Mariana is getroud met Herlu en bly in Engeland vir die afgelope vyf jaar. Sy is die stigter en besturende direkteur van Women at Work Online Ministries (‘n aanlyn vroue-bediening) asook Mariana Carroll Consulting (‘n organisasie wat spesialiseer in Strategie, Tegnologie, en Leierskap). Mariana streef om eendag voor ons Hemelse Vader te kan staan en te hoor: “Knap gedaan, my goeie en getroue dienskneg.” Mariana skryf …

 OP PAD SAAM MET JESUS!

 Ons het onlangs in een van ons W@W Aanlyn Bybelstudies na ’n boodskapreeks, A Better Way deur Craig Groeshel, gekyk en gevra wat dit beteken om elke dag saam met Jesus te stap. Daarom my vraag aan jou vandag: Ken jy die pad wat na ons Hemelse Vader en ’n ewigheid saam met Hom lei?

 In Johannes 14:4-6 lees ons, Julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan”. Thomas sê vir Hom, “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” Jesus sê vir hom, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”.

 Vir ons om die weg, of dan ’n pad, saam met Jesus te ken, beteken dat ons moet lewe en liefhê soos wat Hy gelewe en lief gehad het. Ons moet by Hom leer en daagliks saam met Hom wandel om Sy manier en gewoontes aan te leer.

 In die eerste eeu was Christene bekend as “mense van die Weg” (sien Handelinge 24:14). Sou ander na jou kyk en dink, hierdie persoon ken die Weg? Dit beteken dat ons lewens en ons wandel anders as dié van ons huidige kultuur moet lyk. Dit beteken dat ons geluk en vreugde ervaar in ’n wêreld waar angs en bekommernis oorheers. Ons sal vertrou dat God in beheer is van ons lewens en werklik die beste vir ons wil hê. Ons sal stop met rondjaag om saam met Jesus te loop en by Hom te leer hoe om meer en meer soos Hy te word.

 In sy boek, The Ruthless Elimination of Hurry – How to Stay Emotionally Healthy and Spiritually Alive in the Chaos of the Modern World deur John Mark Comer, noem hy dat die Bybel nooit beskryf hoe Jesus van een plek na ’n ander gehardloop het nie – hy het gestap, en op pad tyd gemaak om te stop as iemand Hom nodig gehad het. Waarom is dit dan dat ons elke dag van punt A na B jaag en steeds voel ons is altyd laat en nie tyd het vir die dinge wat werklik belangrik is nie?

 Hoe lyk jou lewe? Hoe lyk jou ritmes, gewoontes, die pas waarteen jy leef? Bring dit lewe of dood, geluk of hartseer, vrede of angs? Wat is dít wat jou weerhou om die weg/die pad saam met Jesus te stap?

 Jesus wil ons almal vandag opnuut uitnooi om saam met Hom te stap, om by Hom te leer, om Sy liefde en genade te ervaar, om in ’n nader verhouding met ons Hemelse Vader te leef, om werklik God se missie en doel vir ons lewens uit te leef en om teenwoordig te wees in die hier en nou – ingestel op waarheen die Heilige Gees ons lei.

 Indien jy meestal oorlaai, moeg, oorweldig, gestres, of moedeloos voel – asof daar net nie genoeg tyd in ’n dag is nie, of dat jy net nie goed genoeg is nie … uitgebrand op soek na wat werklik saak maak, asof jy werklik die pad duister geraak het … luister na wat Jesus in Matteus 11:28-30 sê (parafrase en vertaling uit The Message): “Is jy moeg? Uitgeput? Uitgebrand op godsdiens? Kom na My toe. Gaan weg saam met My en jy sal jou lewe herstel. Ek sal jou wys hoe om werklik te rus. Stap saam met My en werk saam met Mykyk hoe Ek dit doen. Leer die ongedwonge ritmes van genade. Ek sal niks swaar of sleg op jou neerlê nie. Hou geselskap met My en jy sal leer om vry en lig te lewe.”

 Jesus sê:

  • Kom na My toe en Ek sal herstel en rus in jou lewe bring;
  • Stap saam met My, kyk wat Ek doen, leer by My hoe om in die weg te wandel; en
  • Begin leef soos Ek, begin omgee soos Ek, begin liefhê soos Ek!

 Want dan sal ons Sy genade, liefde en vrede ervaar. Dan sal ons Sy verteenwoordigers hier op aarde kan wees.

 As ons werklik saam met Jesus elke tree van ons aardse bestaan wil stap, moet ons stilstaan en ons lewens en prioriteite ondersoek.

 Om ’n intieme verhouding met ons Vader God te hê, kom nie toevallig nie. Dit verg dissipline, dit verg dat ons, soos Jesus, tyd maak om in die teenwoordigheid van ons Vader te leef (sien Matteus 6:6). Dit beteken dat ons moet kies om elke dag saam met Jesus te wandel – sodat ons kan leef en liefhê en in volharding kan loop in ’n lewe naby God (sien 2 Petrus 1:3-11)! As ons werklik meer soos Jesus wil wees en binne Sy doel en wil wil lewe, moet ons meer tyd op pad saam met Hom spandeer – nie op ons eie kragte staatmaak vir die pad wat voor ons lê nie, maar Hom vra vir leiding, rigting en wysheid. Ons moet gefokus wees, intensioneel elke tree gee, ons lewens baseer op Sy Woord, bid sonder ophou, glo en 100% vertrou in dié Een wat dié weg, diéwaarheid en dié lewe is!

 “Deurdat ons Hom regtig ken, het Sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om Sy heerlikheid en goedheid te ontvang!” (2 Petrus 1:3 NLV)

 Ons nooi jou uit om as ‘n eerste stap op jou wandel met Jesus gebed ‘n prioriteit te maak. Women at Work Online Ministries (W@W) het ‘n daaglikse aanlyn gebedsbyeenkoms van Maandag tot Vrydag, vir 15 minute lank. ‘n Gasspreker deel ‘n bemoedigende boodskap waarna ons saam bid. Ontmoet gelowiges van reg oor die wêreld en beleef die krag van gebed in jou eie lewe! Skakel in via Zoom: 368 831 027 of gaan na www.womenatwork.online of https://www.facebook.com/WomenAtWorkMinistries vir meer inligting.