Geseënd is die Gehoorsames

by Suria Scholtz

#Geseënd is die Gehoorsames

 PSALM 132

‘N PELGRIMSLIED

 Dink tog, HERE, aan Dawid,

aan al sy opofferings,

hy wat teenoor die HERE

‘n eed gesweer het,

‘n gelofte afgelê het

aan die Magtige van Jakob:

“Ek sal nie ingaan in die tent waar ek woon;

ek sal nie op my slaapbank gaan lê nie,

ek sal my oë nie toelaat om te slaap,

my ooglede om in te sluimer nie,

totdat ek vir die HERE ‘n plek gvind het,

‘n woning vir die Magtige van Jakob.”

Kyk, ons het daarvan gehoor in Efrata,

dit gevind in die velde van Jaär.

Laat ons sy woning binnegaan

en in aanbidding buig

voor die voetbank vir sy voete.

Staan up, HERE, gaan na u rusplek,

U en u magtige ark

U priesters moet geklee wees in geregtigheid

U troue volgelinge moet jubel.

Ter wille van u dienskneg Dawid,

moet U tog nie u gesalfde wegwys nie.

Die HERE het vir Dawid

‘n betroubare eed afgelê

En Hy sal dit nie herroep nie:

“Van jou nasate al Ek op jou troon plaas.

As jou seuns my verbond nakom

En my bepalings wat Ek hulle leer;

Sal ook húlle seuns vir altyd

Op jou troon sit.”

Ja, die HERE het Sion uitgekies;

Hy begeer dit as sy woonplek:

“Dit is my rusplek vir altyd;

hier wil Ek woon, want Ek begeer dit.

Sion se voedselvoorraad sal Ek ryklik seën;

haar behoeftiges sal Ek met verlossing beklee

en haar troue volgelinge sal uitbundig juig.

Daar sal Ek vir Dawid ‘n horing laat uitgroei;

Ek sal ‘n lamp gereedmaak vir my gesalfde.

Sy vyande sal Ek met skande beklee,

Maar sy kroon sal op hom skitter.”

Hierdie is die langste van die Pelgrimspsalms en fokus op die verbondsark in Jerusalem. Dit is hiernatoe wat vreugdevolle pelgrims van regoor die land optrek om God te aanbid. Eugene Peterson verwys na Psalm 132 as die psalm van Dawid se gehoorsaamheid. Vir ons doeleindes, gaan ons dit in twee verdeel:

Verse 1 – 10 is ‘n gebed waarin die psalmdigter vra dat die Here vir Dawid en sy begeerte om ‘n woonplek vir Hom te bou, sal onthou.

Verse 11 – 18 is ‘n poëtiese weergawe van die belofte wat die Here aan Dawid gesweer het (II Samuel 7) dat een van sy seuns vir ewig op sy troon sal sit.

 Psalm 132 vier Dawid se suksesvolle inval van Jerusalem as jong Koning en herroep die dag wat die Ark die stad binnegedra is. Die verbondsark, ongeveer 114 cm lank, 69 cm breed en 69 cm diep, was ‘n houtboks met goud oortrek. Die versoendeksel was van soliede goud en twee goudoortrekte cherbus is aan weerskante van die deksel geplaas. Dit is hiervandaan wat God met sy volk gepraat het. Dit is onder toesig van Moses gemaak en was ‘n simbool van God se teenwoordigheid. Die ark het saam met Israel vanaf Sinai getrek en hulle op hul woestynomswerwinge vergesel totdat dit in Silo geplaas is. Tydens ‘n oorlog het die Filistyne die ark verower en as ‘n oorlogstrofee ten toon gestel. Die ark het soveel onmin onder hulle veroorsaak dat hulle dit teruggestuur het na die Israelite waar dit ‘n tydelike woning in Kirjat-Jearim gekry het. Dawid het dit laat haal en na Jerusalem gebring waar dit uiteindelik in Salomo se tempel tot ruste gekom het.

 Vir die Israeliete was die geskiedenis van die ark die verhaal van God se teenwoordigheid en ‘n simbool van Sy bemoeinis met Sy volk. Dit het hulle herinner aan hoe belangrik God se teenwoordigheid was, maar ook hoe gevaarlik dit was om Hom te probeer gebruik.

