Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde env rede vervul… Romeine 15:13

My woord vir die jaar is HOOP!  Ek praat en skryf graag oor die woord, maar as ek eerlik moet wees, was HOOP nie vanjaar op my kortlys nie.  Ek is mos altyd op soek na iets nuuts, iets anders en dit voel vir my asof ek HOOP al so bietjie vaal gevat het. En toe gebeur dit. 

So twee weke gelede staan een van my hartsmense voor my – moedeloos gestrand, die teleurstelling vlak in die oë en met skouers wat hang.  Ten spyte van al my jare van mentorskap en ma-wees, kry ek nie ‘n woord uit nie, self onkant gevang met die omvang van die mens voor my se molshoop.  Tussen die normale roetines van kuier en kos, want liefde en troos het nie altyd woorde nodig nie, hammer ek aan die Here se deur.  

In die volgende 48 uur is dit die woord HOOP wat my oorrompel.  Hetsy op Facebook of YouTube, in die Bybel of in ‘n tydskrif, in ‘n terloopse gesprek oor whatzapp of wanneer ons gesin fliek kyk – HOOP is oral. 

Tog kan ek nie die knaende gevoel dat ek iets mis, afskud nie.  Totdat ek in ‘n ou LEEF tydskrif in Marzanne LeRoux-van der Boon se rubriek, Lewensblik, die volgende lees.  Sy vertel hoe sy na ‘n videogreep kyk oor ‘n veearts wat probeer om ‘n verhongerde optelhondjie so ver te kry om te eet.

Hy het kruisbeen in jeans en ‘n T-hemp langs die maer hondjie gaan sit, al het dié met haar rug na hom toe gestaan en probeer om in die muur te verdwyn.  Rustig het die veearts twee vlekvrye, staalbakkies opgetel.  Die een met sy ontbyt en die ander met kos vir die hondjie.  Hy het die een bakkie by haar neergesit, maar sy het nie eens opgekyk nie, net angstig nog verder weggebeur.  Die veearts het ‘n paar lepels vol uit sy bakkie geëet – die klank van lepel teen staal ‘n vreemde vertroosting in die vertrek, skryf Marzanne.  Toe neem hy ‘n paar brokkies uit die bakkie en hou dit in sy hand voor die hondjie.

Eers het sy nie beweeg nie, maar neem dan tog twee van die brokkies.  Die veearts het ongesteurd met sy ontbyt-etery voortgegaan. Uit ‘n blink blikbekertjie het hy van tyd tot tyd ‘n genoeglike sluk geneem van wat sekerlik koffie moes gewees het, besluit Marzanne en ek stem saam.  Ook hierdie geluide was kalmerend, skryf sy.

Dan begin die hondjie uiteindelik behoedsaam te eet.  So tussen sy eie ontbyt deur streel die arts af en toe oor haar.  Dan pak sy skielik die bakkie kos met mening en begin die brokkies letterlik verslind. 

Die veearts maak egter geen ophef hiervan nie, eet heerlik sy ontbyt klaar en drink sommer die laaste bietjie melkies uit die bakkie.  As Hondjie af en toe vlugtig na hom kyk, stryk sy groot hand gerusstellend oor haar lyfie.  “You okay?” wil hy ‘n keer of wat tussen sy eie etery deur weet.  En toe die hondebakkie tot die laaste brokkie geledig is: “Done? Good girl!”

“Ek sien hoe die dowwe oë van die hondjie lig kry,” beskryf Marzanne die oomblik wanneer die weldoener haar optel. “Ek sien lewe en moed in die dun lyfie terugkom. Mens en dier kyk mekaar aan, sonder geluid, sonder beweging.  Lank.” 

Dis dan waar ek ophou lees en die tydskrif neersit, want die woorde begin swem voor my oë.  In die daaropvolgende dae herkou ek aan die mooi storie en so breek die Here dié ding vir my oop.  Wanneer Hy Hoop op my hart kom lê, is dit omdat Hy wil hê ek iets daarmee doen:

  • ek moet gesond maak waar ander seergemaak het,
  • ek moet toerus waar ander gesteel het,
  • ek moet tyd en liefde gee waar ander verwerp het,
  • ek moet ‘n ruskans gee vir hulle wat moeg is,
  • ek moet gesels en kuier met hulle wat alleen en eensaam is,
  • ek moet ‘n perspektief van hoop vestig waar dit hopeloos lyk

Dus, Sy woord of doelwit vir die nuwe jaar is selde vir eie gebruik alleenlik. Dis ‘n belofte waarmee Hy ons fokus, maar dis ook ‘n genade waarmee Hy ons toerus.  As goeie rentmeesters verwag Hy dat ons vrygewig daarmee sal omgaan, want dan sal daar vir ons gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol sal ons teen die einde van 2021 uitstap met meer Hoop as waarmee ons die jaar begin het!  

 

Share This