Geseënd is die Hoopvolles
#Geseënd is die Hoopvolles
PSALM 130
‘N PELGRIMSLIED
Uit die dieptes roep ek na U, HERE.
My Heer, hoor tog my stem,
laat u ore aandagtig luister
na my smeekbedes.
As U sondeskuld toereken, HERE –
my Heer, wie kan dan staande bly?
Maar by U Is daar vergifnis,
sodat U ontsag afdwing.
ek wag op die HERE;
my hele wese wag,
en op sy woord vestig ek my hoop.
My hele wese wag op my Heer,
meer as wagte op die more.
Israel, vestig jou hoop op die HERE;
want by die HERE is troue liefde,
by Hom is volkome bevryding.
Dit is Hy wat Israel bevry
van al sy sondeskuld.
Nadat hy aan Oxford gegradueer het, het John Wesley vir etlike jare as sendeling in Georgia, die VSA, gewerk. Dis in hierdie tyd wat hy besef het dat hy nie werklik tot bekering gekom het nie, al was hy ‘n sendeling. Op‘n Woensdagmiddag, 24 Mei 1738, het John Wesley die bekende St. Paul’s Katedraal in London besoek. Hier is hy diep geraak deur ‘n koor wat Psalm 130 gesing het. Die psalm en musiek wat bekend staan as Dei Profundus, Latyn vir die eerste reël – “Uit die Dieptes!” het sy hart diep geraak. Daardie selfde aand het John Wesley sy lewe volkome aan Christus oorgegee terwyl hy ‘n voorlesing van die voorwoord van Luther se kommentaar oor die boek van Romeine bygewoon het.
Die 15 psalms, vanaf 120 tot 134, word pelgrimsliedere genoem omdat dit ‘n reis beskryf. Die psalmdigter wat in Psalm 120 breedvoerig vertel hoe hy uit Meschech en Kedar, twee bloeddorstige en oorlogsugtige stamme in Noord-Afrika en die Swart See, wegtrek, verteenwoordig pelgrims van alle ouderdomme en tye. Saam met hierdie pelgrims reis ons na God se woonplek en tempel, toe in Jerusalem en vandag in ons harte, om Hom in gehoorsaamheid te ontmoet, te aanbid en te loof en prys.
Hierdie vyf stelle van drie psalms maak van 3 herhalende temas gebruik: nood in die eerste, vertroue in die tweede en oorwinning in die derde. Psalm 130 is die tweede psalm in die voorlaaste groep van 2 met die hooftema een van hoop en vertroue. Die eerste ses verse is ‘n gebed waar die psalmdigter God om genade en vergifnis vra, terwyl die laaste twee verse oorvloedige verlossing beloof.
In die eerste twee reëls, wat begin met “uit die dieptes”, hoor ons die desperate krete van ‘n man wat besig is om te verdrink in al sy moeilikheid en probleme. Alhoewel ons nie met die detail van sy situasie bekend is nie, is ons wel bekend met die valleie van die lewe waardeur elkeen op die een of ander tyd moet stap as gevolg van ons sondige natuur.
Ten spyte van sy wanhoop, weet die psalmdigter dat God nie ver weg is nie. Omdat hy vertroud is met God se omvangryke liefde en totale vergifnis, vloei daar uit sy binneste ‘n nederige belydenis maar ook vaste Godsvertroue dat net Sy genadige ingrype Hom kan red.
Psalm 130 is die hulpkreet van ‘n man wat ‘n heilige en volmaakte God se toorn teenoor sonde verstaan en daarom Sy vergifnis desperaat soek. Ons sien dit veral in die manier waarop Hy God se naam agt keer herhaal in die bestek van ‘n paar verse. Dit wys ons ook dat die die psalmdigter besef dat NET GOD hom uit sy ernstige geestelike verknorsing kan help. Hierdie diepe begrip van wie God is en wat Hy vir hom kan doen, roer die psalmis om te bely, “maar daar is vergifnis by U, sodat U gevrees mag word.”
Tog moet ons onthou dat sondebelydenis nie pynloos, en vergifnis nie oombliklik is nie. Sonde kan blywende gevolge hê. Byvoorbeeld, dwelmverslawing kan permanente breinskade veroorsaak. Aan die ander kant kan sonde so ingrypend of afstootlik wees, dat daar ware en diepe berou getoon moet word. Byvoorbeeld, ‘n ongehoorsame kind wat ‘n bal in die huis gooi, die voorruit en/of ‘n antieke lamp breek, kan nie met ‘n nonchalante “jammer Pa” wegkom en byvoorbeeld nie help afbetaal aan die skade nie.
Die vraag is dus: vra God van ons meer as sondebelydenis? Dit is tog duidelik uit die Woord dat terwyl Hy ons vergewe, Hy nie die gevolge van ons sonde wegvat nie, maar seker maak dat ons die volle omvang en gevolge van ons dade, begryp? Die gemors wat ons sondige gedrag veroorsaak, kan selde vinnig of maklik afgehandel word. Byvoorbeeld het die Israeliete se woestynomswerwinge twee geslagte beinvloed, en was die ballingskap in Babilon, sewentig jaar lank. Die herhaling van ‘wag’ in vers 5 en 6 is opvallend kort op mekaar en dui op die psalmdigter se besef dat hy geduldig moet wag dat alles ten goede sal meewerk. Hy is in elk geval absoluut oortuig dat ‘n vergewensgesinde en genadige God vir hom sal deurkom en dit in Sy perfekte tyd.
Dit is hierdie getuienis van sy eie lewe, van hoe God hom uit die dieptes gered het, wat hom in die laaste twee verse na die volk laat draai en hulle aanspoor om sterk te staan in God se ewige hoop. Soos God se lojale verbondsliefde hom van sy fisiese nood gered het, net so sal Sy goedertierenheid die Israeliete van hulle geestelike nood verlos, en al hulle ongeregtighede en skuld uitwis.
Hierdie vreugdevolle verwagting van oorvloedige verlossing aan die einde van Psalm 130, Dit is Hy wat Israel bevry van al sy sondeskuld, spoor ons as Christene aan om in die woorde van Openbaring 22:20 uit te roep: “Ja kom, Here. Jesus!” Want inderdaad, Hy alleen is die hoop van die wêreld en onder sy vleuels alleen is daar genesing vir die sonde-wonde van al sy kinders regoor die wêreld. Kom ons roep dan met een stem uit hierdie maand: “Ja kom, Here Jesus!” – in my hart, in my huis, in my familie, in my liggaam, in my land, in my kontinent, in elke nasie, stam en taal.







