Wie mededeelsaam is, word geseën.  Spreuke 22:9a

Sommige Christene gee soos Moses se rots – net wanneer hulle gedwing word. Ander gee soos ‘n spons – net wanneer hulle gedruk word. Dan is daar die wat gee soos die blomme – want dis vir hulle lekker om te gee.  So skryf Selwyn Hughes in een van sy dagstukkies.[1]  Sy vraag; “Watter soort gewer is jy?” spook al heel oggend by my.    

‘n Paar seisoene gelede toe ons nog 2 en 3jariges in die huis gehad het, kom ek af op die volgende gedig.  Na ‘n vrye vertaling uit Engels, klink dit min of meer so in Afrikaans…

As dit myne is, is dit myne,

As dit joune is, is dit myne,

As ek daarvan hou, is dit myne,

As ek dit van jou wegvat, is dit myne,

As ek met iets speel, dan is AL die stukke myne,

As ek dink dit is myne, dan is dit myne

As ek dit eerste gesien het, is dit myne

As ek dit gehad, en toe neergesit het, is dit nog steeds myne,

As jy dit gehad, en toe neergesit het, is dit nou myne,

As dit soos die een lyk wat ek by die huis het, is dit myne.

As dit stukkend is, is dit joune.  

Dit blyk dat die Here dieselfde dilemma met Sy kinders het as wat ons met ons s’n het.  Dit wil ook blyk dat God se hele skepping van tyd tot tyd sukkel met die verbete geklou aan besittings en soms gewoontes.  Ek verduidelik.

In Run with Horses[2] skryf Eugene Peterson oor hoe hy eendag toe hy gaan stap op ‘n gesin swaeltjies afkom wat hulle kuikens leer vlieg.  Op ‘n droë tak het drie kuikens niksvermoedend oor die meer naby sy huis gesit en uitkyk.  Wel, net todat een van hulle ouers ook op die tak kom sit het.  Die het begin om hulle doelbewus van die tak af te stoot. Wanneer die kuiken naaste aan die kant sy balans verloor en na benede tuimel, het hy benoud begin om sy vlerke te klap en uitgevind dat hy kan vlieg.  Dieselfde het met die tweede voëltjie gebeur.  Die derde en laaste kuiken was egter nie van plan om so deur sy ouers geboelie te word nie.  Hy het later onderstebo aan die tak gehang, maar klou het hy geklou.  Sy ouer het egter summier na sy pote gepik totdat hy noodgedwonge sy greep moes laat vaar.  In die val proses, het ook hy uitgevind dat hy eintlik gemaak is om te vlieg.   

Peterson gebruik die insident om te illustreer dat alhoewel voëls voete het waarmee hulle kan loop en ‘n paar perfekte pote het waarmee hulle gemaklik op ‘n tak kan rus, is hulle eintlik gemaak om vrylik in die lugruim te sweef.  Eers dan leef hulle hulle skeppingsdoel uit. 

Dis presies dieselfde met die mens, verduidelik hy dan.  Om te gee is wat ons die beste doen, want dit is waarvoor ons geskape is.  Ongelukkig is daar te veel mense wat desperaat aan hulle bankrekenings, gemaklike lewenswyses en aardse besittings vasklou, te bang of dalk te selfsugtig om hulle oorvloed met ander te deel.  En tog is die Woord duidelik, dat wanneer ons mededeelsaam leef en ruimhartig gee, ons dit doen waarvoor God ons geskape het. 

In die volgende 12 maande gaan ek julle vrae om op ‘n nuwe manier met julle beursies, julle horlosies, julle kennis, en julle harte om te gaan – vrygewig en gewillig om die mense om jou te help.  As gevolg van Covid19 kry almal swaar want van die jongste tot die oudste moes ingrypende aanpassings maak. Kom ons sprei ons figuurlike vlerke en begin om doelbewus dankbaar en vrygewig uit te reik na vriend en vyand.  Wie vlieg saam? 

Opgedra aan getroue gebeds en finansiële ondersteuners wat al vir meer as 25 jaar getrou saam met ons stap. Dankie vir die voorreg om saam in diens van die Here te staan.  Ons is baie lief vir julle.  

 

 

[1] Cover to Cover through the Bible as it happened, Day 335 by Selwyn Hughes and Trevor Partridge

[2] Run with Horses, Eugene Peterson, pg. 42

Share This