LENT 2025 – DEEL TWEE

12 March: Die Familie van God

 Hierdie Lydenstyd oordink ons ​​by A Vivid Life die sewe laaste woorde van Jesus, soos dit bekend staan. Lydenstyd is die tydperk van 40 dae voor Goeie Vrydag, Heilige Saterdag en Opstandingsondag.

 Vandag staan ons stil by wat algemeen beskou word as die tweede woorde wat Jesus van die kruis af gespreek het.  Ons lees uit Johannes 19: 26,27 — Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy Moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou Moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

 Maria figureer sterk beide aan die begin en aan die einde van Johannes se evangelie. In hoofstuk 2 speel ‘sy n prominente rol in Jesus se eerste wonderwerk, wanneer Hy op haar aandrang water in wyn verander en dan vind ons haar weer hier aan die einde, aan die voet van die kruis. Sy is nie die enigste vrou teenwoordig nie, hulle is ‘n hele groepie, haar sussie, Klopas se vrou en Maria Magdalena. Mens wonder of Simeon se woorde toe Jesus 8 dae oud was, in hierdie dae by haar opgekom het: ‘n swaard sal deur jou siel gaan.

 Die kruisdood van Jesus het kosmiese gevolge gehad, die geskiedenis herskryf en is die belangrikste teologiese gebeurtenis van alle tye. Dit is verbysterend merkwaardig om te dink dat te midde die omvang van die kruis, die verskriklik fisiese pyn en met die gewig van die sonde van die hele wêreld op Hom, Jesus hom ontferm oor sy weduwee Moeder wat alleen gaan agterbly. Op hierdie stadium het nie een van sy halfbroers of susters in Hom geglo nie..Wanneer Hy sien dat Johannes, wat deurentyd na homself in sy evangelie verwys as die dissipel wat Jesus liefgehad het, naby Maria staan, vertrou Hy haar toe aan sy sorg. Daar is natuurlik beweringe dat Johannes se Ma en Maria susters was, wat beteken dat Jesus en Johannes en Jakobus heel moontlik neefs was.

 In die woorde van Bruner, ’n Bybelkommentator, doen Jesus hier twee dinge: Hy vervul die vyfde gebod om jou pa en jou ma te eer, en Hy skep ’n nuwe kerngesin wat op geloof gebaseer is – waar water dikker is as bloed. So gee Jesus geboorte aan die kerk deur ‘n familie te skep waaraan enigiemand kan behoort. Hierdie teer oomblik tussen ma en seun is so tekenend van Jesus, om die eensames, die kwesbares en die randfigure raak te sien.

 Mag Jesus se tweede woorde van die kruis ons hierdie week rig om die eensames, die verlorenes en die uitgeworpenes in 2025 nie net raak te sien nie, maar prakties by te staan in hulle nood.

GEBASEER OP ‘N REEKS DEUR GROUNDWORKONLINE.COM

copyrighty avivid life | all rights reserved 2025 | proudly managed by YCIK Digital