Propvol.Hoopvol.Stampvol.
Vandag luister ons na Sophia, al vir 13 jaar getroud met Charl Steenberg. Hulle het twee seuns, Hendré in Graad 4 en Regardt in Graad 2. Sophia het regte studeer en praktiseer tans as ‘n Boedel Meester en Finansiële Adviseur in George in die mooie Suid-Kaap. Behalwe dat die vrou nie haar lippe aan pampoen sit nie, is sy lief vir lees en skryf natuurlik. Sy is onomwonne – haar battery word gelaai deur ander mense en ander se stories is haar kos. Vandag luister ons na …
PROPVOL. HOOPVOL. STAMPVOL.
Vandag was ‘n VOL dag. KeelVOL. PynVOL. GatVOL. Tot teen aan die rand VOL. Tjok-en-blok-VOL. VOL dag!
Só VOL dat daar nie regtig kapasiteit is vir iets anders behalwe die VOL wat VOLOP is nie. VOL laat mens ongemaklik, swaar en mislik voel. VOL maak nie sommer plek vir iets anders nie. VOL skuif nie op nie. VOL roer nie. VOL sit sy volle gewig in. Jy wéét as VOL in die vertrek is. VOL laat hom nie ongesiens verbygaan nie. VOL is getik in bold, onderstreep, Arial font, 26 skrif grootte. VOL laat hom nie mis nie.
Maar iewers toe dit voel of ek gaan swig onder die gewig van TE VOL en TE VEEL, is daar ‘n briesie wat vanuit nêrens waai en Sy stem saamdra. Wat my kom vul en VOL maak … ‘n VOL wat lig en maklik is om te dra.
Ek ervaar ‘n emosie midde my VOL dag … Ek is HoopVOL. Nie hopeloos nie. Maar hoopVOL!!!
Skommel die woord hoopVOL bietjie in jou mond. Bol jou wange. Gorrel die letters tot heel agter in jou keel. En kyk of jy dit dan kan uitspoeg. Dit voel byna onmoontlik! Dit is asof dit in jou hart gaan nesskrop het. Jou wese gevul het toe jy dit onder jou tong gesit het. En dit reguit in jou bloedstroom opgeneem is, oppad na jou brein toe, oppad om jou gedagtes te vernuwe!
Dan dink ek dis hoogtyd (gepas in die Suid-Afrikaanse konteks – veral voordat die petrolprys dalk eersdaags weer opgaan) …
MaakVOL … met hoopVOL!!!
Nie bietjies-bietjies op ‘n slag nie.
PropVOL. StampVOL. HoopVOL!!!
Want jy is VOLmaak! Tot alles instaat (deur Hom wat jou krag gee). Pak dan elke dag, elke uitdaging, elke probleem, elke skeet, elke pyn, elke seer VOLstoom aan. Skep moed. Omdat jy VOLmoed is, is jy hoopVOL!!!
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! ~ Romeine 15:13 ~
*****
Ek weet nie van julle nie, maar Sophia se skrywe vandag het ‘n huppel in my siel en ‘n glimlag op my gesig gesit. Waarlik, mag dit ons inspireer om weer die VOLmaak, die stampVOL en die hoopVOL in ons eie lewens raak te sien. En as dit nie spontaan oor ons lippe tuimel nie, kom ons vra dan die Here om ons harte en oë aan te raak dat ons beter kan sien en verstaan. Mag dit nie net ‘n nuwe dankbaarheid losmaak binne ons nie, maar ons motiveer om die hoopVOL en al die ander VOL te gaan uitdeel aan die baie wat boomskraap leef. Soos ons uitdeel, het ons hierdie belofte, dat Hy weer sal volmaak, want staan daar nie geskryf wie ‘n ander se dors les, kry self ook genoeg te drinke nie?







