Geseënd om te Seën
#GESEËND OM TE SEËN
Psalm 134
‘N PELGRIMSLIED.
Kom!
Prys die HERE, julle almal,
diensknegte van die HERE,
wat snags diens verrig
in die huis van die HERE.
Hef jule hande op na die
heiligdom
en prys die HERE.
Mag die HERE jou seën uit Sion,
Hy wat hemel en aarde gemaak
het.
Hierdie is die laaste psalm in ons reeks van vyftien pelgrimsliedere —psalms wat ons in Januarie 2024 begin bestudeer het. Pelgrims het 3 maal ‘n jaar opgetrek na Jerusalem om God te aanbid. Dit was nie net ‘n fisiese uitdagende staptog nie – onthou, Jerusalem is 754 meter bo seespieël, maar dit het ook hulle geestelike reis nader aan God gesimboliseer. Dit is ook wanneer ek en jy intensioneel werk daarvan maak om nader aan God te kom, meer soos Hy te wees, in Sy weë te wandel en ons harte skoon te hou, dat hierdie psalm ons geseënd noem. Die groot vraag is egter: Glo ons werklik dat God diegene beloon wat Hom so soek?
Die Psalm kan in twee gedeel word en is deur twee groepe pelgrims gesing. Manne env roue wat in in Psalm 120 besluit het om hulleself weg te skeur van hulle huise, plasies, families en roetines om God se huis in Jerusalem te besoek en Hom daar te gaan aanbid. Om die lang dae en paaie korter te maak, het hulle dikwels gesing. Hulle het gesing wanneer hulle in Jerusalem arriveer het. Hulle het gesing wanneer hulle die Tempel binnegaan het. En nou is dit tyd vir hulle om huis toe te gaan en nou sing hulle hulle laaste lied. In my geestesoog sien hulle in die donker oggendure vertrek, donkies gepak, kinders vaak en slaperig. Wanneer hul vir oulaas terugkyk na die tempel, sien hulle die priesters wat nagdiens doen en hulle sing-bid hierdie seënbede oor hulle uit.
Wat ‘n wonderlike bemoediging moes dit nie vir hierdie eensame Leviete gewees het nie. Die pelgrims wat moes terugkeer na hul daaglikse bekommernisse en sleurwerk, het egter met heel ander oë na hulle gekyk. Terwyl hulle moes wag tot die volgende fees, het die priesters die voorreg gehad om voortdurend in God se teenwoordigheid tuis te wees. Hul enigste taak – om God voortdurend te aanbid en sy kinders onafgebroke voor Sy troon te bring.
In 1 Kronieke 9:33 staan daar dat die Levitiese sangers ‘dag en nag besig was met hulle werk’. Dit herinner mens ook aan Johannes se beskrywing in Openbaring– dat die verlostes die Here dag en nag in Sy tempel gedien het. En hoewel dit relatief maklik is om die Here bedags te loof, weet ons uit dure ondervinding dat dit baie moeiliker is om dit in die nag te doen, wanneer alles donker is, almal slaap en ons stoksielalleen is. Hierdie nagdiens van die priesters simboliseer waaksaamheid en toewyding, twee eienskappe wat Jesus by herhaalde geleenthede in sy volgelinge aangemoedig het.
Die diensknegte van die Here, soos daar na die priesters in hierdie psalm verwys word, herinner ons dat lof en dankgesange deel moet wees van ons werk en die gesindheid waarmee ons werk.. Met ander woorde, alle pastore, sendelinge, Bybel- en Sondagskoolonderwysers, diakens, ouderlinge, die pianis or orrelis en elkeen wat lofprysing lei, moet God uit dwang dien nie, maar Hom met danksegging loof en prys dat Hy hulle toelaat om Hom te dien. Maar ons moet ook onthou dat as gelowiges is ons almal God se diensknegte – ons is net diensbaar op verskillende plekke en in verskillende omstandighede.
Kom ons herinner mekaar dan hierdie maand dat om God te dien ‘n spesiale voorreg is, net soos dit ‘n spesiale voorreg is om Sy nabyheid te geniet, en te kan getuig van Sy spesiale krag en salwing om die werk te voltooi. Die Heidelbergse Kategismus som dit so mooi op: “Die hoofdoel van die mens is om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet.”.
Hierdie idee word versterk deur die tweede vers, waar gelowiges aangemoedig word om hulle hande op te hef na bo en die Here te seën deur Hom danksegging, eer, lof en heerlikheid te bring. Om mens se hande op te lig is ook ‘n teken van oorgawe aan God, die Skepper van hemel en aarde.
Die Hebreeuse term vir seën is “barak” en impliseer kniel en aanbidding. Uit die aard van die saak kniel of buig God nie voor ons neer wanneer Hy ons seën nie. Hy doen dit deur in ons behoeftes te voorsien, vir ons te sorg en vir ons lief te hê.
Wanneer die Psalmdigter afsluit deur ‘n beroep te maak op die Skepper-God, die Koning van die heelal, om die werke van sy hande te seën, die siele wat Hy nie net geskep het nie, maar ook verlos het – dan slaan die grootsheid hiervan ons mense-asems weg! Hierdie seën wat vanuit Sion stroom, is vir alle mense oral en altyd tot ons beskikking. Is dit nie die heel beste manier om die Pelgrimsliedere mee af te sluit nie?
Die pelgrims het na Sion gekom om die HERE te seën deur lofprysing en aanbidding dit het hulle gedoen van die oomblik wat hulle weggetrek het. Nou sluit hulle hulle reis af hierdie grootse idee – dat hulle nou die ontvangers is van God se seën, want Sy seën is nie beperk tot Jerusalem nie. Dit vloei vanuit Sy huis in die stad, deur die eeue heen af tot binne in ons harte hier in 2025. Hoe gepas dan om daaraan herinner te word dat die mens se lewe wat God seën, ‘n lewe is wat deur God geseën word.
Dit voel aardig om julle te groet. Ons gesels mos nie gewoonlik in Augustus nie aangesien ek elke drie maande graag asem skep. Maar hierdie jaar gaan ek ‘n bietjie langer stil wees aangesien ek deel is van ‘n span wat Machu Picchu in Peru gaan klim. Hiermee samel ons geld in vir projekte wat strek van Peru tot Argentenië, vanaf die verre Ooste tot in Afrika. As julle wil deel wees van hierdie projek, kontak my asb.







