H Ons het almal dinge wat ons moet onthou:  verjaarsdae, herdenkings, kruideniersware, afsprake en om ons motorlisensies te hernu.  Laasgenoemde is nou in groot letters in my 2021 dagboekgeskryf, want ek en my man het verlede jaar vergeet om dit te hernu en vir 2 maande onwettig rondgery.  Dit was net genade dat ons nie gevang is nie.

Soos julle kan hoor, gesels die Here met my oor ONTHOU!  Iets waarmee ek al sedert my tienerjare sukkel – die groot rede hoekom ek ‘n lysie-en-dagboek-mens is! Volgens navorsing deur USA Today is die twee mees algemeenste dinge wat mense “moeilik” onthou, wagwoorde vir aanlyn platforms soos webwerwe en name van bekende mense en in my geval – kinders en kleinkinders.[1]Dis tog jammer lysies en dagboeke help nie hiervoor nie.

Wat my bring by ‘Reminders.’  Skuus vir my Afrikaans, maar aanmanings vat mens ietwat op ‘n dwaalspoor.  Ek het nog groot geword met die verjaarsdagkalender agter die toiletdeur.  Deesdae kry ek my ‘reminder’ op my rekenaar en loer ek die hele dag daarna.  Partykeer wens ek dadelik geluk, ander kere los ek dit tot die volgende dag.  Tog herinner dit my altydaan die keer toe die Here vir Homself ‘n ‘reminder’ gemaak het.  Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”[2]Ek het besluit “reminders” is Bybels en ek kort meer daarvan in my lewe!

Een van die kosbaarste ‘reminders’ vind ons in I Samuel 7:12. Op die slagveld, waar hulle jare gelede ‘n nederlaag gely het, pleit Israel by God om hulp, en gee Hy hulle ‘n wonderlike oorwinning. As priester en leier, rig Samuel, ‘n monument op sodat hulle hierdie triomf nie vergeet nie.  Hy noem die pilaar, Ebe-Haeser, want het hy gesê, “tot nou toe het die Here ons gehelp.” Die hoofdoel agter hierdie klippilaar is om die volk te herinner aan God se ingryping op hierdie kritieke dag in hulle geskiedenis.

Dis so belangrik dat ons dieselfde doen – in ons huwelike en gesinne, maar ook by die werk, want so onthou ons God se hulp in die verlede, en stel dit ons in staat om God te vertrou met vandag se uitdaging en is ons verseker van God se hulp vir môre.

Ek kuier ‘n rukkie terug met ‘n nuwe vriendin. Dit was heerlik om na haar storie te luister.  Op een stadium onderbreek sy haarself, want die verwondering van wat die Here op daardie stadium, twintigjaar gelede in hulle lewens gedoen het, was so groot en Sy genade so duidelik sigbaar, dat sy eers moes sluk voor sy kon aangaan. Dit was goed vir haar om te onthou en dit was goed vir my om dit te beleef.

Stories is een manier om die verlede te herleef.  Terwyl ek nie met ‘n klipaltaar by die ingang na my huis kan spog nie, hang van my Eben-haeser-momente teen my mure, word hulle uitgestal op my rake, hang hulle selfs aan my ore en sit ek hulle om my nek.

Vriende, kom ons wees hierdie maand intensioneel, speel die onthou-speletjie met ons geliefdes en gee God die eer vir elke oorwinning. So sal ons beter toegerus wees om die aanvalle van die brullende leeu teë te staan, want herinneringe van genade en deurbrake, wonderwerke en beantwoorde gebede, weef ons verlede met ons hede, en verbind gister met vandag en môre.

Ek sluit af met Laurika Rauch se pragtige, Onthou om my te Onthou!  Geniet dit!

 

 

 

*Why a Christian Perspective on History is Vital – Christian Heritage

https://www.christianheritage.org.uk › _ABOUT › _MEDIA › Articles › W…

[1] https://lifehopeandtruth.com/change/blog/dont-forget-what-god-says-to-remember/

[2] Genesis 9:16

Share This