 Maar terug by Dawid ‘n man na God se hart. Onder sy merkwaardige leierskap het Israel van ‘n los ongeorganiseerde groep stamme na ‘n hoogs georganiseerde monargie gegroei. Dawid het die Here met alles in hom liefgehad en hom graag deur die Psalms met sang en dans aanbid. ‘n Predikant het Dawid een keer as ‘n mensch beskryf. Dis ‘n woord beter bekend in Jiddish en beteken ‘n unieke, deursigte, aangename, plat-op-die-aarde tipe mens. Iemand wat jy nie anders kan as om te bewonder nie, want hulle is “REAL” soos die Engelse sal sê.

 Dawid het nie net Jerusalem as hoofstad gevestig nie, maar ook vir homself ‘n pragtige paleis gebou. Een nag kon Dawid nie slaap nie en dit het tot hom deurgedring dat God se woonplek in ‘n tent gehuisves is. Dawid het die profeet Nathan laat kom en die idee om vir God ‘n huis te bou met hom gedeel. Ons lees dit in 2 Samuel 7.  Alhoewel Nathan aanvanklik ingenome was met die idee, het die Here hom teruggestuur na Dawid, want uiteindelik sou hierdie eer hom nie toekom nie, maar wel sy seun. Tog het Dawid se hartsbegeerte God so behaag, dat Hy belowe het om op sy beurt vir Dawid ‘n huis te bou. Oor hierdie buitengewone belofte skryf een Bybelkommentator: “Goddelike beloftes leer ons hierdie groot waarheid dat God ons begeertes oor-beantwoord, en die armoede van ons versoeke beskaam deur die rykdom van Sy gawes. Hy is in staat om buitengewoon meer te doen en dit ver bo alles wat ons dink of vra.”

 Vers 14 lees: “Dit is my rusplek vir altyd; Hier wil Ek woon, want Ek begeer dit.” Dit sê vir ons dat sodra die verbondsark in Jerusalem aangekom het, die tabernakel nooit weer op reis sou gaan nie. Die tabernakel, die tempel, die altaar en die ark sou nooit op ‘n ander plek as Jerusalem rus nie. Spurgeon bring dit terug na die kerk en troos ons met, “as die Here in haar woon, sal sy nie wankel nie; as die Here haar begeer, kan die duiwel haar nie vernietig nie.”

 In die laaste drie verse lees ons van God se merkwaardige beloftes aan sy dienaars:

Ek sal ook haar priesters met verlossing beklee, en haar troue volgelinge sal uitbundig juig.  heiliges sal jubel… Ek sal ‘n lamp gereedmaak vir my gesalfde.Sy vyande sal Ek met skande beklee, maar sy kroon sal op hom skitter.

 In Christus word elkeen van hierdie Godsbeloftes aan Dawid vervul. Hy is die nuwe tempel, die woonplek van God by sy volk. Hy is die gesalfde koning wat vir ewig op die troon sal sit. Trouens, hoe meer ons in die verhouding tussen Dawid en Jesus delf, hoe meer verstaan ​​ons hoekom die storie van Dawid die langste enkele verhaal in die hele Bybel is.

 David Guzik, die bekende Bybelkommentator, herinner ons dat ten spyte van Dawid se grootsheid, sy lewe tydens ‘n seisoen van sonde en gevolglike familieskeuring, uitmekaar geval het. Binne ‘n paar geslagte begin Dawid se groot koninkryk verkrummel. Alhoewel Dawid se lewe begin het as ‘n bruisende rivier, het die krag van sy vorstehuis afgeneem tot ‘n stadig kronkelende rivier wat uiteindlik in ‘n stinkende moeras van menslike onbekwaamheid en sonde geeindig het. Dit is ‘n waarskuwing aan elkeen van ons dat selfs nie die beste van ons, soos Dawid, ‘n ewige Koninkryk kan bou nie.

 Dis eers met die afsterwe van ‘n lang reeks Dawidiese konings, dat Israel begin om die Dawidiese verbond met die komende Messias te assosieer. Ons sien dit in Lukas se vertelling van die geboorte van Jesus: “Hy sal magtig wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word, en die Here sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie.” Met hierdie woorde bring Lukas die leser terug na God se belofte aan Dawid in 2 Samuel 7.

 En so kom die twee helftes van Psalm 132 saam en word dit vervul in Jesus Christus. Hy is die huis, die tempel wat Dawid wou bou as woonplek vir die Here in Sion. Maar hy is ook die seun van Dawid, die ewige koning wat God sy volk belowe het sal met liefde en geregtigheid regeer.