Geseënd om God te Dien
#Geseënd om God te Dien
PSALM 123
‘N PELGRIMSLIED
Welkom terug by ons Genade-Uitdaging waar ons elke maand ‘n Pelgrimslied bestudeer en waarhede daaruit oor ons en ons geliefde afbid. Die jaar het vlerke en ons is reeds in Mei maand, waar ons met ons voete op die drumpel van ‘n nuwe seisoen staan, ene wat verseker ‘n pasaanpassing gaan vereis. Mag die Here ons hiermee help. Ons het reeds die eerste drie pelgrimsliedere bestudeer, bedink en selfs dele daarvan gememoriseer, vertrou ek. Dis Eugene Peterson wat hierdie versameling psalms as ‘n metafoor vir dissipelskap sien, want elkeen het ‘n baie spesifieke fokus. Kom ons hardloop vinnig deur ons eerste drie.
- In Psalm 120 seëvier ons oor geweld en bedrog wanneer ons tot bekering kom en in die teenoorgestelde rigting begin stap. Noudat ons die vrede van God ontvang het, streef ons aktief vrede met God na!
- In Psalm 121 plaas ons ons vertroue honderd present in die Here. Ons erken hier onomwonne dat geen selfhelp, wêreldse korttermyn oplossings ons kan help nie. Slegs die immergroen beloftes van God se alomteenwoordige beskerming en praktiese hulp kan ons vrywaar van boosheid, rampspoed en moeilikheid op ons lewenspad!
- Psalm 122 is ‘n lied oor aanbidding, en vier die antieke tradisie om as gelowiges bymekaar te kom om ons Skepper-God, Jesus Sy geliefde Seun en die Heilige Gees te aanbid. Wat ons bring by–
PSALM 123
‘n Pelgrimslied.
Ek kyk op na U,
U wat in die hemel woon.
Soos oë van slawe
gerig is op die hand van hulle meester,
soos die oë van ‘n slawedogter
gerig is op die hand van haar werkgeefster,
so is ons oë gerig op die HERE ons God,
totdat Hy genadig is oor ons.
Wees genadig oor ons, HERE,
wees ons genadig,
want ons het baie veragting verduur.
Ons het baie spot verduur van hoogmoediges,
En veragting van die hooghartiges.
In Psalm 123, die eerste psalm in die tweede groep van drie psalms in hierdie unieke versameling, staar die skrywer moeilikheid en probleme in die gesig op baie dieselfde wyse as in Psalm 120. Dit is ook die eerste keer dat die psalmdigter God direk aanspreek. In die openingsreël slaan hy sy oë op, verby die berge van psalm 121 toe hy ook om hulp gesoek het, verby psalm 122 se Jerusalem, die stad van die Groot Koning, na God wat in die hemel woon, self.
Aangesien die woord “oë” vier keer in hierdie psalm voorkom, staan dit ook bekend as “die oog van hoop” of “die psalm van die oë” of “‘n psalm van moeë oë”. Die eerste vermelding van oë is in die openingsreëls waar die psalmdigter hemelwaarts kyk. Met ander woorde, sy oë is nie op sy omstandighede of homself gerig nie, maar op God. Dit herinner ons daaraan dat ons nie oor hom of op hom neerkyk nie, maar as dienaars ‘n sekere posisie voor God wat op ‘n hoë en heilige plek woon, inneem.
Ongelukkig is daar ‘n wesenlike gevaar dat ons onsself as die meester sien en God soos die dienskneg behandel en dit omdat Hy gekies het om homself deur Jesus Christus as ‘n slaaf aan die wêreld te openbaar, skryf Peterson. Ons kan hom dus nie tot aksie roep wanneer ons te moeg is om self iets te doen of na hom toe hardloop wanneer ons besef hoe swak toegerus ons is om ‘n gespesialiseerde probleem te hanteer asof Hy ‘n tipe van deskundige is nie. “God het nie ’n dienskneg geword sodat ons hom kon rondstuur nie, maar sodat ons saam met hom ’n verlossingswerk kan doen.”
