PSALM 130 EN JONATHAN AITKEN

 In 1995 bedank Jonathan Aitken, hoofsekretaris van die tesourie in die Kabinet van John Major uit die konserwatiewe regering weens ‘n lastersaak met The Guardian. Die koerant het hom daarvan beskuldig dat hy ‘n vakansie in Parys in ‘n hotel deurgebring het wat deur ‘n Arabier betaal is aan wie hy ‘n wapenskontrak gegee het. Jonathan Aitken het dit ontken, hof toe gegaan, die koerant vir laster gedagvaar en die saak verloor. Hy is tot agtien maande in Belmarsh, een van die berugste tronke in Londen, gevonnis.

 Hy het onder andere hierdie tyd gebruik om sy memoires te skryf. Die eerste, Pride and Perjury is vinnig gevolg deur Porridge and Passion. Sy memoires dek sy sy meteoriese opgang as ‘n getroude, ryk kabinetsminister, geoormerk as toekomstige leier van die konserwatiewe party asook sy val as ‘n geskeide, bankrot en veroordeelde gevange. In sy tweede boek skryf hy onder andere breedvoerig oor sy bekering in die tronk.

 Na sy vrylating het hy vir twee jaar teologie gestudeer en daarna verskeie Christelike boeke geskryf, onder andere Psalms for People Under Pressure. Dit is in laasgenoemde boek waar hy vertel hoe baie Psalm 130 vir hom beteken. Ek haal direk uit sy boek aan…

 “Daar was ‘n voorval reg aan die einde van my tronkstraf wat die universele krag van die Psalms bevestig het. My vriende in ons gebeds of omgeegroep, het my gevra om twee weke voor my vrylatingsdatum ‘n praatjie oor Psalm 130 te gee. Die geleentheid is op verskeie kennisgewingborde geadverteer en het gevolglik ‘n wyer groepie getrek as die gewone Christene. Daar was opregte verbasing toe Big Face, net voor ek moes begin praat, ingestap kom. Elke tronk het ‘n hoofleier of dan ‘n ‘Big Face.’ Die term dateer uit die tyd toe berugte misdadigers se gesigte op plakkate verskyn het waarop ‘GESOEK’ in groot vetgedrukte letters bokant hulle gesigte aangebring is. Deesdae word dit net vir die mees gevreesde en wreedaardigste gevangenes in die tronk gebruik. Ons ‘Big Face’ was ‘n ou-wêreldse bendeleier… Sy onverwagse opwagting by ons omgeegroep het verskeie mense duidelik senuweeagtig gemaak, om nie die minste van die spreker te praat nie.

 In my openingsgedagtes het ek onder andere genoem dat Psalm 130 ‘n groot impak op my gemaak het gedurende my tronkstraf. Ek het ook genoem dat ek glo dat dit ‘n groot impak kan maak op enige iemand wat deur ‘n donker en moeilike tyd gaan. Ek het ook genoem dat dit nie net mý gunsteling Psalm was nie, maar dat dit toevallig ook die gunsteling Psalm van Augustinus, Luther en Calvyn was. Ons ‘Big Face’ het ernstig geknik.

 Teen die einde van my eksegese het ek opgemerk dat ‘Big Face’ sigbaar geroer was. Die trane het oor sy wange geloop terwyl hy met diepe konsentrasie geluister het. Aan die einde van gebed, het sy dreunende “Amen” duidelik bo die ander uitgestyg. ’n Paar oomblikke later het hy my eenkant toe getrek. ‘Jonh-o,” het hy gesê, “Daardie Psalm was pragtig, regtig mooi. Dit het my hart geraak. Daarom wil ek jou ‘n guns vra. Dink jy jy kan môreaand na my sel toe kom en hierdie praatjie daar herhaal? Dit sal baie vir my maats beteken.’ Ek moes bietjie angstig gelyk het oor die vooruitsig om ‘n aand in die geselskap van ‘Big Face’ en sy makkers deur te bring. Hy het duidelik my huiwering aangevoel en bygevoeg —“En, John-o, om jou op jou gemak te stel, hoekom bring jy nie ‘n paar van jou maters saam nie? Daardie pelle van jou wat net so baie van die Psalms hou. Augustus, en die ander twee jy genoem het wat saam met jou in die B-vleuel is.” Alhoewel dit uit die aard van die saak nie vir my moontlik was om Augustinus, Calvyn en Luther saam te bring nie, was my uiteensetting van My aanbieding van Psalm 130 in ‘Big Face’ se sel was ‘n groot sukses. Destyds het dit my natuurlik verras, maar noudat ek die Psalms beter ken, is hulle vermoë om op ‘n wye verskeidenheid mense en situasies van toepassing te wees, minder van ‘n verrassing. Ek wens ek het hulle geestelike rykdom vroeër in my lewe ontdek.”

