# Herstel-Vreugde

 Psalm 126

‘n PELGRIMSLIED

Toe die HERE die lot van Sion verander het,

Was ons soos mense wat droom.

Daarna is ons monde met gelag gevul,

Ons tonge met jubelkrete.

Toe is onder die nasies gesê:

“Die HERE het iets groots gedoen

aan hierdie mense.”

Die HERE het iets groots aan ons gedoen.

Ons was verheug.

Verander weer ons lot, HERE,

soos stroombeddings in die Negev.

Dié wat met trane saai,

sal met jubekrete maai.

Die draer van die saadsak wat loop en huil,

sal beslis terugkom met jubelkrete

terwyl hy sy gerwe dra.

 Vir die Israeliete het ‘n pelgrimstog na Jerusalem tydens feestye heel waarskynlik die sing van Psalms 120 – 134 ingesluit. Sedert Januarie vanjaar talm ons by een psalm per maand deur dit te memoriseer, daaroor te mediteer, en elkeen se kernwaarheid te verken en daardeur te bid. September bring ons by Psalm 126, die sewende van die 15 liedere aangesien ek 3 maande ‘n jaar (April, Augustus en Desember) dinge so bietjie rustiger vat. Psalm 126 se tema van vreugde, herinner my aan C.S. Lewis se Surprised by Joy, ‘n memoir waarin hy sy reis van ateïsme na Christenskap verken, en waar hy telkemale skryf oor die talle vreugdemomente wat hy langs hierdie besondere pad ervaar het.

 Ek het pas teruggekeer van my eerste pelgrimstog saam met ses ander dames. Ons het 120 km tussen Malgas en L’Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika, gestap Ek het drie van die dames nie geken nie, en dit was daarom baie spesiaal toe ek sien hoe maklik almal van ons kon lag. As ‘n jong vrou het ek graag gereis en vinnig geleer dat ‘n vreugdevolle hart ‘n amper lewensnoodsaaklike stuk bagasie is.

 Tog is blydskap nie ‘n vereiste van Christelike dissipelskap nie; dit is eerder die gevolg daarvan, skryf Eugene Peterson in sy besondere boek – A Long Obedience in the Same Direction. Hy illustreer dit ewe tong in die kies deur die verhaal van Martin Luther en sy goeie vriend, Philipp Melanchthon, die skrywer van die Augsburgse Belydenis, te vertel. Melanchthon was ‘n stil en afsydige man in teenstelling met die passievolle en geesdriftige Luther, ‘n akademikus eerder as ‘n ywerige doener. Hy het byvoorbeeld voortgegaan om soos ‘n monnik te lewe, selfs nadat hy by die Duitse Hervorming aangesluit het … Eendag het Luther geduld met die deugsame en korrekte Melanchthon verloor. ‘Om hemelsnaam,’ het hy gebrul, ‘hoekom gaan jy nie uit en sondig ’n bietjie nie? God verdien om iets te hê om jou voor te vergewe!’

‘n Woord van Lof

 Die psalm begin met ‘n toneel van ekstatiese vreugde wanneer die Israeliete hul vrylating uit die Babiloniese ballingskap beskryf. In plaas daarvan om van die woord ongelooflik te praat – een wat ons gereeld gebruik vir wonderbaarlike en bykans onmoontlike deurbrake wat God in ons lewens bewerkstellig, vergelyk hulle die gebeure rondom hul vrylating en terugkeer na Jerusalem met ‘n droom. Dis asof hulle hulself moes knyp om seker te maak dit gebeur werklik met hulle.

 Vir Peterson is dit belangrik dat ons hulle uitbundige vreugde sal verstaan en daarom neem hy ons terug na een van die donkerste tye in hulle geskiedenis waar hulle sekerlik die ergste ervaar het wat enige mens kan oorkom: verkragting in hul strate, kannibalisme in hul kombuise, ‘n nege-honderd-vyf-en-sestig kilometer reis wat hulle te voet deur die woetyn moes aflê, en dit alles midde die konstante bespotting van hulle ontvoerders. Troos, troos my volk!” sê julle God. “Praat mooi met Jerusalem! Roep haar toe dat haar gedwonge arbeid voltooi is, dat haar skuld afbetaal is! Ja, sy het uit die hand van die HERE ‘n dubbele straf ontvang vir al haar sondes.” (Jesaja 40:1-2 AFR20)

 Dit bring ons by die vraag: Van watter gevangenskap het God jou bevry, of het jy nodig dat Hy jou nog daarvan moet bevry?

