir dieselfde rede sekuriteitswagte, waghonde en gesofistikeerde elektroniese toestelle.

Die redenasie is dieselfde as God die stad nie bewaak nie, is die pogings van mense om dit te doen, nutteloos. In die Bybel is daar twee sulke gevalle. Wanneer die mens homself probeer beveilig maar sonde ooglopend toelaat, soos met die toring van Babel en die vernietiging van Sodom en Gomorra, is die mens weerloos. In die tweede instansie is die mens wat God nie vertrou nie, maar op sy eie planne staatmaak om homself te beveilig, heeltemal weerloos teen die vyand. Die waarheid is dat ons net in God veilig is.  

Vers 2 waarsku ons teen nog ‘n misbruik van werk, wanneer ons die gesonde en redelike grense soos deur God vasgestel, oorskrei. Prediker 3:1-8 versterk hierdie gedagte en leer ons daar is ‘n tyd vir alles. Alhoewel elkeen van ons al tot ou nag toe aan ‘n projek moes werk om dit betyds klaar te kry, is hierdie waarskuwing op werkverslaafdes van toepassing, mense vir wie dit die norm geword het. 

Die werkolis se gejaag na wind en tevergeefse geswoeg versteur die delikate balans tussen die mens se behoefte om te werk en die noodsaaklikheid van rus. Weereens word ons herinner aan Genesis 1 waar werk deel was van die vloek wat God oor Adam uitgespreek het as gevolg van sy sonde. Tog het God reeds voor die sondeval die rusbeginsel daar gestel. God het die hemel en die aarde in ses dae gemaak en op die sewende dag het Hy gerus. Met ander woorde, terwyl werk ‘n gevolg van sonde was, het God genadiglik perke daarop geplaas deur die Sabbat in te stel:

o ‘n Genadige voorsiening vir die mens om te rus en te herstel.

o ‘n Tyd vir geestelike nadenke en aanbidding van God.

o ‘n Geleentheid vir ons om te leer om God te vertrou en so ons geloof te versterk.

Bogenoemde is redelik duidelik. Hoekom het die Israeliete dit dan so moeilik gevind om die Sabbat te eer en dit te heilig en hoekom sukkel ons vandag nog met hierdie selfde rusbeginsel? Die antwoord is ‘n mengsel van hebsug en ongeloof. Met ander woorde, aanhoudende en onafgebroke arbeid skend ‘n basiese geestelike beginsel, want God is vrygewig en gee vrylik aan diegene wat geleer het om in Hom te rus, nie aan diegene wat in hul eie krag na meer streef nie.

In teenstelling met die angstige gewoel en werfskaf waarmee stede gebou en besittings bewaak word in verse 1 en 2, verskuif Salomo se fokus in verse 3 tot 5 na die moeitelose werk om kinders te verwek. Voorafgegaan deur die frase, Net so gee Hy aan Sy geliefde slaap, ‘n moontlike verwysing na Salomo se ander naam, Jedidiah, God se liefling, gaan die psalm voort deur die wonder van voortplanting, soos deur God daar gestel, te vier. Interessant genoeg word kinders verwek wanneer ons ontspan, nie wanneer ons swoeg nie. Waarlik, God gee dit aan Sy geliefde in sy slaap. Die woorde wat in hierdie verse gebruik word, soos beloning en erfenis, herinner ons daaraan dat God kinders nie as ‘n straf of as ‘n las aan die mens gee nie, maar as ‘n guns en ‘n beloning. Hulle is ‘n simbool van wat goed en mooi is mits ons weet hoe om hulle te ontvang en op te voed, herinner Spurgeon ons.

Die vergelyking van kinders met pyle is juis daarom so gepas, want net soos pyle moet kinders:

o versigtig gevorm word.

o met vaardigheid en krag gelei word.

o goed versorg word anders gaan hulle nie reguit kan skiet nie.

o rigting gegee word, want op hul eie is dit nie moontlik nie.

o eenmalig uitgestuur word.

Hulle is

o ‘n verlengstuk van die vegter se krag en prestasie en

o het die potensiaal om baie goed of baie kwaad te doen.

Ek vind hierdie psalm heerlik prakties aangesien dit handel oor die twee areas wat die meeste van ons tyd verg en wat ons die meeste probleme gee ons werk en ons gesinne, twee areas wat konstant met mekaar meeding om ons aandag en energie. Dit is daarom belangrik om te onthou dat werk deel van die vloek was terwyl kinders deel van God se belofte aan die mens was.

Om hierdie rede is die mens altyd die hart van enige uitreik of bediening en word die sukses van ons werk nie gemeet aan prestasies of besittings nie. Dit lê opgesluit in die geboorte van nuwe verhoudinge want “Kinders is GOD se beste geskenk,” herinner Peterson ons. So groei ons kerkfamilie wanneer ons seuns en dogters, susters en broers ryker word.  Sulke ‘werk’ gebaseer op verhouding bou (en ek sit werk hier in aanhalingstekens) kan binne die struktuur van enige beroep beoefen word.

In die konteks van die tyd waarin Psalm 127 geskryf en gesing is, herinner dit ons dat die pelgrimstogte nie die fokus was nie, maar wel die aanbidding van God in sy heilige tempel! Maak nie saak hoe moeilik dit vir die pelgrims was om by Jerusalem uit te kom nie, Psalm 127 dwing ons om enige opofferinge of heldedade opsy te skuif en God en Sy werk weer die middelpunt van ons aardse bestaan te maak. Mag dit vir ons net so waar wees hier aan die einde van 2024. Mooi loop tot volgende maand!