Geseënd is die Nederiges
Psalm 131
#GESEËND IS DIE NEDERIGES
‘n Pelgrimslied. Van Dawid.
HERE, my hart is nie hoogmoedig
en my oë nie verwaand nie.
Ek hou my nie besig met groot dade
of wat te wonderbaar is vir my
nie.
Maar ek het my siel tot kalmte
en bedaring gebring.
Soos ‘n kindjie by sy Moeder,
soos ‘n kindjie, is my siel in my.
Israel, vestig jou hoop op die
HERE,
nou en vir altyd.
Terwyl Psalm 131, geskryf deur koning Dawid, een van die kortste Psalms is om te lees, waarsku Spurgeon dat dit een van die langstesis om te leer. Op sy beurt noem Eugene Peterson dit ‘n instandhoudingspsalm aangesien dit ontslae raak van alles wat ons beter laat lyk in die oë van mense wat oppervlakkig na ons kyk. Hy verklaar onomwonde: “ons moet gesnoei word,” wat Jesus se woorde in Johannes beaam: Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg; maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.”(Johannes 15:2) David Powlison het breedvoerig oor Psalm 131 geskryf en herinner ons dat beide Jesus en Dawid koninkrykbouers was wat groot dinge bereik het en dit te midde opstand en moeilikheid. “Hulle aardse lewens word gekenmerk deur groot druk, ware vreugde, ongekende hartseer, diepe verontwaardiging maar ook leeuemoed.” Sy gevolgtrekking: “innerlike vrede kan te midde ‘n aksiebelaaide lewe, ryke verhoudings en daaglikse probleme ervaar word!”
Powlison is ook bekend vir sy teen-psalms (in Engels anti-Psalms) en het psalm 131 herskryf deur op die teenoorgestelde van ons geloofsoortuigings klem te lê.
Self,
my hart is trots (ek is behep met myself),
en my oë is hoogmoedig (ek kyk neer op ander mense),
en ek jaag dinge na wat te groot en te moeilik is vir my.
Uit die aard van die saak is ek raserig en rusteloos
van binne, dit kom vanself,
soos ‘n honger baba wat rondkriewel op sy ma se skoot,
soos ‘n honger baba is ek rusteloos met my eise en bekommernisse.
Ek vestig my hoop die hele tyd op alles en almal.
Ek weet nie van julle nie, maar daar was al tye in my lewe wat hierdie teen-psalm opgedra aan SELF my beter beskryf het as die ene wat Koning Dawid eeue gelede neergepen het. Psalm 131 se hooftema is Christelike volwassenheid en bespreek die ontwikkelingsfases van ‘n kind van God en veral sy groei in genade. Dit verduidelike Spurgeon se stelling waarna ek reeds verwys het, dat alhoewel dit een van die kortste Psalms is om te lees, dit een van die langstes is om te leer.
Dawid begin Psalm 131 met ‘Yahweh, my hart is nie trots nie, met ander woorde, ek sien nie neer op ander mense nie. Ek kritiseer of oordeel hulle nie. Dit herinner mens onwillekeurig aan Koning Saul se vervolging van ‘n jong Dawid. Reeds gesalf om die volgende Koning van Israel te word, was hierdie ‘n seisoen van wag op die Here. Ten spyte van die versoeking by ten minste twee geleenthede om dinge in sy eie hande te neem, was Dawid tevrede en het hy die Here vertrou met sy roeping en God se perfekte tyd.
