#Geseënd is die Volhardendes

 PSALM 129

‘N PELGRIMSLIED

 Die Here sny die bande af

 Baie kere, vanaf my jeug

Het hulle my verdruk.

Laat Israel nou ook sê:

Baie kere, vanaf my jeug

het hulle my verdruk,

maar hulle kon nie die oorhand

oor my kry nie.

My rug is vol snye,

asof lang vore

daarop geploeg is.

Maar die HERE is goed;

Hy het die bande afgesny

waarmee die goddeloses

my vasgemaak het.

Mag almal wat Sion haat

skaam omdraai.

Mag hulle wees

soos gras op ‘n dak,

wat verdroog

voor dit kan uitspruit,

en hy wat oes

niks het om af te sny,

en daar niks is

om op te tel nie.

Geen verbyganger sal sê:

“Die HERE se seën is op julle;

ons seën julle

in die Naam van die HERE” nie.

 Welkom terug by ons reeks oor die 15 Pelgrim psalms! Seker so twee jaar gelede het ek ervaar die Here verwag ‘n dieper vlak van dissipelskap van my. Ek het nie presies geweet waar om te begin nie, totdat ek toevallig Eugene Peterson se, A Long Obedience in the Same Direction, raakgesien het. Terwyl ek baie ander kommentare raadpleeg ter voorbereiding van elke maand se oordenking, geniet ek dit geweldig om ‘n tweede keer deur sy boek te werk en ‘n biegtjie langer by elke onderwerp te vertoef.

 Dit voel asof ons ‘n jaar laas met mekaar gesels het, en tegnies het ons, want ek het my laaste psalm reeds begin November gepos. Ek neem gewoonlik ‘n blaaskans gedurende die Desembervakansie. Ek herinner ons daarom graag aan die drievoudige patroon wat hierdie 15 pelgrimsliedere volg:  Eerstens is daar ‘n psalm van swaarkry, dan ‘n psalm van vertroue en laastens ‘n psalm van oorwinning, voordat die patroon homself herhaal. In November het ons by psalm 128, een van die oorwinningspsalms, stilgestaan – wat beteken dat ons hierdie maand begin met ‘n psalm van swaarkry. Vanuit die seën van die ideale familie in Psalm 128 waar God sy seën oor sy volk uitgestort het, word ons gekonfronteer met die wrede werklikheid van Psalm 129 waar ons sien hoe God sy seën weerhou van diegene wat sy volk haat. Die tema van volharding in pynlike omstandighede herinner ons as Christene dat ons heelhuids anderkant kan uitkom omdat God met ons is. Daarom, of dit nou vervolging of siekte, slegte verhoudinge of emosionele nood is wat ons in 2025 in die gesig staar, dis belangrik om te onthou dat ons kan volhard danksy Christus.

 Die begin met die psalmdigter wat honderde jare se lyding in herinnering te roep, deur eerder te reflekteer oor wat Israel oorleef het as wat Israel vermag het:

o Slawerny in Egipte

o Veertig jaar se omswerwinge in die woestyn

o Oorlog om die Beloofde land in besit te neem

o Oorloë teen die Filistyne en ander vyandige nasies.

o Ballingskap onder die Assiriërs en Babiloniërs

 Alhoewel dit nie van toepassing is op hierdie psalm wat die meeste mense glo geskryf is met die terugkeer van die Jode uit Babilon nie, stop die lys van lyding aan die hand van Israel se vyande nie by bogenoemde nie. Ons word ook herinner aan ander nasies en gelowe wat hulle binnegeval of probeer uitwis het:

o Die Grieke

o Die Romeine

o Die Rooms-Katolieke

o Die konings van Europa

o Die Moslems

o Die Tsare

o Die Nazi’s…

En tog bly die land voortbestaan! Waarlik, die belangrikste prestasie van die Jode is hulle oorlewing na duisende jare. James Boice, die Bybelkommentator, het die Jode die langs- oorlewende unieke etniese mensegroep op die planeet genoem. “Hulle is deur hul lang bestaan ​​belaster, gehaat, vervolg, verdryf, agtervolg en vermoor, maar hulle het dit alles oorleef,” het hy geskryf.

 Tog is die beeld van die ploeg in die openingsverse ook ‘n verwysing na Christus se plaasvervangende lyding aan die kruis. Die Romeinse soldate het diep vore in sy rug gesny met hulle swepe en geseling – alles voorspel deur die profeet Jesaja wat verklaar het, deur sy wonde is daar vir ons genesing. Jesus het deur die pyn volhard om die straf vir ons sondes te betaal sodat ons gered kon word.

 Om te weet dat God ‘n beperking op ons lyding gestel het, sal ons ook help om deur die pyn in ons eie lewens te volhard. Of ons deur sonde versoek word of deur pyn beproef word, ons kan ook die getrouheid van God verklaar. Hy is inderdaad ‘n regverdige God wat die toue van die goddelose permanent stukkend sal sny, ons sal bevry van watter pyn ons ook al mag ervaar, en daarom kan ons volhard.

 Dit bring ons by die tweede deel van die psalm, want nie net moet ons deur die pyn volhard nie, God wil hê ons moet deur die pyn bid, want hoe anders gaan ons in elk geval volhard? En terwyl die eerste deel oor die oorlewing van die regverdiges gegaan het, gaan die tweede deel van psalm 129 oor die beperktheid van die goddelose. Inderdaad, watter troos om te weet dat die regverdiges sal die aanslag sal kan weerstaan, maar die goddelose nie.

 Die gebede in die tweede deel van hierdie psalm is gerig op die vyande van God dat hulle nie sukses sal smaak nie, maar soos die gras wat in die vlak grondjies op die plat dakke regoor Israel uitspruit, vinnig sal wegkwyn. Net so bid ons vandag nog dat die planne van die goddelose vrugteloos sal wees, dat dit geen oes sal inbring nie.

 Die seën van God, wat goedheid, gesondheid en voorspoed in elke aspek van die lewe bring, is die hoogste en kosbaarste erkenning wat die mens kan geniet. Daarom bid die psalmdigter dat niks van hierdie goedheid oor die vyande van Jerusalem en Israel sou kom nie. Terwyl ons as Christene opdrag kry om ons vyande lief te hê, roep die vyande van God, deur hul optrede, ‘n vloek uit op hul lewens.

 Mag ons, hier aan die begin van ‘n splinternuwe jaar, troos vind in psalm 129. In hierdie verhaal van veerkragtigheid, goddelike geregtigheid en die kwytskelding van die regverdiges, kan elke gelowige wat lyding van watter aard ook al ervaar, nie net innige vertroosting vind nie, maar ook ewige hoop. Hoe wonderlik om op hierdie kruispad herinner te word dat God sy volk bevry, omgee vir randfigure en minderbevoorregtes, goddeloses teëstaan en die bose straf.