Prutpot of Drukkoker?
PRUTPOT OF DRUKKOKER
Herinneringe aan my ma se kombuis neem my terug na ‘n vrou wat huis en werk moes balanseer lank voor dit mode was. Sonder toegang tot vandag se moderne geriewe, het sy haar eie tydbesparende toestelle aangekaf om die lewe vir haarself te vergemaklik. Van almal was die drukkoker beslis haar gunsteling. Vroeë oggende en laatmiddae is dikwels onderbreek deur die silwer draak wat ‘n wolk stoom die lug ingeblaas het terwyl my ma behendig ‘n pot op die gasstoof geroer, radio geluister en tussendeur dringende werk vir die volgende dag voorberei het.
Ek het, stil-stil die silwer draak gehaat, altyd ontsenu deur die kragtige bol stoom wat hy uitgeasem het – ‘n geluid wat deur die dik mure van die ou huis weergalm en my droomkastele onseremonieel gestoomroller het. Ek was nog jonk toe ek finaal besluit het dat die dierasie nie my grootmentswêreld sou betreë nie. As getroude vrou het ek uiteindelik ‘n prutpot aangekaf, ene wat die kos teen ‘n konstante temperatuur laat gaar word. Die deksel wat die hitte en vog vasvang, laat die kos stadig kook, ‘n proses wat ongemerk en onopvallend plaasvind.
Gedurende die afgelope twee jaar het ek baie nagedink oor hierdie twee toestelle en hul verskillende metodes van kos gaar maak. Dit het tot my deurgedring dat hulle ’n tipe metafoor is vir verskeie persoonlikhede en hul unieke benaderings tot probleemoplossing en konflikhantering-. Ek het byvoorbeeld gekies om dinge anders as my ma te doen, en het ‘n alternatiewe manier gevind om stres, uitdagende situasies en mense te hanteer. Ons is immers verskillende mense, wat verskillende vragte dra, in verskillende tye leef en aan verskillende omstandighede blootgestel word. Uit die aard van die saak is ons benadering tot die lewe en sy uitdagings dus anders. Dis veral interessant wanneer ek sien hoe my twee dogters, wat ek partykeer “Fire and Ice” noem na aanleiding van hul haarkleur, probeer om hulle unieke stem op ‘n goddelik-wyse manier te vind midde nuwe uitdagings in die 21tigste eeu.
Tog bly die standaard en waarskuwing in God se woord dieselfde vir ons almal, want die gevaar lê nie per sy in die manier waarop ons die lewe aanpak nie, maar eerder die gesindhede waarmee ons dit doen asook die motiewe. Ons moet daarom ag gee op Sy waarskuwings en bedag wees op elke gevaar ten spyte van ons verskillende maniere van dink en doen. Ons jok vir onsself as ons dink dat een van hierdie benaderings beter is omdat dit ons moontlik kan vrywaar van versoeking of ons buite bereik van sonde plaas. Dit is ‘n leuen en daarom, wanneer die Bybel die volgende sê, moet ons aandagtig luister en elke opdrag met soberheid toepas!
- Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. (Markus 12:30)
- Soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir jou bygevoeg word. (Matteus 6:33)
- Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Markus 12:31)
- Word kwaad maar moenie sondig nie (Efesiërs 4:26 – 27)
- Jy moet jou vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg. (Matteus 5:43 – 48)
- Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. (Spreuke 3:5 – 6)
- Vergewe mekaar. Soos die Here jou vergewe het, so moet julle ook vergewe. (Kolossense 3:13)
Alhoewel dit altyd meer wys is om ‘n weldeurdagte en rasionele proses te volg, en alhoewel’n gelykmatige en stil gees in die Bybel hoog op prys gestel word, moet ons steeds waaksaam bly. Salemo verklaar onomwonne en reeds vroeg in Spreuke dat ons bo alles ons harte moet bewaar en dit meer as enigiets anders wat bewaar moet word. Net dan kan ons onverdeeld en doelgerig ‘n heilige lewenswandel nastreef, want daar staan tog immers geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
Vriende, of dalk moet ek sê drukkokers en prutpotte – mag die Here en Sy tydlose voorskrifte, soos vervat in die Woord, julle belyn en rig, hierdie maand en vir die res van 2025.
