Eleanor is getroud met Div en saam woon en werk hulle al 24 jaar in die buiteland. Hulle passie is om die vrymakende waarheid van Jesus aan ander oor te dra. Sy bestudeer graag die Bybel: Eerstens leer dit haar wie die God is wat ons aanbid, Sy hart en ook Sy karakter. Dan vertel dit ook hoe die karakters van die Bybel reageer en verander wanneer hulle die lewende God binne hul eie situasie ontmoet.

ONTMOETING

 Ek gesels vandag oor een so ‘n karakter wat my by herhaling aanraak elke keer as ek van haar lees en haar storie met ander deel. Dit spreek my veral aan in die omstandighede waarin ons leef en werk; tussen onderdrukte en verwerpte vrouens.

 Haar naam is onbekend … Al wat ons van haar af weet is dat sy half-Jood en half-heiden is. Ons vind haar langs ‘n put op die warmste tyd van die dag – skaam oor haar verlede en al die verkeerde keuses wat sy al gemaak het. Sy het nêrens om heen te gaan met haar pyn en hartseer nie. Sy ken die Bybel-storie en weet van die Messias oor wie dit praat. As ‘n heidense vrou, is die tempel feitlik buite haar bereik. Sy is magteloos omdat die Messias nie vir haar en haar seer beskikbaar is nie.

 Sy voel nie waardig genoeg om op te kyk toe ‘n vreemdeling, ‘n man, vriendelik met haar begin gesels nie. Sy is onrein, maar die man voel nie daardeur bedreig nie. Hy het haar nood gesien en reik uit! Op die hitte van die dag, deur Sy welbeplande ontmoeting, bring Hy God se teenwoordigheid tot by haar. Hy openbaar Homself as Messias as Hy van aangesig tot aangesig met haar gesels. Hoewel Sy gesprek met haar nie maklik is nie, is Sy stem sag en Sy oë vriendelik. Vanuit Sy oorvloed gee Hy haar lewende water om haar ewige dors en omvattende ‘leegheid’ te vul.

 Die Messias raak die seer in haar aan en ontbloot dit. Hy openbaar aan haar die hart van die Vader. Hy beskou haar nie as onrein nie. Sy is Sy beelddraer. Hy is nie bang vir haar ‘onreinheid’ nie. Inteendeel, met Sy heiligheid, het Hy die mag om haar onreinheid te verdryf.

 Die Messias bring die Priester na haar toe om haar heeltemal en onvoorwaardelik skoon te was. Hy bring die Profeet na haar toe om die koningkryk van God aan haar te openbaar en haar vry te maak. Hy bring ook die Koning van hierdie koningkryk na haar toe om oor haar te heers. Hy bring die tempel van God na haar toe sodat sy Hom kan aanbid – in gees en in waarheid, met die verstand, en vanuit die hart!

 In hierdie ontmoeting raak Hy haar hart met Sy hart aan. Hy herstel haar identiteit en vernuwe haar gedagtes. Dit wat sy altyd van die Messias geglo het, is nou hier voor haar! Hier staan sy, in die teenwoordigheid van die lewende God!

 Hy lig haar swaar las (al haar skaam, pyn en gevoel van onwaardigheid) van haar af en neem dit op Homself. Hy ruil dit vir Sy juk wat lig is en wat vrede vir haar gemoed bring. Sy maak haar hart vir Hom oop en ontvang alles wat Hy met haar deel. Met hierdie ontmoeting ervaar sy volkome heling, vrymaking en genesing! Sy is die beelddraer van haar Messias.

 Sy is so oorval met vrede en vreugde dat sy oorloop daarvan, haar kruik agter laat om almal in haar dorp te gaan vertel wat met haar gebeur het. Sy vertel van haar ontmoeting met die water wat lewe gee; met die God wat sy met gees en met waarheid aanbid! Sy weet dat sy volkome aan Hom behoort en dat sy nuut gemaak is.

 Kan jy jouself vereenselwig met hierdie vrou? Kan jy haar ‘n naam gee?

 Ek bid vir jou daaglikse ontmoeting met Jesus sodat Hy jou kan verseker dat jy aan Hom behoort en dat jy waardig is.

*****

 Eleanor vat my nou ver terug. Ek weet nie waar en wanneer julle die Here ontmoet het nie, maar my eerste ontmoeting met die lewende God deur Sy Gees, sal ek nooit vergeet nie. Ek was ‘n tweedejaar student toe ds Dana die uitnodiging aan ons gebring het. Ek onthou wie langs my gesit het, ek onthou die kleur van my rok en ek onthou die reaksie van die eerste persoon teenoor wie ek getuig het …

 “Ek wonder hoe lank gaan dit hou,” het sy gesê!

 Ek self het gewonder hoe lank dit sou hou. Maar, deur die genade van die Here stap ek nog die pad, want God is getrou en die goeie werk wat Hy begin, dit maak Hy ook klaar. Elke keer wanneer ons Sy Woord lees, dan ontmoet ons weer, en so groei ons verhouding. Mag julle daaglikse ontmoetings met Hom tot groot seën wees vir julle, julle families en julle gemeenskappe.