 Vir my was dit veral verblydend om te lees dat Aitken op 30 Junie 2018 in die Kerk van Engeland as diaken georden is. Sedertdien het hy as ‘n vrywillige predikant by St Matthew’s Westminster en as ‘n kapelaan by Pentonville-gevangenis gedien. Hy het ook verskeie biografieë oor bekende politieke figure die lig laat sien.

‘HONDERDDAG’

 Dis iewers in Desember wat ek laatmiddag in die apteek inhardloop om ‘n voorskrif af te haal. Dit was ‘n laaannnggg dag teen die einde van ‘n laaannnggg jaar.  Ek is nie lus vir gesels nie, maar tussen wag dat hulle ons adres op die rekenaar opspoor, raadpleeg ek my lysie, want ek kan nie bekostig om ‘n enkele iets te vergeet in een van die uitdagendste weke van die jaar nie. In die proses gee ek ‘n laaannnggg sug – harder as wat ek bedoel het en glad nie gemik teen die dienslewering nie. Die dame agter die toonbank kyk op en ek besef dit kan misverstaan word.

 “Skuus,” glimlag ek verleë, “dit was ‘n laaannnggg dag en ‘n laaannnggg week!”

 “Maar dis dan nou eers Dinsdag,” antwoord sy met ‘n ligte frons en een opgetrekte wenkbrou!”

 Ek snak na my asem! “DINSDAG! blaker ek dit harder uit as wat ek bedoel het, want ek kan dit amper nie glo nie. Kan dit wees, dink ek verward, maar besef dis NET Dinsdag en dan mompel ek hardop, “Wel, dit voel soos HONDERDDAG!”

 Sy kan die lag nie keer nie en die ander mense wat rondom my staan en wag vir hulle medisyne, kry dit ook nie reg om hulle geamuseerdheid weg te steek nie.

 Verlede week en Donderdag, 9 Januarie, het ek weer so ‘n ‘HONDERDDAG’ beleef. Ek besef dis heel normaal en ons almal het ‘n storie of twee van dae wat hulle walle oorstroom. Tog is dit amper presies ‘n maand sedert my vorige ‘HONDERDDAG’ dink ek die nag waar ek rondrol. Dis spitstyd in my kop en my gedagtes sit vas in ‘n verkeersknoop wat teen slakkepas vorentoe kruip.

 Ethnos het net die vorige dag, Woensdag, 8 Januarie amptelik begin. So skop ek my jaar af met twee langerige vergaderings op Carmel, die pragtige kampeerterrein op pad na Victoria baai wat ons gebruik as sendingopleiding en kantore. Op pad na my kar, rondom middagete, keer ‘n wildvreemde gas my voor. 

 Met ‘n swaar Engels/Duitse aksent sê sy, “I have been watching you today and the Lord told me to tell you that REST IS YOUR WEAPON!” Ek is goed vertroud met hierdie aanhaling van Elizabeth Elliot, “Rest is a weapon given to us by God,” maar om dit so direk van ‘n vreemdeling te ontvang op die eerste dag van werk, het my onverhoeds betrap. Sy moes die verrassing op my gesig gesien het en met ‘n breë engelglimlag en sagte blou oë groet sy my dan met “Shabbat Shalom.” Ons gesels vlugtig ‘n paar woorde voor ons in teenoorgestelde rigtings uitmekar spat. 

 Die Here kon my nie meer duidelik of direk gewaarsku het nie, besef ek laat die nag op my eerste HONDERDDAG en tweede werksdag van die jaar. Luister gaan ek moet LUISTER en gehoorsaam wees gaan ek GEHOORSAAM MOET WEES, want HONDERDDAG is gelyk aan ONDERSTEBOLDER DAG is gelyk aan seer kry, foute maak en sonde doen!

 Ek weet nie wat is jou wapen nie, dalk is dit aanbiddingsliedere luister, sing of speel. Dalk is gebed. Dalk is dit stil wees of stil bly. Dalk is dit eenvoud. Maak nie saak wat die Here vir jou saggies fluister of helder oordag hardop sê nie, kom ons wees verantwoordbaar teenoor mekaar en gee ernstig gehoor aan die Woord en Waarskuwings van die Here.

 

copyrighty avivid life | all rights reserved 2025 | proudly managed by YCIK Digital