Die psalmdigter vergelyk hierdie blik van hoop na God met die manier waarop ‘n dienskneg na sy meester kyk en ‘n diensmeisie na haar meesteres. Die gesindheid waarmee hy na God kyk en op Hom wag, is een van stille vertroue, sy volle fokus en aandag op die HERE en spesifiek sy rigtinggewende hand, want
o Die hand van die meester verskaf alles wat nodig is, wat ons afhanklikheid toon.
o Die hand van die meester veg vir Sy volk en bring so ons verlossing teweeg.
o Die hand van die meester rig die dienskneg se werk en kommunikeer ons onderdanigheid en rol terwyl ons saam met Hom werk.
o Die hand van die meester korrigeer die dienskneg, soos Hy diegene wat Hy liefhet, dissiplineer.
o Die hand van die meester seën die dienskneg, want Hy beloon diegene wat Hom ywerig soek.
Mag God ons elkeen hierdie maand help om op dieselfde manier na Hom te kyk as die psalmdigter – eerbiedig, gehoorsaam, aandagtig, aanhoudend, afwagtend, doelgerig, onderdanig en smekend – totdat Hy ons genadig is. Dit is hierdie volharding tesame met ons pleidooie om genade wat drie keer in twee reëls herhaal word, wat God uit Sy heilige woning sal opwek om ons situasie te betree en ons te verlos. Dit is hierdie intense pleidooie vir God se ingryping wat ons harte roer, want was ons nie al dikwels self in soortgelyke situasies nie?
As Christene is ons reeds vir eeue vasgevang in die stryd tussen lig en duisternis, heiligheid en sonde, Christus en Satan. Omdat ons dikwels in die minderheid is, weet ons hoe dit voel om uitgelewer te wees aan magte en mense wat God teëstaan. Selfs vandag, in ons relatief vrye Westerse samelewings, sien ons hoe mense hulle posisies misbruik om hulle eie agenda ten koste van ander te bevorder. Daarom weerklink Psalm 123 se hulpkrete om verlossing ook in ons harte.
Maar waarvan presies moet ons verlos word? In ons rustelose samelewing met sy eindelose eise na meer, vinniger en beter, is daar ‘n wanhopige moegheid onder alle ouderdomsgroepe te bespeur. In hierdie moderne kragmeting tussen God en die klatergode van hierdie wêreld, blyk ‘NEVER ENOUGH’ die volklied van ‘n nuwe generasie verslaafdes te wees, ongeag dit prestige, werk, vermaak of geld is waarna hulle smag.
ONS GENADE UITDAGING HIERDIE MAAND
Eugene Peterson se laaste pleidooi is vir sinvolle diens, en daarom neem hy ons na Romeine 12:1. Ek lees uit The Message: So here’s what I want you to do, God helping you: Take your everyday, ordinary life—your sleeping, eating, going-to-work, and walking-around life—and place it before God as an offering. Die Nuwe Lewende Vertaling beskryf dit net so mooi: Nou wil ek julle baie ernstig vra, broers en susters: As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak. Paulus gaan verder en waarsku, Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie…
Vriende, ons moet altyd onthou dat wanneer ons God eerste plaas, ons diens aan ons naaste ‘n natuurlike uitvloeisel van hierdie eerste en belangrikste verhouding sal wees. Onder God se genadige toesig sal ons uitreik na ander bevrydend wees— vir hulle en vir ons.
Waarhede
Farao het slawe gemaak, Moses— volgelinge en Jesus— dissipels. (Onbekend)
‘n Dienende Christen is die vryste mens op aarde. (Peterson)
In moeilike tye moet ons boontoe kyk, want God alleen beheer alle dinge.
In moeilike tye moet ons na binne kyk om ons behoefte aan goddelike genade te besef. (Barrick)