 Wanneer God in sy groot genade sy volk na sewentig jaar verlos, erken die nasies God Sy wonderwerkende hand en verklaar onomwonne: ‘Die HERE het groot dinge aan hierdie mense gedoen!’ Die Israeliete neem hierdie selfde frase en herhaal dit met groot vreugde want dit is ‘n tema wat regdeur die Bybel voorkom: Die Here het groot dinge aan ons gedoen.

o Het Samuel nie daaroor gepreek nie? (1 Samuel 12:24)

o Het Dawid die Here nie daarvoor gedank nie? (2 Samuel 7:21,23)

o Het Maria nie daaroor gesing nie? (Lukas 1:49)

o Het die besetene van Gedara nie almal daarvan vertel nie? (Luk. 8:39)

 Dus vrae ek nog twee vrae: Wat beteken God se ingryping in jou lewe en wat het Hy vir jou gedoen? Het jy Hom al ooit in ‘n situasie sien werk wat onbetwisbaar Hy was?

 ‘n Woord van Gebed

 Terwyl hierdie pelgrims oor hul verlede nadink en hul bevryding besing, bid hulle ook oor hulle toekoms. Jy sien, net soos vreugde bou op die verlede, leen dit terselfdertyd van die toekoms, deur te verwag dat sekere dinge sal gebeur, verduidelik Peterson. Twee beelde versinnebeeld hierdie hoop. Die eerste is “verander tog ons lot, HERE, soos strome in die Suidland.

 Die Negev, in die suide van Israel, is ‘n uitgestrekte woestyn, en sy waterlope, of Wadi’s, is ‘n netwerk van slote wat deur wind- en reënerosie uitgekalwe is. Gedurende die reënseisoen verander hulle in gevaarlike vloedgebiede. In baie opsigte is ons lewens diesefde – droogtegeteisterd – en dan, skielik, word die lang jare van onvrugbare wag onderbreek deur ‘n uitstorting van God se genade soortgelyk aan ‘n skielike reënbui in die woestyn. Op ‘n manier eggo dit Paulus se gebed vir die Filippense – Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi!

 Ek hou veral van die NKJV-vertaling in vers 4: “Bring back our captivity, O LORD!” Hulle wat vrygemaak is, roep inderdaad tot die HERE, om ook die res van die ballinge na hul vaderland terug te bring.” Hierdie las vir hul broers en susters om ook verlos te word, bring ons by die gemeenskap van gelowiges want elkeen van ons wat van ons sondes verlos is, moet ‘n las dra vir hulle wat nog nie vry van die sondelas is nie.

 ‘n Woord van Belofte

 Die tweede beeld word geneem uit die landbousektor, want die antieke Israeliete was hoofsaaklik boere, en dus is die Bybel ryk aan boerderyverwysings en die feeste dikwels hieraan gekoppel. As ‘n gewone jaar uitdagend kan wees vir boere, hoeveel te meer moes hulle terugkeer uit Babilon dinge nie gekompliseer het nie. Omdat hulle versuim het om die sabbatsjaar te eer, het die Here bepaal dat die grond vir sewentig jaar braak moes lê. Daar was dus geen oeste nie, die kos was skaars en die saad wat die volgende jaar se oes moes inbring, was min. Julle kan julle net die hard werk in moeilike omstandighede voorstel, die emosie wat daarmee moes gepaard gegaan het asook die geloof waarmee ‘n nuwe generasie die saad diep in die grond begrawe het terwyl hulle die Here vertrou om lewe te skep. Die triomf van die saaier wat God vertrou om hierdie saad in ‘n groot oes te omskep, kan gesien word in die vreugde waarmee hy die gerwe huis toe bring.

 Net soos Jesus en Paulus verwag die Here dat ons die saad van die evangelie in die lewe van elke verlorene wat ons pad kruis, sal saai. Partykeer kan hierdie las ons tot trane lei. Ek dink altyd aan die vrywilligers van die Salvation Army wat regtig aan die einde van hulleself gekom het. Hulle het nie geweet wat om hulle te doen staan nie en uiteindelik ‘n brief aan William Booth, hulle stigter gestuur waarin hulle raad gevra het. Sy antwoord: “Probeer trane!”

 In baie opsigte saai elkeen van ons met trane: miskien huil ons oor ‘n Absalom-seun of ‘n verlore dogter; dalk oor ons mislukkings en foute, of dalk huil ons van teleurstelling of word ons gekonfronteer met ‘n hopelose situasie. Hoe wonderlik om dan herinner te word dat God sorgvuldig ons trane opvang in ‘n bottel en elke saad wat ons in hoop begrawe, eerbiedig bewaak.

 Die herhaling van hierdie belofte impliseer dat daar geen einde aan ons geween is nie, maar herinner ons ook dat daar geen einde aan die vreugde wat vir ons as God se kinders voorlê, sal wees nie.

 Die wat die Here vrygekoop het, sal terugkeer na Jerusalem. Hulle sal sing van blydskap, hulle sal vol vreugde wees, en ellende en smart sal verdwyn. Jesaja 35:10