Vandag luister ons weer na Sophia, al vir 13 jaar getroud met Charl Steenberg. Hulle het twee seuns, Hendré in Graad 4 en Regardt in Graad 2. Sophia het regte studeer en praktiseer tans as ‘n Boedel Meester en Finansiële Adviseur in George in die mooie Suid-Kaap. Julle onthou sekerlik dat die vrou nie haar lippe aan pampoen sit nie, en dat sy lief is vir lees en skryf. Verder is sy onomwonne – haar battery word gelaai deur ander mense en ander se stories is haar kos. Vandag herinner Sophia ons aan hulle wat met oop harte en oop hande na buite leef – om te seën en te deel. Heel gepas is vandag se bemoediging dan …

OPGEDRA AAN UITDELERS! 

 Vroeg oggend is daar ‘n vergadering. Oudergewoonte kom hul nie met leë hande daar aan nie… Hulle bring — KOEK!!! Wrintie waar! Nannieskoepêla! 2 KOEKE!

 Daar is min dinge in die lewe wat my so opgewonde maak soos lekkernye. Snoepgoed. Eethappies. Nannatjies. Bederfies — soos KOEK. Veral my gunsteling, VLAKOEK!

 Ek het al ander mense dopgehou as ‘n bordtjie met ‘n sny koek voor hul neergesit word. Alles verander. Selfs die atmosfeer. Die gesig helder op. Die stoel word nader aan die tafel geskuif. Lippe word afgelek. Elke happie word geëet met ‘n groot glimlag. Ek hoef myself nie dop te hou nie… Ek lyk óók so!

 Daar is toe ‘n ander gewaarwording (behalwe die natuurlike opgewondenheid) as daar soetgoed in die vertrek is. Dis die waarneming van ander se gedrag en optrede toe die KOEK gedeel word.

 Ja, dit is net ‘n snytjie KOEK. Maar daardie snytjie KOEK het ‘n groot glimlag laat versprei oor sommiges se gesigte. Ander te ordentlik om nee dankie te sê (wie sê in elk geval nee vir KOEK?) en tog te dankbaar dat hul in die vreugde kon deel!

 Só as dit ‘n stuk KOEK moes vat om my vandag weer te laat besef dat ons met baie min ‘n groot verskil kan maak, wel, dan eet ek sommer môre wéér KOEK.

 Ek is oortuig dat die klein goedtjies ook tel. Moenie dat die wêreld jou anders oortuig nie. Dis wanneer ons die bietjie wat ons het, met ander deel of vir hul gee – waar groot goed gebeur, wat ‘n groot impak maak. Waar ‘klein’ nie gemeet kan word met die vreugde wat dit bring nie. So moenie dit gering ag nie.

 Ek is en sal altyd ‘n (uit)deler wees!

 Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.” ~ Lukas 3:11 ~

******

Waarlik Sophia, vandag skryf jy oor ‘n onderwerp na aan my hart en ene wat die Bybel regdeur die Ou en Nuwe Testament beklemtoon. Jesus is onomwonne daaroor in sy bergpredikasie – waaruit Sophia nou net aangehaal het.

 Regdeur Sy wandel met Sy dissipels vestig Jesus hulle aandag op diegene wat gee. In een van sekerlik die aangrypendste voorbeelde hiervan is Hy en sy dissipels by die tempel. Ek lees vir julle uit Markus 12: 41 – 44 “Jesus het regoor die offerkis gaan sit en gekyk hoe die skare hulle geld in die kis gooi. In die proses het baie welgesteldes groot bedrae geld ingegooi.

Toe kom daar ‘n brandarm weduwee en sy gooi net twee klein geldstukkies in. Daarop roep Jesus sy dissipels na Hom toe en sê vir hulle: “Weet vir seker, hierdie arm weduwee het meer in die offerkis gegooi as al die ander. Julle sien, almal het ingegooi vanuit hulle oorvloed, maar sy het, arm soos sy is, alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

 Die dissipels het hierdie lering van Jesus met groot vrug toegepas en die eerste kerk het dan hierdie besondere getuienis in Handelinge 4: 32 – 35. Niemand het opgetree asof sy besittings net sy eie was nie, hulle het alles gedeel wat hulle gehad het… Nie een van hulle het ‘n tekort gehad nie, want gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring en vir die apostels gegee. Die het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

 Paulus beklemtoon die belangrikheid van ruimhartigheid en herinner die gemeenteleiers van Efese in Handelinge 20:35b Onthou die woorde van die Here Jesus: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.’Gelowiges, kom ons leef dan so, en gaan deel uit – of dit nou koek of klere is, liefde of ondersteuning, huise, meubels of voertuie — maak nie saak nie. Solank ons goeie rentmeesters is van alles wat die Here aan ons toevertrou!