Seisoene
Thea Castles, vrou, ma, eggenote en onbeskaamde boekvraat, is vier jaar gelede deur die Here na ‘n pragtige ou plaashuis buite die dorpie Friemersheim gelei. Hier het die Here haar geleer van stilword in liggaam en gees en die vreugde van absolute afhanklikheid van Hom. Vandag gesels sy met ons oor…
SEISOENE
So met die bewuswording van die seisoen wat besig is om te draai, sit ek onlangs en tob oor hoe belangrik die seisoene in ons lewens is.
Seisoene in die natuur bring die opgewondenheid van groei of, afsluiting met die vooruitsig van rus, met tussen-in tye waar ons geleentheid gegun word om gereed te maak vir die volgende seisoen. Soms voel ‘n seisoen of dit nie einde gaan kry nie. In die winter voel dit soms of die koue in my bene inkruip en net nie wil weggaan nie. In die somer is die hitte weer party dae so oorweldigend, dat ek skoon kort van asem raak en dan verlang ek kwansuis terug na die winterkoue.
So is die seisoene in ons lewens ook. Soms verras die lewe ‘n mens met emosionele of geestelike groei soos ‘n pragtige lente en dan leef mens met die uitbundige vreugde van nuwe ervaringe en groei in fasette van jou lewe wat jou met dankbaarheid en liefde vul. In lente tye is dit maklik om op te staan, maklik om vriendelik en geduldig te wees, makliker om ligter reënbuie en lou-warm dae te geniet.
Maar dan is daar die seisoene van afsluiting en soms dood, dalk ‘n finansiële winter waarin mens skaarste beleef, of die dood van ‘n geliefde wat mens se hele wêreld laat ineenstort. Gedurende winter tye in mens se lewe is dit soms moeilik om op te staan, waar die gemak van ‘n knus warm bed of “comfort zone” moeilik is om agter te laat.
Soms beleef mens iets wat voel soos ‘n vernietigende veldbrand wat deur jou lewe woed en jou geskroei en hopeloos agterlaat. Party winters kan voel of dit vir jare en jare aanhou, ander voel weer soos seisoenale depressie.
As ek terugkyk oor die seisoene van my lewe, herken ek die korter lentes- en herfsseiesoene ter voorbereiding van die somers en winters wat kom. Wat ek ook duidelik sien is dat dieselfde Skepper wat in sy alwysheid die seisoene van die natuur geskep en die ritme daarvan bepaal, ook die alomteenwoordige krag in my lewe is. Deur die winter van ‘n egskeiding het hy my vasgehou en beskerm en na sewe jaar van rus en herstel, het hy vir my ‘n lente en somer van nuwe liefde laat beleef.
Na die dood van ‘n ouer wat soos ‘n veldbrand skielik en vernietigend deur my lewe gewoed het, het Hy my getroos en vasgehou.
Vanjaar wil ek intensioneel en met dankbaarheid terugkyk oor die seisoene van my lewe. Dankie Here vir elke seisoen! Dankie vir U konstante liefde en sorg midde verandering. Dankie vir die winters van swaarkry, die vreugde-beloftes van lente en geseënde oeste van somers. Dankie dat ek kan rus en groei onder U vlerke met die wete dat U in beheer is van elke haar op my kop en elke sekonde van my lewe. Amen