Een Bybelkommentator stel dit so: “Die trotse persoon kyk, vergelyk, kompeteer en is nooit tevrede nie.” In teenstelling omvat Dawid se nederigheid sy hart en sy verstand. In die woorde van Eugene Peterson is Dawid se onomwonne verwerping van ‘n onversadige drang na ambisie en die bou van fabelagtige lugkastele, ‘n waarskuwing wat ons in 2025 veral ter harte moet neem. Hiermee beaam hy Spurgeon wat wyslik opgemerk het: “Die groot vernietiger van goeie werke is die ambisie om groot werke te doen”, En voor hom het die wyse koning Salomo gesê: ‘n Handpalm vol rus is beter as ‘n dubbelehand vol inspanning, en ‘n gejaag na wind.(Prediker 4:6)
Koning Dawid was heeltemal tevrede dat Hy nie alles hoef te verstaan het nie en ook hierin moet ons sy gesindheid volg. In sy brief aan die Romeine verklaar Paulus: O, die diepte van die rykdom van die wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe onnaspeurbaar sy weë!” Toe God Job aan die einde van sy verhoor konfronteer, het Job nederig voor God bely: “Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie…”
Maar wat is die teenoorgestelde van trots en arrogansie? Dis Peterson wat ons waarsku in sy meesterstuk, A Long Obedience in the Same Direction, dat die sonde van om te veel oor onsself te dink ‘n keersy het, en dit is om te min van onsself te dink, of dan om te stoei met ‘n lae selfbeeld, selfbejammering, selfhaat, skugterheid, vrees vir mislukking en verwerping. Peterson verwys na sulke mense as deurmat-Christene en mismoedige heiliges, mense wat huilend aan God vasklou in ‘n amperse neurotiese afhanklikheid.
In die Engelse psalm word hierdie kind van vers 2 beskryf as “a weaned child”, of dan ‘n gespeende kind, ene wat nie langer aan sy Mamma se bors drink nie. Alhoewel ek nie in die Afrikaans hierdie beeld in enige van die vertalings kon opspoor nie, wil ek graag hierdie beeld wat in die Engelse vertalings gebruik word, verder verduidelik. ‘n Kind wat nie langer sy Mamma se melk drink nie, sit rustig op haar skoot, nie met die gedagte om kos by haar te kry en sy honger te stil nie, hy sit by haar en geniet haar nabyheid, liefde en geselskap omdat hy vir haar as persoon lief is.
Die herhaling van hierdie frase vir beklemtoning vereis dat ons dieper daarna moet kyk. Alhoewel die speenproses vir die kind vreemd en verskriklik mag lyk, is dit nodig vir sy ontwikkeling. Op dieselfde manier wil God hê dat ons volwasse moet word. Paulus skryf in sy brief aan die Korintiërs: Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneerr soos ‘n kind. Noudat ek volwasse is, het ek die dinge van ‘n kind agtergelaat.(1 Korintiërs 13:11) Die skrywer van die Hebreërs herhaal hierdie sentiment: Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog ‘n kind. Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei. (Hebreërs 5:13,14)
Mag God inderdaad elkeen van ons deur Sy Heilige Gees lei om Satan, sonde en self se stem in ons lewens stil te maak, ‘n stem wat vanuit elke denkbare skerm en koerant probeer om ons aandag te trek. In hierdie voortdurende stryd is dit belangrik om te onthou dat God weet wat ons nodig het voordat ons Hom vra. God verwag dat ons Hom kinderlik sal vertrou. Dit volgende raad wat ek iewers raakgelees het, verduidelik dit mooi:
Goeie More!
Dit is God,
Ek sal vandag al jou probleme hanteer.
Ek sal nie jou hulp nodig hê nie.
So, jy kan ontspan.
Mag jy ‘n wonderlike dag hê!
Met ander woorde, ‘n kind van God ervaar die vrede van God. So iemand is stil en nederig-tevrede in God se teenwoordigheid.
In die laaste vers, draai Koning Dawid na die volk en maan hulle om hulle hoop op God te vestig. Dit sluit aan by Psalm 130:7 waar die psalmis geskryf het: “Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.” Onfeilbare liefde of liefdevolle barmhartig is die Hebreeuse woord ‘Chesed’, wat ons aan ons verbondsidentiteit herinner, want dit beteken onder andere lojale liefde.
Dit is interessant dat Dawid wat psalm 131 begin met HERE, dit afsluit met Israel! Een kommentator noem dat wanneer ons wegkyk van onsself en opkyk na die Here, dat ons ander rondom ons sal begin raaksien – mense wat God vir ons sal wys wie ons kan help en bemoedig.
My gebed vir ons hierdie maand is dat ons ons trots voor God sal bely, volkome na Hom sal terugdraai asook ons meerderwaardige houding teenoor ander sal laat staan. Saam met dit moet ons ons obsessie om alles te weet en te verstaan, laat vaar. Saam met Koning Dawid moet ons nederig en tevrede God se teenwoordigheid binnegaan en met hoop na ons situasie en die wêreld rondom ons kyk. AMEN. Mag elkeen van julle ‘n geseënde maand beleef!







