Storie 1

Op ‘n plattelandse dorp het ‘n enkelma vir die hoeveelste keer ‘n kwaai argument met haar tienerseun gehad.  Die kind het woedend by die deur uitgestorm die nag in. 

Omdat hy dit al ‘n paar keer tevore gedoen het, was die ma nie te bekommerd nie.  Hy sou wel laatnag terugkom en na sy bed toe sluip.  Môre is alles weer reg.

Maar die volgende oggend was Johan se bed leeg. ‘n Briefie het gesê dat hy wel teruggekom het – maar net om te pak. Hy het die huis verlaat – ‘n kind in graad 10.  Oorweldig deur ontsteltenis en berou – en van net een ding bewus:  dat sy haar kind liewer as haar lewe het – het die ma alles in haar vermoë gedoen om haar seun op te spoor. Maar tevergeefs.  Tog het mense gesê dat hulle hom hier en daar op die dorp raakgesien het.

Toe gaan sy na ‘n bekende jolplek waar die dorp se tieners uithang en sit ‘n yslike plakkaat in die venster: “Kom asseblief huis toe, Johan!  Ek het jou lief.  Ontmoet my more oggend hier.”  Toe sy die volgende oggend daar kom, staan daar ses opgeskote seuns, almal met die naam Johan, voor haar.

Almal het van die huis af weggeloop… en almal het net gewag vir ‘n teken dat iemand by die huis hulle net so graag wou terughê as wat hulle wou terugkom. [1]

Storie 2

‘n Verpleegsuster by ‘n kankerkliniek waar buitepasiënte behandel is, vertel van die baie spesiale pasiëntjie en sy ma wat sy daar leer ken het: 

Klein Tommie het sy chemoterapie vir leukemie met groot opgewondenheid begin – enige nuwe ervaring was vir hom ‘n avontuur.  Maar dit het nie lank snaaks gebly nie.  Die newe-effekte was baie erg.  Sy ma het hom elke tweede dag vir die behandeling gebring en ek kon sien hoe haar oë al groter word in haar maer gesiggie, en al treuriger.  Haar hart wou breek vir haar dapper seun. Want Tommie het nooit gehuil of weggeskram wanneer ek ‘n aar in sy voos gesteekte armpie moes soek om die naald vir die medikasie in te sit nie.

Toe sy hare begin uitval, kon ons sien hoe dit die kind ontstel.  Want, soos kinders maar is, het van sy klasmaats (hy het nog so dikwels moontlik skool toe gegaan) met sy toiingrige haartjies gespot.  Later was sy koppie koeëlrond-kaal.

Maar toe kom Tommie eendag by die kliniek ingeloop met ‘n breë glimlag.  “Ek en my ma is die eerste mense in die dorp wat begin het met dié nuwe mode.  Die ander kinders is tog te jaloers dat my ma voor hulle daarvan gehoor het,” vertel hy in sy skik.  Terwyl ek onbegrypend na hom kyk, antwoord sy ma wat intussen om die hoek gekom het met ‘n knipoog: “die kaalkopmode!’  En sy beduie na haar eie kaalgeskeerde kop. [2]

********

 Twee stories, twee dilemma’s, twee Mamma’s – tonne LIEFDE !  Buiten Mamma’s met rebelse tieners en Mamma’s met siek kinders, kan ons nog die hele dag lank stories vertel van… werkende Mamma’s, Mamma’s in die tronk, Mamma’s wat finansieël sukkel, Mamma’s wat verslaaf is, ongehude Mamma’s, Mamma’s in vlugtelingskampe oor die wêreld heen versprei, tiener Mamma’s, siek Mamma’s en enkel Mamma’s…

Hoe lyk hulle hierdie Mamma’s wat die uitdagings van die lewe vierkantig in die oë kyk, wat te midde van die wind en weer wat hulle takke wil afbreek, dit regkry om staande te bly; wat te midde die lewensstorms, ‘n veilige hawe is?   Mamma’s wat probleemoplossers by uitnemendheid is, wat ten spyte van ‘n wêreld wat rondom hulle in duie stort, die klippe optel om daarmee brûe in plaas van mure te bou.

Ek weet van Mamma’s wat self nie kan lees en skryf nie, maar seker gemaak het hulle kinders kan.  En dan is daar die Mamma’s wat ten spyte van veelvuldige verwerpings en seer, met grasie, genade en dankbaarheid gesonde, Woord ge-ankerde kinders die wêreld instuur.  Want maak nie saak in watter van bogenoemde kategorieë die samelewing ons plaas nie, die enigste groepering wat regtig saak maak, is dat mense ons sal ken as Mamma’s wat bid.

Van biddende Mamma’s skryf die evangelis Billy Sunday, “Ek glo nie daar is genoeg duiwels in die hel om ‘n kind uit die arms van ‘n biddende Moeder te trek nie!” en ek wil dieselfde sê van biddende Ouma’s.  Daarom, as daar Ma’s is wat moedeloos is, Ma’s wat stil geword het, Ma’s wat moeg en alleen is, dis oraait- moet net nie ophou bid nie! Die Here hoor en verhoor gebede! En onthou, ‘Here, help’ is ook ‘n gebed.  Vertrou Hom – ook met die tydsberekening! Want dit waarvoor jy bid mag dalk eers na jou dood in vervulling kom.

 

 

 

[1] Stories vir die Lewe Omnibus, ‘n Boek oor Lewenswaardes, bl. 382

[2] Stories vir die Lewe Omnibus, ‘n Boek oor Lewenswaardes, bl. 384