‘HONDERDDAG’
Dis iewers in Desember wat ek laatmiddag in die apteek inhardloop om ‘n voorskrif af te haal. Dit was ‘n laaannnggg dag teen die einde van ‘n laaannnggg jaar. Ek is nie lus vir gesels nie, maar tussen wag dat hulle ons adres op die rekenaar opspoor, raadpleeg ek my lysie, want ek kan nie bekostig om ‘n enkele iets te vergeet in een van die uitdagendste weke van die jaar nie. In die proses gee ek ‘n laaannnggg sug – harder as wat ek bedoel het en glad nie gemik teen die dienslewering nie. Die dame agter die toonbank kyk op en ek besef dit kan misverstaan word.
“Skuus,” glimlag ek verleë, “dit was ‘n laaannnggg dag en ‘n laaannnggg week!”
“Maar dis dan nou eers Dinsdag,” antwoord sy met ‘n ligte frons en een opgetrekte wenkbrou!”
Ek snak na my asem! “DINSDAG! blaker ek dit harder uit as wat ek bedoel het, want ek kan dit amper nie glo nie. Kan dit wees, dink ek verward, maar besef dis NET Dinsdag en dan mompel ek hardop, “Wel, dit voel soos HONDERDDAG!”
Sy kan die lag nie keer nie en die ander mense wat rondom my staan en wag vir hulle medisyne, kry dit ook nie reg om hulle geamuseerdheid weg te steek nie.
Verlede week en Donderdag, 9 Januarie, het ek weer so ‘n ‘HONDERDDAG’ beleef. Ek besef dis heel normaal en ons almal het ‘n storie of twee van dae wat hulle walle oorstroom. Tog is dit amper presies ‘n maand sedert my vorige ‘HONDERDDAG’ dink ek die nag waar ek rondrol. Dis spitstyd in my kop en my gedagtes sit vas in ‘n verkeersknoop wat teen slakkepas vorentoe kruip.
Ethnos het net die vorige dag, Woensdag, 8 Januarie amptelik begin. So skop ek my jaar af met twee langerige vergaderings op Carmel, die pragtige kampeerterrein op pad na Victoria baai wat ons gebruik as sendingopleiding en kantore. Op pad na my kar, rondom middagete, keer ‘n wildvreemde gas my voor.
Met ‘n swaar Engels/Duitse aksent sê sy, “I have been watching you today and the Lord told me to tell you that REST IS YOUR WEAPON!” Ek is goed vertroud met hierdie aanhaling van Elizabeth Elliot, “Rest is a weapon given to us by God,” maar om dit so direk van ‘n vreemdeling te ontvang op die eerste dag van werk, het my onverhoeds betrap. Sy moes die verrassing op my gesig gesien het en met ‘n breë engelglimlag en sagte blou oë groet sy my dan met “Shabbat Shalom.” Ons gesels vlugtig ‘n paar woorde voor ons in teenoorgestelde rigtings uitmekar spat.
Die Here kon my nie meer duidelik of direk gewaarsku het nie, besef ek laat die nag op my eerste HONDERDDAG en tweede werksdag van die jaar. Luister gaan ek moet LUISTER en gehoorsaam wees gaan ek GEHOORSAAM MOET WEES, want HONDERDDAG is gelyk aan ONDERSTEBOLDER DAG is gelyk aan seer kry, foute maak en sonde doen!
Ek weet nie wat is jou wapen nie, dalk is dit aanbiddingsliedere luister, sing of speel. Dalk is gebed. Dalk is dit stil wees of stil bly. Dalk is dit eenvoud. Maak nie saak wat die Here vir jou saggies fluister of helder oordag hardop sê nie, kom ons wees verantwoordbaar teenoor mekaar en gee ernstig gehoor aan die Woord en Waarskuwings van die Here.
copyrighty avivid life | all rights reserved 2025 | proudly managed by YCIK Digital










